top of page
  • Izak de Vries

UIT MELKBOS, DESEMBER 2021

Liewe vriende

Die jaar 2021 galop die pylvak binne. Voordat ons hom finaal aftik enkele kantlynaantekenings uit hierdie oord:

Dit was ‘n jaar vol allerlei bakens: HvD se 80ste, TvD se 75ste, Johan en Brent se 50ste, Pfizers-prikke en Jacob en Thomas se verwerwing van leerling-rybewyse. Die twee het ook vir Oupa en Ouma laat asem ophou deur van Dreunkrans, by Hermanus, 18 meter na benede in die see te spring.

HvD het twee boeke gepubliseer, Bure van nature by Protea en Koerantkamerade by Naledi. Daarmee sak daardie gordyn.

Soos 2020 was 2021 ‘n Koronajaar. HvD en TvD is dankbaar dat hulle, anders as in 2020, wel in die winter by Sabiepark kon uitspan. Toe kom drink ‘n avontuurlike kameelperd jou werklik die eerste keer in 23 jaar by Tarlehoet se watergat. Ekstase soos min.

Op George het die Legacy Centre – Migael (eintlik sy ma, Mariza) se skool – ‘n uiters geslaagde eerste gholfdag op sy kerfstok geplaas. Die vloede het by die skool skade aangerig, gelukkig nie erg nie.

Die nuwe jaar sou begin met ‘n vaart op die MSC Musica na Walvisbaai vir die Oppiwaterkunstefees. Helaas nie. Te lugtig vir Omikron en kie. Na verre hawens se vertraagde “bekendstelling” ter see is natuurlik nou finaal gekelder.

Jacob en Thomas (sy skool, Stellenberg, se verteenwoordiger op Die Burger se gesogte Jeugleierskonferensie) durf matriek aan, albei as leiers en met goeie akademiese verwagtinge. Christopher pak sy laaste jaar op laerskool.

Mediese uitdagings in ons geledere word meer, nie minder nie. Ons gaan 2022 nietemin positief tegemoet en droom oor goeie dinge vir ons almal.

Uit Penguin Place 11 ons beste Kers- en Nuwejaarswense. Kom ons mik na die maksimum-kontak in 2022. Die tyd stap aan, soos verskeie sterftes onder kollegas en vriende in die ou jaar opnuut herinner het.

Hennie & Tokkie

5 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page