top of page
  • Uitmelkbos

NUWE JAAR, NUWE EEU

OM MIDDERNAG, 31 Desember 1999, het die 20ste eeu tot ’n einde gekom.. Wereldwyd is asem opgehou oor potensiële chaos in die rekenaarbedryf wat alles van lugvaart tot die bankwese ernstig kon belemmer, indien nie in duie laat stort nie.

Die Y2K-probleem is dit genoem, of die Y2K-virus, of die Y2K-fout.Wat ook al die naam, swartgalliges het net rampspoed voorsien.

Ek en myne het ons gewone gang gegaan, oortuig dat die slim mense wat van bemande maanreise tot selfone kan uitdink en maak werk, ook die oorgang tot die nuwe eeu, en die komplikasies daarvan, sal kan uitsorteer.

Op ons gras op Melkbos het ons die aand ‘n klompie vuurtjies aangesteek en allerlei potjies gestook: beesstert, hoender, pasta en wat nog. Sowat 20 gaste het die jaar 2000 saam met ons ingewag: kinders, kollegas en vriende.

Kollega Andrew Marais het ‘n enorme bottel vonkelwyn uit Stellenbosch saamgebring – aansienlik groter as die gewone magnum. Ek is onseker hoe groot is ‘n rehobeam, balthasar of nebukadneser. Glo wel dit was een van daardie drie groot menere.

Teen 23:00 is die potjies na binne gebring, in die binnetuinetjie in ‘n ry gepak en die seen gevra, Toe lê ons weg.

Ná ete het ons op afwesige buurman Kosie Olivier se stoep gaan bondel – my muur was nog nie gebou nie – en nekke gerek vir die indrukwekkende vuurwerk-skouspel oorkant Tafelbaai by die Waterfront.Presies om 24:00 het die proppe geskiet: Andrew se grote en die gewones van 750 mm wat ook op die ys gewag het.

Ons het glasies geklink; ons het ook mekaar – sonder vrese vir allerlei variante van onbeteuelbare virsusse – om die nek geval en ‘n voorspoedige nuwe eeu toegewens.Toe die gaste teen 01:00 op 1 Januarie 2001 begin aanstaltes maak, was die wêreld na ons wete nog soos hy teen 23:59 op 31 Desember was. Niks het tot stilstand geknars, uit die lug getuimel of in die see verdwyn nie.

Gelukkig was dit steeds die geval toe ons die volgende oggend wakker word. Het ons verlig gevoel? Nie eintlik nie, want ons was nie juis onder die bekommerdes nie. Oral ter wêreld moet egter baie verligte mense van vreugde rondgedans het.

Maar dit is nie hieroor wat ek wil skryf nie. My storie is dat hierdie geskiedkundige een werklik die enigste 1 Januarie is wat ek in my 81 jaar wawyd-wakker om middernag verwelkom het, so ver ek kan onthou Al ander 80 was ek in die bed, meesal diepin die arms van Morpheus.

Ook met 1 Januarie 2022 het ek eers kennis gemaak toe Tokkie vanoggend my oggendkoffie bring – helaas sonder my koerant. Op Nuwejaarsdag verskyn ie Burger mos nie. Ewenwel, ek het haar toe ‘n gelukkige nuwe jaar toegewens. Dit doen ek nou ook vir lesers van hierdie stukkie op De Wet Potgieter se lekker Nagkantoorblad.(Ek knoop aan by gewilde Westerse beskouings aangaande die nuwe millennium. Tegnies gesproke het die nuwe millennium glo eers op 1 Januarie 2001 begin.

12 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page