Ek haal my hoed af vir Clark Gable!
Die museum teen die mure, noem Tokkie dit: Die honderde reuse-borde met die geskiedenis van die QM2, sy voorganger, die QM1, susterskepe en die Cunard-maatskappy treffend in woord en beeld vir die huidige generasie verewig. Jy kan ure voor die uitstallings drentel in die lang gange van die skip.
Geen baken of interessante brokkie is waarskynlik oorgeslaan nie. Of ons alles gelees het, twyfel ek. Maar van die Who’s Who-lys van beroemdes (en berugtes) wat voor ons die QM2 se gange bewandel het, het ons, dikwels verras, dikwels met ‘n glimlag en nog meer dikwels hoogs geïmponeer, een vir een kennis geneem.
Voor Clark Gable het Tokkie my afgeneem, my keps eerbiedig verwyder. Die ou kwasterige minnaar van die silwerdoek het glo op die dekke van die QM heelparty vroulike passasiers se voete onder hulle uitgeslaan. Vir ‘n Tokkiefoto het ek die kolletjie voor die bekoorlike Debbie Reynolds en die beeldskone Liz Taylor uitgesoek. Voor Debbie, omdat die skoolseun HvD taamlik verlief op haar was. Voor Liz, oor die diep spore wat sy as’t ware op die QM getrap het.
Tokkie, Liz en Debbie
Liz was wat ons in vliegtuig-idioom deesdae ‘n “frequent traveller” sou noem – elke keer met ‘n nuwe man, lyk dit. Van die manne wat haar kajuit gedeel het, was Mike Todd. Die rolprentvervaardiger wat in ‘n vliegtuigongeluk dood is, Richard Burton met wie sy twee keer getroud was, en die bedorwe erfgenaam van die Hilton-hotelgroep, Nicky, op hul wittebroodsreis.
Liz en en die vurige Richard Burton het glo deurnag partytjie gehou terwyl die skip deur die branders stoomroller. Nicky het, bid jou dit aan, verkies om in die sigaarkamer tot in die vroeë oggendure kaart te speel eerder as om “gehaltetyd” saam met sy begeerlike bruid deur te bring!
Van ander sterre kom ons o.m. te wete dat Bob Hope sy gholfswaai op die boonste dek geoefen het (die QM2 se Sprts Centre is, terloops, op dek 13; dis een van die weinige skepe wat, bygeloof of te nie, ‘n dek 13 het); dat Bing Crosby graag saam met die fotograwe in die donkerkamer sit en ginnegaap het, en dat Cary Grant een van sy vyf vroue aan boord ontmoet het. Van Noel Coward lees ons : “He was the man who came to personify cocktails, caviar and Cunard.”)
Die glansmense in die suites sluit ook in konings, presidente, premiers en ander historiese figure soos die koninginmoeder, Elizabeth I, en koning George VI, Die Hertog van Windsor. Monty van Alamain, Dwight D. Eisenhower, die twee Bushe van Amerika, Ronald Reagan, Jacqueline Onassis, Nelson Mandela en Desmond Tutu. Ander Hollywooders as die bogenoemdes is o.a. Walt Disney, Dean Martin, Jerry Lewis, David Niven, Ginger Rogers, Marlene Dietrich, Rita Hayworth. Deborah Kerr en Charlie Chaplin. Op die lys van sportsterre is Max Schmeling en Fred Perry.
Beroemde musiekmense wat op die QM gevaar het, is o.a. Ella Fitzgerald, Duke Ellington en Vera Lynn – “Now is the Hour”. H.G. Wells en Helen Keller was ook passasiers.
Ver-troetel(dier) op die QM2
Van Liz Taylor moet ek darem ook meld dat sy in die annale opgeteken is as ‘n passasier wat met haar hondjies op die dek gestap het. Die QM2 het uitstekende dierehokkies op dek 12 – selfs ‘n lampaal vir honde met ‘n houding. Dit is op op aanbeveling van die Hertog van Windsor aangebring om sy hond tuis te laat voel. Van ‘n stamboek-Chow lees ons dat sy middagete op ‘n vaart bestaan het uit rou eiers.
Eksotiese dierereisigers is o.a. ‘n olifant, ‘n apie en daardie Amerikaanse nagdiertjie bekend as ‘n “racoon”. ‘n Mossie het saam duimgery, boonop vergeet om in Southampton die skip te verlaat, en toe sommer tot in New York aan boord vertoef.
Daardie mossie se vergissing verstaan HvD ten volle. Hy sou, trouens, self ook (gerieflik) kon vergeet om af te klim van daardie dywende hemel op water.
Kommentare