top of page
  • Uitmelkbos

CAN-CAN SONDER KOUSBAND



Die enorme Kloppers op George.

‘n Vrystaatse vriend het die beroemde Bloemfonteinse afdelingswinkel Kloppers die volgende uitsonderlike getuigskrif gegee: Sy vrou kan enigiets koop wat haar hart begeer mits sy dit by Kloppers koop. Daardie vertroue en  lojaliteit van die gemeenskap is die resultaat van ‘n enorme verskeidenheid kwaliteitsprodukte, mededingende pryse, betroubare diens en intensiewe gemeenskapsbetrokkenheid van die winkel wat die legendariese wyle Willem Klopper se monument is.

In Bloemfontein was ek en Tokkie ook oortuigde Kloppersmense.  Yskas, stoof,  vrieskas, wasmasjien, radio, horlosies, messegoed, tuinmeubels, kamera, verkyker, alles, en meer,  kom uit Kloppers.

In later jare het Kloppers sy wortels ook in die Suid-Kaap kom inslaan.  Op George (Yorkweg-afrit) is ‘n reuse-kompleks wat lyk of jy ‘n makro-Boeing daarin kan parkeer.  Ons mis nie ‘n geleentheid om stadig, al kuierend, deur daardie winkel met sy sale vol begeerlike produkte van elke denkbare soort te stap as ons in daardie wêreld kom nie.

Saterdag was ons weer in Kloppers.  Lekker met Willem Klopper gesels wat saam met sy broers die reuse-nalatenskap van hul vader in stand hou en steeds uitbou.  (Een kenmerk van Kloppers, terloops, is dat base en klase presies dieselfde uniform dra. Niks sal verklap dat Willem die baas is as hy op die vloer rondbeweeg nie.  Hy sal dit ook nie benede hom ag om die simpelste  navraag vriendelik te beantwoord nie.)

Terwyl ons die keurige voorraad so loop en deurkyk, word my vrou deur ‘n brandende nostalgie gepak. Sy soek Willem met ‘n seer hart om hom van haar kennismaking met Kloppers in 1966 te vertel.  Ongelukkig het hy soos ‘n groot speld verdwyn. Nou vertel ek maar hier.

Die storie begin die personeelkamer van die Laerskool Wilgehof waar die LO-onderwyseres Elsa Lourens van haar vroulike kollegas die oggend verras deur haar rok hoog op te lig – darem nadat sy seker gemaak het daar is geen man in in sig nie.

Wat die versamelde juffroue sien, vervul hulle met opgewondenheid – lang kouse sonder bandjies, rekke, gespes en dinge.  Dis broekiekouse, verduidelik Elsa. By Kloppers gekoop, daar in Hangerstraat.

Die middag ken Tokkie en die ander onderwyseresse net een pad: Kloppers toe.  Die volgende oggend het almal hul splinternuwe broekiekouse aan.  Hulle brand om vir mekaar te wys.  Een moet “kywie” hou.  Toe lig die klomp hul rokke soos wafferse can-can-danseresse. Net Offenbach het ontbreek, anders het hulle sweerlik hoog geskop.

Tokkie weier om vir hierdie grysaard te poseer vir ‘n foto – selfs met die belofte dat hy haar gesig sal wegsny om haar identiteit te bekerm. Maar hy hoor darem vrouedinge wat hy nooit geweet het nie. Soos hoe gemaak is as die een been sou leer en die geldjies maar skraps is. Sny dit af. Dra die goeters oor mekaar.  Was steeds strate geriefliker as die ou soort sykous, rapporteer my vrou.

Reken net dat Kloppers nou juis op daardie intieme manier tot haar lewe sou toetree, en dat sy na 48 jaar feitlik nog dag en datum onthou. Vroue!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page