Soms moet mens net glimlag en Gods water oor Gods akker laat loop. Anders gaan jy dit nooit regkry om te verstaan hoekom ‘n spesifieke klompie boeke naas mekaar op een dag se Boekeblad geresenseer word nie. Hoe anders verklaar mens Hannes Meiring se bespreking van ‘n boek wat meer as ‘n duisend rand kos naas ‘n boek oor die relevansie van die kerk in ons tyd, naas ‘n boek oor die slag van Blaauwberg naas ‘n boek oor Provence?
Dít is wat Die Burger vandag bied. En eintlik kla ek nie. Ek het nou wel nie die kerk-resensie gelees nie. Ek hou nie daarvan om oor godsdiens of die kerk in Die Burger te lees nie. En dis die Dawkins-brigade wat daarvoor te blameer is. Maar miskien is ek die enigste wat so voel.
Hannes Meiring se bespreking van die Phaidon Atlas Of 21st Century World Architecture, waarin 35 Suid-Afrikaanse argitekte vermelding kry, is louter genot. Dis een van daardie resensies wat mens laat voel jy wil die resensent beter leer ken – hy moet ‘n geweldig interessante mens wees! Nou, die kanse is skraal dat ek R1700 sal opdok en dié boek koop, maar ek kan jou alles vertel wat Meiring daaroor sê, en tussen die lyne laat deurglip.
Ewe welkom is Annemarié van Niekerk se skrywe oor Franse Briewe – Pos uit Provence, Marita van der Vyver se vervolg op Hart van ons huis. Behalwe dat dit lekker is om weer ‘n ou vriendin te sien skryf (Van Niekerk het ‘n paar jaar gelede na Den Haag verhuis, en daarmee het een van die nugterste resensente-stemme in Afrikaans stil geraak), laat haar resensie my ‘n weddenskap met myself verloor. Ek was vas oortuig dat Afrikaanse resensente die voor-die-hand-liggende snedigheid gaan kwytraak oor die verband tussen die boek se titel en sekere voorbehoedmiddels. En waaragtig, Van Niekerk doen dit toe nie.
Ek is bly Gerrit Brand het Van Niekerk “teruggebring”.
Martiens van Bart resenseer Blue Berg – Britain Takes The Cape, privaat gepubliseer deur die outeur, Mark Robert Dunbar Anderson. Van Bart is die laaste joernalis wat ooit van Boerehaat beskuldig sal kan word, en dit is nogal amusant hoe hy sy groot agting vir die Britte en wat hulle in Suid-Afrika gedoen het, onderdruk. Wat my betref kon hy die die slag van Blaauwberg maar die vestigingsoomblik van Apartheid in Suid-Afrika genoem het. Maar in die plek daarvan gee hy krediet waar dit toekom, en tog kritiseer hy nie die dinge wat wel kritiek verdien nie: swak taalversorging, en die verbreking van die ongeskrewe reël by geskiedenis-publikasies, naamlik ‘n bronnelys en indeks wat makeer.
Die Universiteit van Johannesburg sit darem vol talent in sy Afrikaanse departement. Een van hulle, Marthinus Beukes, het vanoggend in Beeld ‘n uiters deeglike bespreking van die nuwe Groot Verseboek. Daar het nou al ‘n klompie goeie besprekings hieroor verskyn, waarvan hierdie myns insiens die knapste is. En na dese sal André P. Brink moet verduidelik hoekom hy Daniel Hugo so stief behandel het.
Les bes het At van Wyk in Beeld gekyk na Japie Basson se Steeds op die parlementêre kolfblad. Ek wil my nie oor Basson uitlaat nie want ek ken hom te goed. Wel kan ek sê dat sy geheue hom in die steek gelaat het oor P.W. Botha, en dankie aan At van Wyk dat hy die aandag daarop vestig.
Van Wyk is nog ‘n resensent wat meer deur boekeredakteurs aangetree behoort te word – hy het die regte joernalistieke aanslag, en die kundigheid.
Comments