top of page
  • Izak de Vries

Ena Murray deur die oë van ander

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015

Alle foto's deur Susan Bloemhof Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was die nuus daar: “Rus in vrede Tannie Ena Murray. (1936-2015)”. Dié boodskap is op 4 Junie 2015 geplaas die deur Marion Erskine, die skrywer van Donatello en Volksie (Tafelberg, 2010). Dit is gepas dat dit juis ’n skrywer van ’n liefdesverhaal is wat haar dood aan die wêreld rugbaar gemaak het. Dit is ook gepas dat ’n groep op die sosiale media, wat gewy is aan lekkerlees, die draer van die boodskap sou wees, want Ena Murray is by verre die mees geleesde skrywer in Afrikaans en haar boeke is skaamteloos geskryf om lekkerlees te bevorder. Murray het begin skryf voor die dae van rekenaars en voor die sosiale media. Die feit dat haar lewe wyd so gevier op hierdie platforms vertel ons iets van die grootsheid van hierdie fenomenale mens. Die bevestiging van haar dood het gekom van Etienne Bloemhof, hoof van fiksie by NB Uitgewers. Murray is skynbaar net ná vier  die oggend (4 Junie 2015) oorlede. Susan Bloemhof, Etienne se gade, het hierdie foto’s gestuur. Hulle is kleinnode, want Ena Murray was bekend daarvoor dat sy kamerasku was.

Ena Murray en Etienne BloemhofEtienne Bloemhof, die hoof van NB-uitgewers se fiksie-afdeling, sê: “Ena se werkywer was ongekend. Sy het oor die jare gereeld haar hele oeuvre hersien, en daardie werk sal bly voortleef, onder meer in die huidige Ena Murray Keur-reeks wat sy self georden het. Sy was ’n uitsonderlik nederige en godsdienstige mens, iemand wat haar morele waardes gelééf het. Wat my van haar altyd sal bybly, is haar meelewing, dat sy sonder uitsondering altyd eerste na ander se welstand sou verneem, sodat die fokus nooit moes wees op haar eie omstandighede nie. Haar soort kom net een keer in ’n leeftyd verby.” Marga Stoffer, waarnemende hoof van NB-Uitgewers, sê: “Ons is hartseer oor die heengaan van Ena Murray. Sy was ’n geliefde skrywer en ’n merkwaardige mens. Sy is vir lank beskou as ‘die mees gelese skrywer in Afrikaans’, en haar boeke word steeds heruitgegee. Mag sy in vrede rus.” Elders, op Netwerk24, het George Louw, ’n toenmalige uitgewer van haar werk, ’n baie mooi huldeblyk geskryf. Lees dit gerus hier. En Danie Botha, ’n toenmalige redakteur van haar werk, se huldiging verskyn hier, ook beslis die moeite werd om te lees. ’n Bittersoet verjaarsdag LitNet het vroeg daardie selfde oggend, op 4 Junie, berig dat LAPA Uitgewers se Romanza-klub 10 jaar oud is. Romanza is ’n uiters gewilde reeks boeke wat vir vroue van agt tot tagtig geskryf word; 156 000 van hierdie boeke word jaarliks verkoop. Hoewel die verhale meer modern is as Ena Murray se werk, is daar onder die skrywers en uitgewers geen twyfel nie dat Murray die matriks geskep het vir hierdie reeks boeke. Alta Cloete het die bittersoet ironie van Murray se dood op hierdie dag van feesviering soos volg beskryf op Facebook: “Dis tipies van die lewe dat 'n viering en 'n sterfte so saamval. Op die dag wanneer ons dink oor die werk van Ena Murray vier Romanza hulle tiende verjaardag. Ten spyte van soveel vooroordele bly die liefdesverhaal 'n gerusstellende teenwoordigheid in duisende lesers se lewe.” ’n Rukkie later, in ’n persoonlike boodskap, het Cloete soos volg gereageer op Ena Murray se dood: “Ena Murray het duisende Afrikaanse meisies aan die lees gekry en hulle as volwasse vroue aan die lees gehou in ʼn tyd toe daar nie soveel goeie ligte Afrikaanse leesstof beskikbaar was nie. Ek vermoed hulle mans het meer dikwels saamgelees as wat hulle dalk sou erken. Haar werk is so tydloos dat dit vandag te midde van die ontploffing van Afrikaanse lekkerleesboeke steeds relevant en gewild bly. Dis ʼn voorreg om ook my beskeie deel te probeer bydra tot die leeskultuur wat sy in Afrikaans help vestig het.” LAPA het geen sjampanjeproppe geskied op 4 Junie nie (die viering sal op 12 Junie plaasvind), maar die drie uitgewers wat aan beheer staan van die Romanza-reeks, het elkeen hulde gebring aan die grootste van groot Afrikaanse skrywers. Marlies Haupt het haar hulde soos volg betoon: “Ons het in die platteland grootgeword en ’n besoek aan die biblioteek (70km van die huis af) was ’n groot gebeurtenis. Ek het vinnig deur die kinderboek-afdeling gelees en toe ook deur Saartjie, Trompie, Bienkie en natuurlik Enid Blyton se The Famous Five. My Ma het af en toe romanses uitgeneem … en toe dié gogga eers byt, het ek en my sussies gereeld hare getrek oor wie eerste een van Ena se omnibusse mag lees. Ena het vir romanses gedoen, wat Pavarotti vir operasmusiek gedoen het: Sy het dit op ons boekrakke en in ons huise gevestig as ’n genre wat gelees mag word en moet word. Ena is beslis die doyenne van die Afrikaanse romanse en sy laat ’n reuse nalatenskap agter.” Cliffordene Norton, haar kollega, verwoord haar bewondering vir Ena Murray soos volg: “Ek het Ena Murray ontdek toe ek een vakansie my auntie Lande se boeke geleen het. Ena Murray was (en is) my auntie se gunstelingskrywer en nadat ’n hele paar daarvan verslind het, kon ek verstaan hoekom. Ek verstaan nou nog hoekom. Het ek ’n gunsteling-Ena Murray-boek? Nee, want almal is awesome! Rus in vrede, mevrou Murray, because you’re a legend. Legends never die!” Die senior-uitgewer al daar, Charlene Hougaard, het laat weet: “Alhoewel Ena Murray se skryfpen nou stil is, sal haar liefdesverhale voortleef in al haar lesers se harte. Sy het ’n enorme bydrae gelewer tot ontspanningsfiksie in Suid-Afrika, en duisende lesers laat aanhou Afrikaans lees.”

27 views

Recent Posts

See All
bottom of page