Na een van die humeurigste weke wat die Afrikaanse letterkunde in baie jare beleef het, het die naweek aangebreek met Breyten Breytenbach se versoek dat sy boeke asseblief nie meer deur die Afrikaanse oggendblaaie geresenseer moet word nie, wat skokgolwe deur joernalistieke kringe gestuur het.
Gelukkig het hulle kop gehou. Sondag het Rapport Marlies Taljaard se resensie gepubliseer van Breytenbach se Die beginsel van stof, en Maandagoggend het Die Burger Rustum Kozain se bespreking geplaas.
Afgesien van alles wat deur hul ignorering van sy versoek ter sprake gebring word (vryheid van spraak, die pers se reg om te rapporteer oor dinge in die openbare domein, die vraag of Breytenbach se uitgewer sy versoek moes probeer afdwing, en of hulle in ‘n posisie is om so-iets te doen), bring dit iets anders ter sprake wat verlede week deel was van al die argumente.
Dít is naamlik watter resensente deur boekeredakteurs gevra word om spesifieke boeke te resenseer. As die verkeerde persoon gevra word (verkeerd in die sin dat daar kwaaivriendskap of versweë agendas is) of as ‘n negatiewe resensie geplaas word in die nuwe bedeling, kan dit noodlottige gevolge vir die boek ter resensie hê.
Hoe besluit ‘n boekredakteur wie hy/sy moet vra? Met Breyten Breytenbach neem ek aan is dit ‘n taamlik maklike besluit. Vra die voorste kenner van poësie in die omgewing om die bundel te resenseer. Hy is tans die beste wat die Afrikaanse taal het, en verdien die kompliment van die beste analis van Afrikaanse digkuns.
Rapport se keuse, Marlies Taljaard, het my dadelik verbaas. Anastasia de Vries het nie vir Heilna du Plooy, Willie Burger of Neil Cochrane gevra nie. Sy het haar gewend tot ‘n resensent wat ‘n raps meer as ‘n maand gelede ‘n resensie vir Rapport geskryf wat gelyk het asof Taljaard nie regtig belang stel om digkuns te resenseer nie.
Taljaard se ommeswaai was skouspelagtig. Die resensie wat sy van Breytenbach se bundel geskryf het – ernstig, ondersoekend, en ‘n baie besliste poging om die bundel te toets en vir die leser ‘n oorwoë besluit te gee - stel haar as resensent in 'n baie beter lig.
Dit is so dat Taljaard se resensie effens bo die kop van die man in die straat verby sal wees. Maar ek glo dit maak nie in hierdie geval saak nie – Taljaard se resensie is nie geskryf vir al 70 000 mense wat die vorige dag op Loftus Versfeld emosionele spuitpoep opgedoen het nie.
Seer sekerlik sal Breytenbach voel dat die resensent hom krities, maar ook met baie respek behandel het. Haar uiters positiewe oordeel is aangeteken.
Eweneens het Willem de Vries in Kaapstad ‘n redelik eenvoudige uitweg gehad. Hy kon kies uit Louise Viljoen, Joan Hambidge, Wium van Zyl, Johan de Lange en verskeie ander. Dat hy toe uiteindelik iemand gekies het wat op YouTube ‘n onderhoud met Breytenbach voer, naamlik Rustum Kozain, het nogal verras. Kozain is nie juis bekend as kenner van die Afrikaanse digkuns nie.
Kozain het my op sy beurt verras met sy resensie van Die beginsel van stof. Dit raak heelwat dinge aan wat Marlies Taljaard en Marius Crous (onlangs in Beeld) nie aangeraak het nie, en is lekker onderhoudend geskryf – iets wat nòg Taljaard nòg Crous kon regkry.
Terwyl ons nog wag vir Volksblad om ‘n resensie te plaas, kan ons nou voorlopig ‘n peiling maak vir ‘n hipotetiese situasie: Gestel Die beginsel van stof het verskyn nadat die drie oggendblaaie se boekeblaaie reeds een geword het – watter resensie sou mens verkies het? (Ek skryf hier as iemand wat die bundel reeds gelees het en dink dit is een van die bestes van Breytenbach se oeuvre; ek lees dus die resensies met die verwagting en hoop dat die resensies my taksering sal onderskryf.)
Taljaard se resensie bly staan, want Rapport is nie betrokke by die nuwe bestel nie. Wie van Crous en Kozain se resensies sou die bundel en skrywer die meeste voordeel laat trek het?
