top of page
  • Crito

Wolke en herinneringe

Tussen die ooraanbod oninteressantheid wat Die Burger, Beeld en Rapport vandeesweek op hul boekeblaaie gelewer het, is daar een resensie wat rapportering verdien – André P. Brink se bespreking in Die Burger van The Literature Police – Apartheid Censorship and Its Cultural Consequences, ‘n boek van Peter D. McDonald.

Die nuuswaardigheid lê daarin dat Brink daarop wys in welke mate ‘n land se intellektuele geskiedenis aangetas word deur sensuur, en waarsku dat die sensuurwolke weer saampak. Diegene wat die Apartheid-regime se sensuurstelsel in volle swang gesien het, sal weet dat so iets groei uit die vervorming van ‘n demokratiese na ‘n fascistiese bestel.

Dit gaan sekerlik oor die lees van tekens, en ek sou graag wou gesien het dat Brink sy slotopmerkings verder kwalifiseer. Ek dink ek weet wat hy bedoel, maar as mens ‘n resensie skryf soos hierdie een, is dit nodig om daardie iets ekstra te gee en dit uit te spel.

Andersins is dit ‘n resensie wat ander resensente behoort te lees, al is dit net om aantekeninge te neem van hoe ‘n meester die taak benader. Brink skryf argumenterend én rapporterend. Hy reageer op ‘n boek uit die hoekpunt van sowel literêre historikus as persoonlik getroffene.

Die ander rede hoekom ek die resensie geniet het, is omdat dit die debat (as dit die regte woord is) wat in Rapport begin is deur emeritus prof. Humphrey du Randt (nogal vergesel deur ‘n foto van die hoogleraar op s’n mooiste) verder voer.

Brink verleen nie waardigheid aan Du Randt deur direk te reageer op Du Randt se kwylende betoog nie. Hy noem net in die verbygaan, spruitende uit die lees van McDonald se boek en die sien dat nie alle sensuur-belhamels genoem is nie, dat Du Randt een van die handlangers van die sensuurbestel was, en dat sy lafhartige dade ontmasker is deur George Weideman.

Weideman was ‘n werklik sagmoedige, opregte persoon – en het met die kake van ‘n bulhond vasgebyt as hy van mening was dat iemand besig is om onreg te pleeg. Ek is bly dat Brink hierdie feit nou openbaar het, en sien uit na die volgende sarsie.

2 views

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangali

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page