top of page
  • Crito

Wie die twak raaksien

Prof. Andries Raath het op sy eie gesorg dat Siener van Rensburg die afgelope paar maande ‘n eerbare onderwerp op almal se lippe is. Raath se Niklaas van Rensburg: Die Siener het ‘n bietjie gravitas verleen aan ‘n onderwerp wat voorheen met dieselfde semi-erns benader is as Nostradamus.

Sowel Van Rensburg as Nostradamus word in geloofskringe met ewe min piëteit benader as wat die Heks van Endor in Nuwe Testamentiese tye sou kry. Die duiwel en sy maai doen hulle voor as kenners van die sieners en interpreteer die manne met die helm se skryfsels van voor na agter, van onder na bo en soms sommer in die tiende dimensie ook.

Dit neem iemand van Raath se statuur en erns om die onderwerp van Siener van Rensburg na ‘n ernstiger vlak te voer as wat Mosselbaaise kothuis-kenners dit tot dusver gedoen het.

Die vraag is nou net of resensente Raath se eerbied gaan deel.

Fransjohan Pretorius se taksering van Raath se boek (Boeke24) is baie beleefd. Hy hanteer Raath se skryfwerk met respek, maar hy deel nie Raath se geesdrif en ontsag vir Van Rensburg nie. “Ons glo nie heeltemal die gids se aanspraak dat De la Rey hom deur Siener se visioene laat lei het in sy beplanning van gevegte nie,” sê hy op ‘n plek.

Nie veel later nie skemer daar ‘n sterk veeg sarkasme deur: “Maar so ’n insiggie vooraf was vir die generaal darem seker nuttig, wat.”

Pretorius heg duidelik nie soveel waarde as Raath aan Van Rensburg nie, maar hy vind tog iets in Raath se boek wat dié boek op ‘n ander vlak plaas as sensasie-boeke oor dieselfde onderwerp. Dít is naamlik dat Van Rensburg se gesigte deel was van sy geloofsbelewenis. Hy was nie die Boere-eweknie van Gypsy Rose in haar karavaan nie.

Eintlik wens ek hy was. Dan kon Pretorius ‘n lekker lewendige gatskop-resensie geskryf het en was ek nie nou half aan die slaap nie.

***

In dieselfde tradisie van goeie maniere en waardige repliek skryf Ampie Muller sy resensie van die geheime kamer, Corlia Fourie se sielkundige riller.

Hy wikkel hierdie kant toe en dan skuifel hy daardie kant toe, maar uiteindelik kan hy nie meer sy frustrasie in toom hou nie.

“’n Mens kan nie help om te wonder,” sug hy, “of die sukses van Afrikaanse spanningsromans veroorsaak dat skrywers genres aanpuk waarin hulle nie tuis voel nie. Dis jammer, want van ‘n skryfster van hierdie kaliber en talent verdien ons meer.”

Ek wens net hy het hierdie opsomming vroeër in sy resensie gebruik, dan was dit nie nodig om soveel moeite te doen om die verhaal self te vertel nie.

Wanneer gaan resensente leer dat dit nie altyd nodig is om eers die verhaal te vertel voordat jy jou oordeel fel nie?

***

‘n Mens kan nie help om te wonder of die moleste op boekeblaaie veroorsaak dat Afrikaanse boekeredakteurs boeke na resensente stuur wat genres moet aanpak waarin hulle nie tuis voel nie.

Ek herinner my die kolossale blaps wat Anastasia de Vries gemaak het met E.K.M. Dido se laaste roman. Sou dit dan hoegenaamd deug om ‘n op sensasie afgestemde Engelse verstrooiingsroman oor die Voortrekkers aan Fransjohan Pretorius te stuur? Dis wat Rapport wel gedoen het.

Die antwoord is helaas ja. Hy is die persoon wat die beste geplaas is om te bepaal dat Robin Binckes se Canvas under the Sky ‘n klomp twak is (my spelfout).

Meer gaan ek nie sê nie. Engelse boeke val buite die bestek van hierdie blog.

***

Hans du Plessis het dieselfde onderwerp as Robin Binckes in sy Die pad na Skuilhoek (LiNet: http://www.litnet.co.za/Article/-die-pad-na-skuilhoek-ndash-rsquon-soektog-na-liefde), te oordeel na Chris van der Merwe se bespreking daarvan: die stryd tussen goed en kwaad, die verskille tussen vryheid en bevryding.

Maar Du Plessis is ‘n skrywer van statuur, wat sy gegewe giet in ‘n jeugroman. Dit is vir my interessant dat Van der Merwe dit aan ‘n streng literêre oog onderwerp en uiteindelik bevind dat dit méér as net jeugroman is. En sy enigste kwelling oor die publikasie is dat Du Plessis vele perspektiewe (lees: wit en bruin) gee, maar nie die swart perspektief van die Matabele’s nie.

Ek kan my indink dat Fransjohan Pretorius ook hierdie roman sou kon bekyk uit die hoek van die historikus, en ek sal geld daarop wed dat hy geen blatante snert sou kon uitwys soos met Canvas under the Sky nie.

3 views

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangali

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page