top of page
  • Crito

Vir Joe D

Ek veronderstel mens kan hom ’n pêl noem, Joe D, wat soms saam met my man gholf speel. Joe is natuurlik nie sy regte naam nie, nie dat dit saak maak nie. Joe D skiem ek is Crito en hy is reg maar soos Johan Bakkes sê, norrevøk gaan ek dit teenoor hom erken daar waar ons in Woolies staan en chat. Op ’n distansie.

Ek het my jeans en T-shirt met uil en “I don’t give a hoot” onder die wyse voël aan, heel va-va-voom al moet ek dit self sê, en dan nog die windbreaker, onuitspreeklik zef. Vat dit soos dit kom.

“Dog jy is plat met depro,” sê hy. Ek ignoreer sy knippende oog.

“Natuurlik. Woolies het die looting vrygespring.”

“But wat het jy verwag? Ons is té close aan die polisie en weermag se HQs. Hul vrouens shop almal hier.”

Die ligte tête-à-tête kan obviously nie heeldag aangaan nie. Joe D het ’n one-track mind.

En so kom hy dan voor die yogurt- en vla-rak uit daarmee: “Het jy Annelise Erasmus se krit gister in Rapport gesien?”

Van Johann Grobbelaar se Die vyfde slag. ’n Great ene. “Nee,” lieg ek.

“Check dit uit en skryf iets daaroor.” Weer daai oog, asof hy ’n slither acid ingekry het en nou sinesteties hakkel. “Sy vat hom aan. Sê hom reguit sy onderrok hang uit, know what I mean? Hy cloak alles met filosofie maar eintlik is hy ’n fuddy duddy.”

“Genuine?”

“Yep! Grobbelaar tune iets oor koekeloerders en pervs, en sy vang hom uit. Hy wou heeltyd maak asof hy oopkop is, maar hy is nie.”

“Ek hoor Annelise woon hier in ons burg,” sê ek.

“Wow!”

Ons stap by die lekkergoed verby. Niemand koop by Woolies sweets nie, hul markup is way beyond billik. Joe D klou soos ’n haarluis. Voer sy trollie gereeld, asof hy by die staatsdiens salaris trek, en nie ’n kopieskrywer by ’n reklamegroep is nie.

“Het jy vanoggend se Beeld gesien? Met Trisa Hugo se krit oor die nuwe Lien Botha-boek? Dieselfde een wat Jean Meiring gister in Rapport gedoen het? Die boek oor kuns?”

Weer lieg ek. As ek hom sê wat ek van die twee resensies dink, kan ek nie daaroor skryf nie.

“Ek kan nie verstaan nie,” sê Joe D. “Trisa sê sy weet niks van kuns nie, en die enigste manier waarop sy haar mening kan regverdig, is om haarself te beskou as die verteenwoordiger van die gewone leser.”

“Die spook van die publikasieraad loop alweer,” sê ek.

Joe D kyk my aan asof ek Lady Gaga is.

“Kyk,” sê hy, “Lien het ook ’n website vir die boek gemaak. Soos mens lees, kan jy al die verwysings na kunswerke opvolg.”

“Hoe cool is dit nie!”

“En Jean Meiring, gister in Rapport, hy groove op die boek. Hy sê dis ’n difficult boek, maar ook ’n moerse plesier. Mens kan sommer sien hy weet iets van kuns af.”

“Gaan jy die boek lees, Joe?”

“But of course.” En hy skuif weg na till nommer 5.

Ek het hom nie gesê dat Vin, die roman van Lien Botha, my gehelp het om die depro te begin tem nie. Dat ek Jean Meiring se resensie as een van sy bestes ag, en Trisa Hugo s’n as ’n baie eerlike ene. Dat ek moerse issues het met Afrikaanse koerante wat nie meer gereeld oor beeldende kuns skryf nie, dat ek Johan Myburg ook sal wil sien skryf oor dieselfde Vin.

Maar Dinsdag het Joe D begin sleg voel, baie sleg. Woensdag is hy hospitaal toe gejaag, en vanoggend het sy vrou laat weet hy is een van die nuwe stel syfers van Covid-sterftes.

Dit gebeur net só.

Ek sal by die Katolieke kerk hier om die draai van ons vir Joe D ’n kers gaan opsteek.

6 views

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangali

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

Comments


bottom of page