top of page
  • Izak de Vries

Die dag toe ek my hare losgemaak het


Nee, ek het nie hare om los te maak nie. Ek het die ander dag Willemien Brümmer se kortverhaalbundel, Die dag toe ek my hare losgemaak het, op die vliegtuig sit en lees, en het dit uiteindelik vroegoggend in my hotelkamer klaar gelees.

Ek is regtig beïndruk.

Daar is twaalf kortverhale in dié bundel, maar elkeen vertel (in chronologiese volgorde) die storie van Mia – vanaf haar kleindogtertjiejare, tot haar eie verstaan van ma-wees.

Sy gaan veel verder as wat ek met Byna Liefde gemaak het – haar boek draai werklik volledig om die enkele karakter, Mia, se lewe. Tog is dit nie ’n roman nie, dis werklik twaalf verhale wat elkeen sterk op hulle eie staan.

Ek wil ook sê, Willemien Brümmer onderspeel en grawe in die psige. Waar ek opsetlik die grense na die tydskrifverhaal en die “liefdesverhaal” probeer oopbreek het, kom Willemien en toon hoe ’n meer tradisionele kortverhaal terughou, tart, en nooit heeltemal alles uithaal en wys nie.

Ek dink sy doen dit bitter goed.

Daar is heelwat seks in die verhale, maar dit word óók onderspeel. Wat egter telkens oopgeskryf word, is die intense krag van gesinsbande en die gepaardgaande krag van die stories wat ons mekaar vertel.

Bigbigjoe, dis ’n moet vir jou. Daar is heelwat verwysings in na die menslike psige, en die goed wat soms padgee in jou gemoed. Wees gewaarsku: My vrou het die verhale ontstellend gevind. Sy is ook ’n medikus en ...

Dis nie maklike verhale nie, maar ek het lanklaas ’n bundel verhale gelees wat so netjies saamwerk, so fyn waargeneem word, en so subtiel jou skene onder jou uitskop.

As jy wil sien hoe die tradisionele kortverhaal werk, koop die bundel.

André Brink stem saam, kyk hier na sy resensie in Die Burger..

Verder kan julle gerus hierdie gesprek op LitNet lees. (Daar is ook skakels na baie positiewe resensies in Beeld en Volksblad onder aan die gesprek.)

25 views

Recent Posts

See All

Kommentare


bottom of page