top of page
  • Uitmelkbos

SKINDERHOEKIE







dans

Die middernag word mak gedans.

OF beroemdes saam met ons op die QM2 was? Weet nie. Die eksklusiewe eetplekke waar die verhewenes uithang, die Queens Grill en die Princess Grill, is vir gewone wesens taboe. Die peperduur Todd English Supper Club het ons liefs vermy.

Die elite kon jy aan die spesiale handdoeke en kniekombersies van die suites op hul eie stukkie dek of by ‘n algemene swembad uitken. Hul gesigte het nie ‘n klokkie gelui nie.  Ons was maar op die doodgewones rondom ons vir “human interest” aangewese.

Hul doen en late sou wel nie die glanstydskrifte haal nie, maar was boeiend genoeg. Tee saam met ‘n Footie-skeidsregter (wat Barry Richards-skoene dra), Trivia saam met ‘n Hollander wat dekades gelede na Brisbane uitgewyk het, ‘n geselsie met ‘n Brasiliaanse kelner (lyk op ‘n haar nes Obama) wie se eerste boek nou uit Portugees in Engels vertaal word – die klas ding is nie jou alledaagse koeitjies en kalfies nie.

TvD kon na hartelus haar stokperdjies beoefen om mense dop te hou.   Sy het my aandag op allerlei gevestig. Ons is om die beurt deur mede-passasiers vermaak, verbaas, geïrriteer, met gramskap of met bewondering vervul – of stof tot nadenke gegee.


Elite met hul  dek-kombersies.

Chinese vroue van drie generasies  – ouma, ma en dogter – het elke oggend ligte afleiding verskaf met hul wandeltogte op dek sewe in hul wit Cunard-kamerjasse, met pantoffels. Elk was in haar nagkabaai: Ouma in ‘n nagrok, ma in ‘n slaappak met blommetjies en dogter in ‘n ligpers satynpakkie.  Ons het hulle die “drie musketiers” gedoop.

“Overdaad” hou op om snaaks te wees as ‘n dame (?)  SES swemhanddoeke by die swembad neem om haar aansienlike lyf op die lêstoel gemaklik in te rig, of as ‘n kampioen-kosskepper sy ontbybord laai met ‘n toring van omelette, spek, twee soorte worsies, forel  en salm bo-op. Tokkie dag dis vyf mense se kos .. toe sien sy hom alles sit en ingaffel.

Suid-Afrikaners uit Durban had die voorliefde om, kom nie aan hoe deftig die plek is nie, skoene uit te skop en hul kaalvoete op koffietafels of banke se leunings uit te stal.  ‘n GROOT man met ‘n voorliefde vir “laat-my-fris-lyk-hempies” het hom en aand (net een, so ver ons kon sien)  in ‘n pak klere ingewurm vir aandete.  Die sweet het op sy voorkop gepêrel. Gelukkig had hy die skoon linneservet ….

‘n Stinkryk Franse vrou het graag luidkeels vertel van al haar eksotiese reise en die “decent apartments”” wat haar kinders se erfporsies gaan wees.  ‘n Gedekoreerede Britse militêr het jou vinnig op die vlug laat slaan in die wete dat hy weer vir sy krygsverhale ‘n gehoor soek.  ‘n Jong meisie met baie ringe het aan ontbyttafel vertroulik verklap sy had ‘n minnaar wat net altyd haar voorkop wou soen.    Ekskuus as dit soos ‘n skinderhoekie begin klink.  Maar party mense darem ….

Ewenwel, heelparty mede-passasiers was klaarblyklik van die ouer garde – dalk senior burgers op ‘n laaste hoera? Die onvriendelike beskrywing van die QM2 as “drywende ouetehuis” het hierdie waarnemer se ore bereik.  Sy antwoord is eenvoudig: Dat die “inwoners” van daardie “ouetehuis” nogal deur prysenswaardige waardigheid, avontuurlik en dapperheid gekenmerk is.

Onder die garde met rolstoele, looprame en kieries was toonbeelde van die opperste toewyding aan mekaar van egpare in hul herfsjare.  Plek-plek sukkel jy byvoorbeeld maar om jou gade se rolstoel te manuevreer.  Een egpaar het telkens ons aandag getrek. Albei beweeg met gemotoriseerde looprame.  Jy kan nie help om te wonder nie: Wie gaan vir wie help in die geval van werklike nood?


Kaalvoet op die rusbank se armleuning.

Een gryse dame – krom soos ‘n boom wat skeef gegroei het – het seker vir vele van die chroniese dekstappers as motivering gedien. Sy is telkens op flinke pas op dek sewe by ons verby. Ek het haar gevra hoeveel rondes sy doen.   Ses, was haar antwoord. Dit is op die kop twee myl of  5,7 km.

Saans is die aandpakke en formele tabberdjies uitgehaal, heelparty wat waarskynlik lank in mottegif was.  Ontwerpe, veral die veterbandjies, avontuurlike halse en roklengtes, het meermale verraai dat dit uit ‘n era kom toe hul sosiale status en lewe nog op ‘n ander vlak was.   Een tante was gedurig in haar ouderwetse pels en een klaarblyklik besonder lief vir ‘n soort feetjierok.

Waar jy van die oudstes raakgeloop het – by die roomystoonbank waar hulle soos kinders horinkies draai, of in ‘n deftige sitkamer vir ‘n skemerdrankie by mooi musiek voor aandete – kon jy vreugde op die gesigte sien … laaste hoera of te nie. Daarin was ook ‘n les om ter harte te neem.


Wie help vir wie?

Ons het in Afrikaans die mooi uitdrukking dat iets soos ‘”n ou vrou se dans” is.  Kortstondig, word seker bedoel.  Maar mense, julle moes die ou vroue op die QM2 sien rumba – met hul wederhelftes of die galante jong geselskaphere wat diskreet vir enkellopendes beskikbaar is.

Jy kon sweer jy sien op die dansbaan die stof van die see se kant opstuif soos die gryses die middernag mak maak.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page