top of page
  • Crito

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangalitsa-varke my van ’n rugsak met dokumente, laptop en foon beroof het.

Ná so ’n bevlekte reis is dit natuurlik uiters deprimerend om liggaam en siel te versoen met ’n tekort aan likiede bates. En dít terwyl die mense steeds oor dieselfde dinge praat: Eskom, ons geliefde regering met hul fantoomdenke, en die Springbokke wat nie kan besluit of hulle kom of gaan nie. Lyk my die een losskakel dink gladnie aan gaan nie.

Ek probeer my gedagtes by boeke hou - brand selfs van nuuskierigheid om te sien wie Saterdagaand aangewys gaan word as die wenners van KykNet en Rapport se pryse vir die beste resensente. Dalk is dit ’n verrassing.

Ek het nog nie heeltemal ingehaal op die verlore maand se resensies nie. Die paar wat ek wel gelees het, het my die gloede laat kry. Kan ’n vrou stilbly oor al die irritasies?

Kom ek begin by die een wat die minste aan my stukkende nerwe gevryf het - Audrey Jantjies se resensie oor Flora van Engela Ovies (Rapport). Die sterk raamwerk van haar bespreking is die manier waarop sy met die verhaal en sy problematiek identifiseer. Dit anker haar geesdrif vir die skrywer en die boek.

Die waarde van haar resensie lê in die manier waarop sy haar reaksie op die boek oordra, sonder om die hele verhaal oop te flerts.

Maar sy het die nuk om kritiek te antisipeer - “hoe onrealisties die romangebeure ook al vir sommige lesers mag lyk” - en dit stel haar in die versoeking. “Ek herken elkeen van hulle; dit is mý mense” sê sy in die loop van haar argument.

So iets is sekerlik onnodig, Flora se sosiaal-realisme is sterk genoeg om dit nog lank aktueel te hou. Maar as mens dink aan die soort kritiek wat Jochem van Bruggen aanvanklik oor sy Ampie-trilogie moes verduur, net minder as ’n eeu gelede, kan mens Jantjies se invalshoek verstaan.

Maar uiteindelik raak dit ’n milde irritasie - vanwaar die sug dat alles absoluut realisties moet wees, moet strook met die werklikheid? Jantjies is bekommerd dat haar lesers nie sal snap dat sy as leser dikwels dinge raakgelees het wat vir haar alte herkenbaar was. Die gevaar is uiteraard dat só ’n aanpak gou na ’n geteem begin klink.

Hou sou Jantjies die gegewe van Irma Venter se Die verkeerde vrou benader het? Dis nogal ’n probleem met fiksie wat juis nie gemeet wil word aan aktualiteit en sosiale realisme nie - uit watter emosionele put kan die resensent dan waters van berusting skep?

Vir my gevoel gebeur dit te dikwels dat resensente met die werk van ’n gevestigde skrywer gekonfronteer word, en skielik sit hy/sy/dé sonder die kritiese instrumente om én gaap én opgewondenheid onder woorde te bring.

Dan som hulle maar die storie op en kry ’n paar bokke daarvoor.

Ek wil Stefaans Coetzee se bespreking van Die verkeerde vrou deur Irma Venter (Boeke24) en Adele Vorster se bespreking van Isa Konrad se Vleisfees op Karibib (Rapport) om hierdie rede by die Irritasie-polisie aangee.

Dis ’n ernstige oortreding, wat nie alleen lei tot die verveling van die koerantleser nie, maar belangstelling in die boek reduseer omdat mens mos nou weet wat die storie is. Al verklap hulle nie die slot nie.

Uit die twee besprekings kan ’n mens aflei dat Coetzer en Vorster skrander mense is wat snap wat te snappe is. Maar Vorster sou haar ervaring van Vleisfees op Karibib in een paragraaf kon afgehandel het, en Coetzer moes die smaad verduur dat twee paragrawe in sy resensie op Netwerk24 se webblad oornag aangeteel het.

Blameer die subredakteurs, Stefaans. Hul hou mos daarvan om die sake ’n aks op te dollie en belangrike dinge uit te lig in vetdruk. Maar ek sien deur hul plan. Dis nie belangrike inligting wat hulle hier uitgelig het nie. Hulle het net gesorg dat die resensie die ruimte vul wat daarvoor uitgehou is.

Ek het daardie paragrawe herlees, en skielik het ek die subredakteurs ook jammer gekry. Daar is letterlik niks in Coetzer se resensie wat met vetdruk uitgelig kan word nie.

Trouens, ek vermoed dat Die verkeerde vrou, synde goeie verstrooiingsliteratuur (onthou julle dié begrip?), lekker sal lees maar nie lekker sal resenseer nie, as julle weet wat ek bedoel.

67 views

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

Gedane sake

Maar dit is warm hier waar ek is. Erg. Siësta lê net ’n sweetdruppel ver, maar laat ek ’n gedagte deel. Ek sal nie lank skryf nie, my gedagtes verdamp saam met my energie. Jean Meiring skryf op LitNet

bottom of page