Crous se resensie is tegnies meer indringend, maar hy kom nie by ‘n groter konteks uit soos Kozain nie, en skryf nie so onderhoudend soos Kozain nie. Hy loof, maar sy formulering straal nie met geesdrif nie.
Kozain se persoonlike aanknopingspunt laat mens aanvanklik voel jy lees ‘n artikel en nie ‘n resensie nie, en wanneer hy uiteindelik by ‘n slotsom kom, is dit ná ‘n paar struikelslae waarin hy mens deurmekaargepraat het oor presies wat Breytenbach se digkuns volgens hom behels, en waarmee hy my nie oortuig het nie. Kozain verval nog té veel in gemeenplasige opmerkings, anders as Crous, en dit tel teen hom dat hy nie werklik in sy resensie die tekstuur en taalkrag van Breyten Breytenbach analiseer aan die hand van voorbeelde uit die bundel nie.
In hierdie stadium dink ek nie Crous of Kozain het hul name oneer aangedoen nie, of die bundel en digter skade berokken nie, maar ek sien uit na Volksblad s’n. Dalk is dít die een.
As u meen hierdie spel is futiel, dink net hoe skrywers gaan voel wat van die drie oggendblaaie nét een resensie gaan kry en dit is die absolute teenoorgestelde van dié wat Breyten Breytenbach tot dusver vir Die beginsel van stof gekry het.
***
Rufus Gouws resenseer die tweede, verbeterde druk van Pharos se Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaanse Woordeboek/Dictionary in Die Burger. Die keuse van resensent is amper noodwendig. Wie anders as Gouws? Gouws is van Stellenbosch.
Die resensie is baie positief, maar bevat ook van die soort kritiek wat ernstig opgeneem sal moet word deur die skepper van die woordeboek. Sou ‘n ander resensie hierop kon verbeter? Dit sou miskien meer kon jubel, maar waar anders gaan soek woordeboekmakers hul kanonisering as by iemand soos Gouws?
***
Op dieselfde blad bespreek Fransjohan Pretorius Boerseun, Memoires van ‘n Anglo-Boereoorlogseun van Chris Schoeman. Pretorius is van Pretoria. Die Burger sou uit eie kontrei ook ‘n goeie resensent kon gevind het.
Die vraag is egter of dit hoegenaamd nodig is. Pretorius se resensie is negatief – en dit is ernstig te betwyfel of enigiemand hierna ‘n positiewe saak sal kan maak vir ‘n boek wat duidelik ernstige feitelike gebreke het.
Jeanette Ferreira het die boek reeds baie positief bespreek in Rapport. Sy het nie een van die foute wat Pretorius raakgesien het, in haar resensie vermeld nie.
As hiedie die enigste twee resensies van sy boek was, sou Chris Schoeman nie kon kla nie.
***
‘n Laaste saak wat betrekking het op die debat oor die een boekeblad vir die oggendkoerante: Hoe gemaak wanneer ‘n boek ‘n baie positiewe resensie kry met die intrapslag? As die boek deur Joan Hambidge is, sou mens ‘n saak kon uitmaak daarvoor dat een resensie nie genoeg gaan wees nie - sy is as digter en letterkundige belangrik genoeg om meer as een resensie te regverdig.
Maar pas hierdie week kry haar bloemlesing Visums by verstek ‘n baie geesdriftige goedkeuring deur Marius Crous in Beeld. Crous is van Port Elizabeth, waar Die Burger nog ‘n grenspos het.
Het mens meer nodig, sou die redakteur van die nuwe boekeblad kon vra, en dadelik die ander twee wat hy by voorbaat versoek het, laat kanselleer.
Maar wat gemaak as die ander twee resensente sê hulle gaan tog skryf, want hulle stem nie met Crous saam nie?
Aan die een kant sal dan presies gebeur wat sou gebeur het as daar drie boekeblaaie was. Niemand het egter die versekering dat die nuwe enkelvoudige redakteur drie resensies van Hambidge sou aanvra nie. Ons weet nog nie wie dit is en of hy digters so goedgesind is soos die huidige drie boekeredakteurs nie.
Aan die ander kant sal ons binne die volgende weke, voordat die lem deur ons nekke sny, kan sien wat Die Burger en Volksblad se resensente van die Hambidge-bloemlesing maak. Dis ‘n interessante dilemma.
Comments