top of page
  • Uitmelkbos

SALUUT AAN DIE STAD KOBE


Van die Japanse stad Kobe het rugbyliefhebbers die laaste ruk baie gehoor. Hoe die stad soos ‘n feniks uit die as verrys het, vertel ek in my nuwe boek “Na verre hawens”. Kobe is een van daardie “verre hawens” waaroor ek skryf. Ek en Tokkie was in Kobe in 1998 by die wệreldkongres van koerante.

Die stad was pas herbou na ‘n verpletterende aardbewing. Ons was in die indrukwekkende Oriental Hotel Meriken Park in die hawe en is op daardie einste skippie, die Luminous Kobe 2/ soos konings onthaal. Ons bewonderings vir Japanners is omvangryk.

Kobe is ’n aantreklike hawestad aan die voet van die Mt. Rokko-gebergte. Sy bevolking was met ons besoek in 1998 sowat 1,4 miljoen. Op die rampspoedige dag, 17 Januarie 1995, is die stad in 20 skrikwekkende sekondes feitlik platgevee. Altesaam 6 394 mense is dood, 25 000 beseer en 300 000 dakloos gelaat. Die skade was minstens $132 biljoen. Die meting op die Richterskaal was 7,2 – die hewigste in die land sedert die Groot Tokio-aardbewing in 1923 waarin 140 000 mense omgekom het.

in Mei 1998 is die spreekwoordelike “rooi tapyt” is vir die “eregaste” – dis nou ons kongresgangers! – uitgerol. Die asemrowende, ultra-moderne Oriental Hotel Meriken Park was die eerste verrassing. Die gebou word omring deur die oseaan aan drie kante en staan as ’t ware in die water van die baai. Elke kamer het ’n eie balkon. Daarvandaan het hotelgaste ’n onbegrensde uitsig oor die see, op skepe en mega-seiljagte wat kom en gaan, asook op die helder verligte stadsprofiel met flitsende kleure wat van uur tot uur wissel.

Onthale vir die kongresgangers was onder meer ‘n skemervaart. Daarvoor het die Luminous Kobe 2 ons as ’t ware by die Meriken Park se voordeur kom oppik. ’n Mens kon letterlik van die tweede verdieping van die hotel op die dek stap. Ons is verby die Awaji-eiland en die piece de resistance – die ellelange Akashi-Kaikyo-brug wat pas ingewy was; glansend in die laaste karmosynstrale van die sonsondergang. (Die brug het ’n rekord-span van 1,991 meter, ’n hoogte wat hom in die geselskap van reuse soos die Tokiotoring en die Eiffeltoring in Parys se 321 meter plaas.)

Die Luminous 2 is ’n ’n groot, kragtige, vinnige, weelderige en stylvolle skip in eietydse Art Deco-styl. Met ’n lengte van 106 meter en vier restaurants op drie dekke was dit onder Japan se voorste bote vir sulke plesiervaarte.’n Span galante offisiere en elegante Japanse meisies in kimono’s het by die oopswaaideure gewag. Op die silwerskinkborde was kelkies met ’n verskeidenheid van hul eie voorkeurdrankie, sake, maar – verrassend genoeg – ook met cabernet sauvignon, chardonnay en merlot uit eie wingerde in die Kobekontrei. Kobe-wyn is gesog oor die hele Japan, is ons ingelig.

Op die tafels was ’n fees van Japanse geregte: potjies shabu-shabu en soetsuur sukiyaki met verleidelike geure, en die tradisionele visgereg funamori met repies rou vis kunstig uitgestal op ’n bootvormige bord, sashimi, matsuba-kreef – seekos nommer een uit Japan se waters.Die vleisliefhebber uit Suid-Afrika het dadelik gesoek na die Kobe beef met die kenmerkende “marmer”-strepe in die dieprooi vleis. Die sappige filet kom van beeste wat met massering, bier en ryswyn spesiaal vetgemaak is om koningskos te word.

In “Na verre hawens” vertel ek meer.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page