Die sanger Will Martin – boordjie kenmerkend losgeknoop.
Oor Nieu-Seeland kan ‘n mens maklik die fout begaan om te dink die landjie produseer net rugbyspelers Dink egter aan Kiri te Kanawa, Edmund Hillary, Richard Hadlee – nee, geeneen het vir ‘n Super15-span uitgedraf nie.
Op die QM2 was ook ‘n bekende Kiwi – onbekend aan my persoonlik, maar ‘n sangsensasie in sy eie land en sy aangenome land, Brittanje, verneem ek. Sy naam is Will Martin en hy ryg die platinumplate in. Het darem ook ‘n rugbyverbintenis: Voor die eindstryd van die rugbywêreldbekertoernooi van 2011 het hy die Franse volkslied, “La Marseillaise” op Eden-Park in Auckland gesing.
Miskien is dit omdat hy, ondanks sy 29 jaar, so weerloos jonk lyk, dalk omdat hy inderdaad ‘n goeie “entertainer” is (hy speel ook klavier dat die klawers bons), maar op die QM2 het mense ná sy konsert in die Royal Court Theatre vir hom opgestaan. Veral vroue.
Oor sy musiek wil/kan ek my nie uitlaat nie. Sy tweede konsert op die skip het ek in elk geval liefs prysgegee vir ‘n aand op die dek met ‘n glasie wyn in die hand. Maar die jongman het so tussen sy liedjies met ‘n storie vorendag gekom wat ek graag hier oorvertel. Kan nie onthou dat ek dit iewers gelees het ná die groot aardbewing (7,1 op die Richterskaal) in Christchurch in 2011 nie.
Die sanger wat in 2007 na Londen verhuis het, was nog kort voor die aardbewing in die CTV-gebou (Canterbury TV) vir ‘n onderhoud. Hy is vroeg weg vir ‘n middagete-afspraak met ‘n oud-onderwyser en dié se 10-jarige dogter. Toe die aarde skeur, het daardie gebou in ‘n wolk van stof in duie gestort.
Altesaam 115 mense is in die enkele gebou dood – sowat die helfte van al die sterftes in die stad daardie dag. Al die mense wat by die Martin-onderhoud betrokke was, het omgekom: onderhoudvoerder, kameramanne, regisseur, die lot. “As ek in die gebou gebly het, was ek ook dood, het Martin die gehoor op die QM2 meegedeel. “My besluit om vroeg weg te glip vir my afspraak, het my lewe gered.”
Op daardie oomblik het die skraal kêreltjie met die amper skaam glimlag en die losgeknoopte boordjie nog broser gelyk. Die Australiese vrou in die stoel langs my, het met haar sakdoekie by haar oë gevroetel.
Churchill en Max Hastings.
Iemand wat ‘n mens nie eintlik met die woord broos vereenselwig nie, is die man met die growwe stem en sigaar, Winston Churchill. ‘n Storie oor die gevierde Britse staatsman wat vir my nuut en … wel … deerniswekkend was, het ek ook op die QM2 gehoor. Dit het uit die mond van sir Max Hastings, beroemde oud-redakteur en voorste Britse kenner van die Tweede Wêreldoorlog, gekom. Sir Max – ‘n regte langeraat wat graag wandelinge op dek 7 onderneem het – was een van die gassprekers op die sogenaamde “Cunard insights”-program op die skip. Churchill was een van sy onderwerpe. Sy boeke het soos soetkoek verkoop in die boekwinkeltjie langs die indrukwekkende biblioteek op dek 8.
Die lang Brit in die roomkleurige pak het boeiend vertel van die verpletterende Duitse bomaanvalle op Londen in die sogenaamde “Battle of Britain”, en Churchill se byna bomenslike pogings om sy land en die Britse weermag met sy moed en silwer tong gemotiveerd en gefokus te hou.
Maar Churchill was ook kwesbaar vir sentiment, aldus Hastings. Een middag op pad na die plattelandse premierswoning Chequers het ‘n lang tou mense sy oog gevang. Hy het die bestuurder van sy ampsmotor opdrag gegee om stil te hou. Hy stuur toe een van sy veiligheidsmanne om te gaan vra waarvoor hulle tou staan.
Die antwoord was: Hulle hoop om voëlsaad vir hul troetelvoëltjies te koop. Toe die groot man dit hoor, het hy gehuil.
Mof Myburgh
Wat my byna bewoë gehad het, was oud-Springbok H.O. de Villiers se herinneringe aan legendes soos Frik du Preez en Mof Myburgh – ook as deel van die “Cunard insights”-program. Swaar om te sluk, was dat die beroemde Springbokstut in armoede oorlede is in ‘n houthuis in die agterplaas van een van sy kinders.
Dit, terwyl vandag se rugbyspelers, al is hulle nie juis vreeslik waffers nie, nie die einde van hul skatte ken nie. Die ou lewe kan soms wreed wees.
Comments