top of page
  • Crito

Volksblad kom ook in die kraal

Maandag het die Kersseisoen amptelik begin. Nou, het ek gedink, gaan die Afrikaanse oggendkoerante se boekeblaaie barstens vol resensies van die jongste Afrikaansepublikasies wees. Dis mos Naspers se koerante.

Vergeet maar daarvan. Beeld se boekeredakteur, Dirk Jordaan, was die grootste sondaar: een vrot plaaslike Engelse koffietafelboek, een ingevoerde Britse roman, een Robbeneiland-memoire (Ahmed Kathrada), en een plaaslike Afrikaanse boek (Pieter Strauss se “Bitterboela en soetgousblom”). Proudly South African, kom ons vergeet van ons Afrikaanse wortels, om nie te praat van ons lesers nie.

Kobus Burger se resensie van Bob Martin se “Highlights & Footlights”, ‘n versameling foto’s deur Truk se eertydse teaterfotograaf, kon net sowel gesny gewees het tot ‘n onderskrif by ‘n foto. Martin was ‘n gangbare teaterfotograaf, nie van die kaliber van Paul Alberts nie (wat Burger nie noem nie), en die teksgedeeltes getuig van die mees argelose redigering wat mens kan kry (wat Burger wel noem).

Deur Burger se té lang resensie te plaas plus ‘n paar kiekies, het Jordaan hom skuldig gemaak aan joernalistieke luiheid. Verdomp!

Thys Human se bespreking van die nuwe Julian Barnes-werk is knap, ofskoon effe té lank en akademies-tillend. Ek is seker Barnes neem kennis daarvan.

In Die Burger was daar ‘n goeie verskeidenheid boeke wat bespreek is. Christina Landman se resensie van “Journeying with Mary” is werklik uitstaande. Onopgesmukte taalgebruik, geen kennis-vertonerigheid nie, gesaghebbend. Hier moet Gerrit Brand gelukgewens word met sy keuse van resensent, soos ook die geval is met dié van Braam de Vries om Alan Paton se “The Hero of Currie Road – Complete ShortPieces” te takseer.

Die verrassing was vir my Jacques de Wet se bespreking van “Whiplash” van Tracey Farren. Ek stem volkome saam met De Wet se oordeel oor die roman. Dit is net jammer dat De Wet ‘n beginner-resensent is. As sodanig swig hy voor die versoeking om die verhaal te probeer vertel, en dan bied hy kritiek in wollerige argumente, moontlik as soort selfbeskerming teen mense wat kan kla oor ‘n wit resensent wat ‘n boek uit ‘n bruin omgewing kritiseer.

Wat hy moes gesê het, is dat “Whiplash” ‘n gemeenplasige gegewe het, ‘n verhaal bevolk met stereotipes, en dat Modjaji Books, wat die boek gepubliseer het, sekerlik nie ‘n kundige redigeerder of taalversorger het nie. Hierdie boek moes nie nou gepubliseer gewees het nie.

(Wat gaan by Die Burger aan? Kyk net hoe spel De Wet “faal”!)

Oor Jaybee Roux se resensie van Annelise se “Weerloos” hoef mens nie veel te sê nie. Roux sal ‘n gesaghebbende resensent word die dag dat hy iets soos “Weerloos” bespreek en blyke gee dat hy weet wie Mefisto is, of dat hy bewus is van die Faust-legende.

Nou: Volksblad se Boekeblad, onder redaksie van Danila Liebenberg. Sy kry soms goeie resensies, soos Ronel Nel s’n van André le Roux se jongste boek, of Joan Hambidge se analise van die Izak de Vries-kortverhale. 

Vandeesweek het sy eintlik net Corli van der Merwe, ‘n redaksielid van Volksblad, se bespreking van Deon Meyer se “13 uur”. Geesdriftig geskryf, sodat dit vir lesers van nutsal wees as hulle moet besluit of hulle dit wil lees of nie. Maar Liebenberg, as boekeredakteur, moes gesnoei het daaraan – Van der Merwe maak die onverskoonbare fout om binne een resensie die hele verhaal te wil vertel. As jy "13 uur" nog nie gelees het nie, wil jy nie alles weet wat Van der Merwe uitlap nie.

Net een vraag vir Liebenberg: Hoekom is die web-weergawe van haar boekeblad so agter die tyd?



0 views

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangali

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page