top of page
  • Uitmelkbos

TEKEN NET GOU HIER, TOE!


Oor handtekeninge en die waarde daarvan wonder ek al dae lank nadat my oog geval het op ‘n berigge in die koerant oor die een of ander getekende rugbyprogram wat vir ‘n frisserige bedraggie in Engeland opgeveil is.

Ek wonder onder meer waar sou die stokperdie filografie – die versameling van handtekeninge – vandaan kom. Wat maak ‘n beroemde se handtekening so spesiaal en gesog dat selfs groot mense hulle soms soos kinders gedra om ‘n spesifieke handtekening te bekom?

Sal ek ooit vergeet die dag met die ondertekening van die Verdrag van Nkomati in ‘n tent naby die Mosambiekse grens? Wagte wou my en prof. Wynand Mouton by die formele feesmaal voorkeer, maar hy was vasbeslote om by P.W. Botha en Samora Machel se tafel te kom ten einde, as aandenking, hul handtekeninge op die amptelike dokument te kry. Uiteindelik roep Botha ons toe, stel ons aan die Mosambiekse president voor as sy vriende, en help dat ons kry wat ons soek.

Prof. Mouton was opgewonde soos ‘n seuntjie toe hy daardie twee handtekeninge kry. Hy was toe rektor van die Vrystaatse Universiteit en voorsitter van die SAUK-Raad. Die uwe was redakteur van Die Volksblad.

Een ding van n handtekening is natuurlik dat dit iets uniek aan ‘n mens is. Kenners lees in daardie swierige pennestreep, sierlike kalligrafiese meesterstuk of amper onleesbare gekrap veel oor jou opvoeding, karaktertrekke, gesondheid en nog wat.

Net drie voorbeelde:

Ek lees in die Wikipdeia op die internet die Blues-sanger John Lee Hooker (ken die man nie) het ‘n beperkte opvoeding gehad. Sy handtekening verklap dit. Die bokser Muhammad Ali se Parkinson’s-siekte en die gevorderheid daarvan kan jy aan sy handtekening bepaal. Die Amerikaanze Indiane-hoofman Geronimo het geen konsep van die alfabet gehad nie; hy het sy handtekening soos ‘n prentjie geteken.


Party mense se handtekening verander heelwat gedurende hul leeftyd. John F. Kennedy‘s s’n het amper sommer elke keer as hy teken anders daar uitgesien! Sulke verkleurmannetjie-gewoontes moet die ontleders nogal laat kopkrap.

‘n Tweede ding van ‘n handtekening is dat jy dit vir iemand kan present gee vir wie dit baie beteken sonder dat dit jou iets kos – net die bietjie moeite om ‘n pen oop te skroef. (Maar wag, moenie dink dat alle sogenaamde “celebrities” hul handtekeninge verniet uitdeel nie; vir party moet jy glo taamlik opdok!)

Hoe beroemder jy is, des te gesogter (waardevoller?) is jou handtekening vanselfsprekend. Maar die dokument waarop die handtekening voorkom, kan natuurlik in sigself groot historiese of ander waarde hê. Ek sien, ook op die internet, ‘n sekere garde beroemde skoonhede verkwansel hul handtekeninge op kordate kaalbasfoto’s van hulleself. Party teken strategies om darem ietsie te bedek: ander teken aspris so dat die geheeluitsig geensins belemmer word nie!

Teen my kroegtoonbank hang ‘n geraamde spyskaart van die sogenaamde “Aand van die kapteins” in Kaapstad se Mount Nelsonhotel op Woensdag 24 Mei 1995, die vooraand van die Rubywêreldbekerroernooi van daardie jaar wat Joel Stransky later op Ellispark vir die Springbokke met ‘n roemryke skepskop beklink het.

Op daardie spyskaart is die handtekenminge van digby veertig oud-Springbokke wat die dinee bygewoon het. Kapteins wat geteken het, is Johan Claassen (my oud-onderwyser op Volkies, Potchefstroom), Avril Malan, Abè Malan, Roy Dryburgh, Tommy Bedford, Jannie Breedt, Tiaan Strauss, Mornè du Plessis, Nelie Smith, Dawie de Villiers, Basie Viviers, Naas Botha, Wynand Claassen, Stephen Fry, Piet Greyling, Hannes Marais, Theuns Stofberg, Des van Jaarsveldt en Divan Serfontein.

Die lys is nie naasteny chronologies nie en dalk onvolledig; party ouens se handtekeninge ontsyfer jy maar moeilik, veral namate ‘n kuieraand vorder! Maar dis ‘n gedugte lys, hoor! Dan spog my spyskaart boonop met die handtekeninge van rugbylegendes soos Frik du Preez, Mannetjies Roux, H.O. de Villiers, Ryk van Schoor, Tom van Vollenhoven en andere.

Die handtekeninge is versamel deur my vriend Herman le Roux wat op sy dag sportredakteur van Beeld en Die Volksblad was en deur dr. Danie Craven uitgesonder is as een van die beste. Hy het van tafel tot tafel geloop en met sy kenmerkende deeglikheid niemand oorgeslaan nie.

Een Bok het net betyds geteken voordat die geselligheid van die saamkuier voor die ete hom ingehaal het en hy na sy kamer gehelp moes word. Ons noem maar nie die arme ou se naam nie.

Net twee sulke volledig getekende spyskaarte bestaan, so ver ek weet:: Herman syne en myne. Weens die uniekheid moet hulle seker ‘n taamlike geldwaarde hê. Na die nuus oor daardie veiling in Engeland wonder ek in alle eerlikheid ook oor daardie aspek, maar ek gaan liewer nie die moeite doen om uit te vind nie. Ek soek ook nie hier ‘n bod nie, dankie (tensy dit ‘n buitensporigheid is). Ai, gierigheid is ‘n nare streep by ‘n mens.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

コメント


bottom of page