Tokkie in 1966
‘n Voorbladfoto wat toe nie ‘n voorbladfoto was nie, was die voorloper vir ‘n vloermoer waarop die uwe nie trots is nie, maar wat ongelukkig nie weggewens kan word nie. Die suurderige herinnering dateer uit 1966. HvD neem die eerste keer waar as nuusredakteur van Die Volksblad, en is – nodeloos om te probeer ontken – heel bewus van die belangrikheid van die amp en ipso facto dan ook van die 25-jarige tydelike bekleder daarvan. Lappies Labuschagne, hooffotograaf, word gestuur om ‘n voorbladfoto te gaan neem. Die onderwerp is drie of vier mooi onderwyseresse wat nog met punte en rapporte doenig is nadat die kinders reeds vort is met vakansie.
Tokkie 75 op 15 Maart 2021
Op nommer 99 kom sit Lappies die foto voor my neer – tegnies so onbesproke soos al sy foto’s, waarvan letterlik duisende oor die jare die koerant versier het. Net daar sink my hart egter deur die vloer. Want in die middel van die foto is die dierbare gesiggie van my verloofde, Tokkie van Wyk, die ene soet glimlaggie. My oordeel was dat my kollegas my sou verdink van ‘n erge graad van nepotisme en onsensitiwiteit op die vooraand van my huwelik met Tokkie op 31 Desember daardie jaar op Bultfontein. Ná al die jare dink ek nog die gebruik van die foto was om daardie rede nie aan te raai nie. Maar ‘n grote krisis was dit. Tyd was daar nie. Enigste alternatief vir die voorblad was ‘n foto van twee Duitse meisies in sjoebroekies wat op ‘n leer staan en ‘n olifant in Berlyn se dieretuin met besems was. Dié het al dae lank in my mandjie gelê. Die redakteur was nie geamuseer nie. Vir die tweede uitgawe was Lappies terug met drie ander onderwyseresse. Nie een naastenby so mooi soos Tokkie van Wyk nie. Maar gelukkig almal aan die waarnemende nuusredakteur geheel onbekend. Agterna het ek vir Tokkie die dood voor die oë gesweer as sy ooit weer op ‘n Volksblad-foto sou verskyn. As jy ‘n kamera sien, dra jou mooi beentjies, gehoor! Maandag is Tokkie 75. Sy het mooi vir haar aanstaande geluister. Was nooit weer ‘n kandidaat vir die voorblad nie.
Kommentare