top of page
  • Crito

Wie die seerste kry

‘n Interessante gemors waarin ‘n resensent hom die afgelope paar weke bevind het, nè. Ek praat van Koos Kombuis se resensie van Paul Miles se Skoot, wat ‘n ruk gelede in Die Burger verskyn het, en waaroor Kombuis verlede week moes terugkrabbel nadat ‘n brief van ‘n baie ontstoke Gerrit Olivier in Die Burger gepubliseer is.

Olivier had heeltemal reg: Kombuis se vergelyking van Miles se Skoot met ‘n boek wat in 1902 in New York gepubliseer is, wat dieselfde titel het, wat ook bestaan uit om en by 140 kort stukkies, wat almal genommer is, en Kombuis se oordeel dat dit (vir n feit) teruggryp na daardie roman, en stilisties feitlik identies is daarmee, is nie heeltemal orraait nie.

Vir ‘n leser wat suiwer op Kombuis se oordeel moes staat maak, sou dit nie moeilik gewees het om te dink dat Kombuis ‘n geval van plagiaat ontmasker het nie. Daai woord identies

Ek kry Miles bitter jammer, veral omdat hy ‘n debuutskrywer is en plagiaat is die allerlaaste ding wat ‘n debuutskrywer ten laste gelê wil wees. (Ek self het, nadat ek die resensie gelees het, aanvaar Kombuis het ‘n punt beet. Ek het nie kommentaar gelewer nie, en het ook besluit dat ek Skoot nie wou lees nie.)

Ná Olivier se brief het Die Burger se ombudsman uitgewys dat Kombuis nie vir Miles van plagiaat beskuldig nie. Dit is tegnies korrek. Wat gebeur het, is dat Kombuis sekere oppervlakkige ooreenkomste uitgewys het, en toe dit gaan kwalifiseer het met ‘n opmerking oor “stilisties, feitlik identies”. En ons, die lesers, hoef net die woord identies te sien om die nodige kortsluitings te maak en te dink Kombuis is darem oordentlik om nie die woord plagiaat hardop te gebruik nie.

Ná die lees van Kombuis se apologie, en die Ombudsman se oordeel, het ek Kombuis se oorspronklike resensie baie goed gaan lees. Dit is onmoontlik om te ignoreer dat Kombuis die twee werke aan mekaar koppel, met Paul Miles s’n die een wat in navolging of moontlik parodie geskryf is. Daarna het ek na Kombuis se apologie gaan kyk en toe na Cora G. Sadler se Skoot: A Story of Unconventional Goodness. (Die PDF daarvan is by verskeie webwerwe aflaaibaar.) Miles se boek het ek met groot moeite in die hande gekry en dit ook gelees.

Hoekom Kombuis nie al die rooi ligte sien flits het nie, kan ek nie begryp nie. As mens Miles se werk lees, en jy sien Sadler se subtitel, dan moet jy dadelik weet dis twee heel verskillende lewensbeskouiings wat vaardig is. Miles reageer òf op Sadler, òf is nie bewus van haar boek nie. Daar is nie ooreenkomste wat mens in ‘n ernstige sin kan noem nie.

En “stilisties identies” is misleidend, want dit kan baie dinge beteken, en nie een daarvan is “afgekyk” nie, en nog minder “plagiaat”.

Ná ek Miles se Skoot gelees het, stem ek heeltemal met Kombuis saam dat hy talent het. Kombuis kon sy resensie afgesluit het ná sy omerking oor die dinge wat ‘n uitgewer van ‘n skrywer verwag. Dít wat Kombuis daarna geskryf het, is die soort halfgebakte werk wat mens nie van hom verwag nie.

Trouens, ek dink mens kan dit maar as feit aanvaar dat hy nie Sadler se werk gelees het nie, en nie in ‘n posisie was om die krasse woord “identies” te kon gebruik nie. Mens ken Kombuis uit sy skryfwerk as iemand met ‘n ingebore BS-radar. Jammer daai radar was afgeskakel tydens die skryf van die resensie.

En Miles? Hopelik besef hy dat Kombuis die maklike dog verkeerde uitweg gekies het met sy resensie, en neem Kombuis se woorde in sy apologie ter harte: “Ek … glo dat Miles ’n intelligente, talentvolle skrywer is en dat hy, met die nodige leiding, heel moontlik eendag ’n werk van groot waarde kan lewer.”

Die grootste verloorder in hierdie gedoente is nie Miles nie. Hy het genoeg sigbare talent om bo die resensie uit te styg. Nee, Kombuis ly die grootste skade. Dit gaan nie om die positiewe dinge wat hy agterna gesê het nie, maar oor die dinge wat hy hom aanvanklik nie moes aangematig het om te sê nie.

1 view

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangali

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

Comentários


bottom of page