top of page

Woorde wek

Uitmelkbos

Koljander, deur Carié Maas. Resensie: Christell Stander. (Rapport Boeke) ‘n Lekker resensie: Stander toon die soort agting wat ‘n resensent vir die debuutwenner van ‘n romanwedstryd moet toon deurdat sy die roman met erns ontleed. En met die kundigheid van ‘n geoefende resensent werk sy skraps met verhaal-inligting op twee maniere, wat ‘n soort broeiende nuuskierigheid by mens wek. Sy gee om mee te begin nie detail-inligting oor die ongeluk wat die verhaal in ‘n rigting stuur en al die karakters beïnvloed nie. Voorts rig sy haar nooit indringend tot die tekstuur van die verhaal nie en dui net die kernoomblikke en wendings aan. ‘n Mens voel jy weet wat in hierdie boek gebeur, maar jy sal bars om in noukeurighede in te gaan tydens ‘n boekklubbyeenkoms as die resensie al is wat jy gelees het. Jy wil weet wat gebeur het, daarvoor sorg Stander in breë trekke. Tog is haar analise baie fyn, en laat sy ‘n mens met geen onsekerheid oor die redes hoekom Koljander ‘n prysenswaardige debuut is nie. Mens kan voorsien dat Stander met Maas se volgende werk die fokus sal verskuif na die eienskape van die skryfwerk self, na die retoriese krag of gebrek daaraan. Maar vir ‘n eerstelingwerk gee hierdie resensie die volwasse aanpak waarop enige nuweling net positief kan reageer.

Trekkerkinders: Kom trek saam met dapper kinders van die Groot Trek 1835-1838, deur Danie Langner. Resensie: Fransjohan Pretorius (Rapport Boeke) Hier in die wonderdae van die Gupta/Zuma-regime is dit maklik om te vergeet dat Afrikaner-nasionalisme eens hoog gebloei het. Fransjohan Pretorius vra indringende vrae oor die relevansie van ‘n publikasie wat daardie nasietrots wil aanwakker vir die moderne leser, en sy slotsom, naamlik dat dit eensydig is en net die edele elemente beklemtoon, behoort enige leser te bewapen met genoeg skeptisisme om die lees van só ‘n publikasie gebalanseerd te kan benader.

As die wind kom draai, deur Hans du Plessis. Resensent: Malene Breytenbach. (Rapport Boeke) Die verwronge beeld oor die trekkers (Voor- of wat die geval ook mog wees) wat baie lank onder Afrikaners geheers het, is dít waarteen Fransjohan Pretorius dit het in sy resensie van Trekkerkinders. Malene Breytenbach se resensie van As die wind kom draai beklemtoon weer die historiese basis waarop Hans du Plessis sy roman gebou het – ‘n bevestiging, as mens dit nodig het, van die mate waarin daar vanuit skrywersgeledere steeds geprobeer word om die drogbeelde van die ou soort geskiedskrywing tot niet te maak. Sy verklap té veel van die verhaal, maar haar tematiese taksering is foutloos.

Trek, deur Winnie Rust. Resensie: Annemarie van Niekerk. (Rapport Boeke) Mens kan nie anders as ‘n lekker ironiese rukking te beleef by die lees van hierdie resensie nie. Annemarie van Niekerk sit in Europa, waarvandaan die Hervormings-komponent van die Suid-Afrikaanse trekgeestiges gekom het. En sy is lank genoeg uit die land om te besluit om die roman te bespreek uit ‘n verskeidenheid hoeke: konteks, die trek-verskynsel, die geskiedenis van die dorp Wellington, die struktuur, die roman as variant van Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena. Ek is seker as ‘n plaaslike resensent hierdie roman brspreek het, sou dit die meeste klem laat val het op die kern van die verhaal, oor dit wat dertig jaar gelede bekend gestaan het as “ontug” (‘n verhouding tussen ‘n bruin en wit persoon). Ek geniet Van Niekerk se benadering, en wens sy het meer ruimte gehad om die band met Poppie Nongena meer uitvoerig te kon behandel.

So was dit – stories van gister en vandag, deur Johan van Wyk. Resensie: Riette Rust (Boeke24) Hierdie resensie laat my sommer baie oud voel. Daar was ‘n tyd, wat my betref nie te lank gelede nie, maar skynbaar wel bitter lank terug, toe Vrystaters hulle nie die Volksblad kon indink sonder Johan van Wyk nie. Kapenaars het altyd gespog met W.O. Kühne, Sondagkoerantlesers met Rykie van Reenen, maar só groot was die aanhang van Johan van Wyk se Stop van myne-rubriek dat daar gesê is dat die Volksblad sou sluit die dag dat hy aftree. En hier kom Riette Rust met ‘n resensie waarin sy krediet gee aan sy Kaapse geboorteplek, Calvinia, maar geen woord melding van sy Vrystaatse sielswêreld nie, en niks oor daardie wonderlike rubriek nie. Só Vrystaats dat hy op Hartenbos gaan vakansie hou het. In wese is dit ‘n deeglike resensie, geeesdriftig, maar ‘n resensent soos Rust moet onthou dat al woon ons nie meer in die Vrystaat nie, is die Vrystaatse diaspora verskeie kommando’s sterk.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Commenti


bottom of page