top of page
  • Crito

Skrywer as resensent - Maltesers en bokdrolle

Die skrywer as resensent – wat verklap dit?

‘n Ervare skrywer (Welma Odendaal) en ‘n opwindende nuweling op die toneel (Nicole Jaekel-Strauss) bespreek vandeesweek op Boeke24 vir Réney Warrington se debuutroman Oktober. In Rapport Boeke is dit Kerneels Breytenbach wat Johan en Ria Smuts se Die water wat verby is resenseer.

Odendaal en Breytenbach het albei jare se joernalistieke ondervinding, en by Odendaal is dit belangrik om dit te weet. In die joernalistiek word deeglik onderskei tussen ‘n kiekie en ‘n goeie foto. In die woorde van Daantjie Malan, destyds nog by Die Transvaler: ‘n Goeie foto het nie woorde nodig nie.

Odendaal kom uit daardie skool. Boonop het sy ‘n baie opvallende sensitiwiteit vir die onderskeid tussen reportage en subtiele fiksionalisering.

Daarom dat Oktober – ‘n roman aangevul deur foto’s - nie vir Odendaal oortuig nie. En so min as wat ek hou van resensies wat so oorheersend negatief is soos Odendaal s’n, moet ek haar krediet gee vir haar ewewigtigheid. Sy het besin oor die gebruik van foto’s by die literêre teks. Sy het die literêre teks geweeg en dit swak gevind. Sy het die samestelling getakseer en bevind dat selfbeheptheid die totale poging pootjie.

Ek kon nie vinnig ‘n eksemplaar van die boek in die hande kry nie, en het Warrington se fotografie net probeer kontroleer aan die hand van haar webwerf. Die foto’s wat dáár met die roman in verband gebring word, laat my skrik. Sjokoladeblik-materiaal wat aangebied is as “subteks” tot die geskrewe woord.

Odendaal lys genoeg besware om mens te laat besef dat haar verdoemende oordeel deeglik oorweeg is voordat dit neergepen is. As gesoute skrywer sien sy nogtans raak dat Warrngton wel deeglik skryftalent het, en besluit dan dat die boek ‘n redakteur nodig gehad het wat die outeur kon lei.

Die dilemma wat nou ontstaan, is dat mens nie die voordeel geniet van die boek in die hand te hê nie, en jy wil graag die vraag beantwoord hê of die gehalte van die boek sodanig is dat dit ‘n vernietigende resensie soos Odendaal s’n verdien? Haar argumente staan vas, en haar goeie naam as resensent is bo verdenking, maar ‘n resensie van hierdie aard laat my altyd besluit om eers net self te loer voordat ek die mening onderskryf.

Is dit nie baie gemeen om so iets aan ‘n debuut-werk te doen nie?

Die antwoord hierop is natuurlik dat dit juis oor hierdie problematiek is dat Nicole Jaekel-Strauss se ressensie oor die boek nuttig behoort te wees.

Van Strauss se resensie is dit die onbevange gewilligheid om geïmponeer te word wat dadelik opval. Mens kry die gevoel dat sy met die lees van Oktober diep beïndruk was met die andersheid van hierdie debuutroman – hoe verbete die skrywer daarop uit was om ‘n nuwe soort roman tot stand te bring.

Haar benadering is in vergelyking met Odendaal s’n onkrities en vir haar is die tegniese leemtes wat Odendaal uitwys, geen probleem nie. Trouens, sy geniet die roman op verhaalvlak en pleks van te reageer op die eendimensionaliteit wat Odendaal uitwys, raak sy eerder verstrengel in die vraag of die hoofkarakter in die boek nie ook die skrywer/fotograaf is nie.

So ‘n vraagstelling is vir my gevoel ‘n teken van die onervarenheid van Strauss as resensent - maar dit is net so geldig as Odendaal s’n binne die eenvoudige raamwerk waarbinne Strauss haar beoordeling doen, en dit is duidelik ‘n nie-literêre raamwerk. Strauss het agting vir die hooffiguur se storie; sy bewonder ook die hoofpersonasie se vermoëns as fotograaf. Strauss dui die tematiek van die verhaal aan, sonder kritiek.

Mens kan dus Strauss se mening oor die boek respekteer – maar jy kan baie ongemaklike vrae vra oor haar vermoë as resensent om die literêre onderbou van die roman te takseer, of die estetiese en komposisionele aspekte van die fotografie.

Wat moet ons dan maak van hierdie tweevuis-resepsie van Réney Warrington se Oktober?

Ek kry Warrington bitter jammer – dit kan nie lekker wees om ‘n resensie op die lyf te loop soos die een wat Welma Odendaal van Oktober geskryf het nie. Maar Odenaal wys daarop dat as mens jou lyf tameletjie wil hou, moet jy bereid wees om gekou te word. Warrington het meegedoen aan die narsistiese bedryf rondom die publikasie via haar webblad, mens het dus rede om te dink dat sy moes geweet het waarvoor sy haarself inlaat.

Mens kan die skares wat jou webblad en jou Facebook-inskrywings lees wysmaak dat jy Maltesers aanbied, maar sodra hulle begin eet, gaan iemand agterkom dis bokdrolle.

***

Die een vraag wat mens jou dikwels afvra terwyl jy ‘n resensie lees, is hoe wyd die resensent se leeservaring is. Kerneels Breytenbach se bespreking van Die water wat verby is verklap dat hy langer in die land is as die twee veel jonger resensente van dieselfde bundel in Boeke24 (Cilliers van der Berg en S.J. Naudé).

Hy weet met watter skrywers van die verlede Johan en Ria Smuts die beste skakel, wat dan ook sy resensie vir my die mees afgeronde ene maak van die drie. Wat ook in sy voordeel tel, is dat hy hul resensies sekerlik gelees het voordat hy geskryf het. Wat miskien verklaar hoekom hy op geen negatiewe aspekte van die bundel wys nie?

0 views

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangali

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

Comments


bottom of page