top of page
  • Crito

Op die boek af

Verskoon my dat ek oor ‘n resensie skryf wat in die taal van die imperialis gepubliseer is, maar ek het so baie gehou van Eckhard Cloete se bespreking van From Groot Constantia to Google: 1685 to 2010 – A Colourful History of Brands and Branding in South Africa dat ek dit nie wil ignoreer nie.

Dié bespreking is ‘n pragtige voorbeeld van ‘n strydvaardige of agiterende boekbespreking. Met die eerste sin al gee Cloete kennis dat hy nie van die boek hou nie en daarna pak hy uit.

Mens kan alleen ‘n idee kry van hoe deeglik Cloete die boek afransel deur die resensie self op Boeke24 se blad of webwerf te gaan lees. Ek wil veral die aandag vestig op die manier waarop hy in die loop van die bespreking, op die plek waar hy ‘n baie groot pluimpie aan die boek gee, terselfdertyd vir jou vertel presies wat met die boek verkeerd is.

Luister hier: “Die ineenvlegting van handelsmerke se stories met die breër maatskaplike en sosiale agtergrond kan vir sommige mense interessant wees en in dié opsig is die boek grotendeels geslaagd.”

Dit word onmiddelik gevolg deur: “Maar dis ’n lá-a-a-ng lees wat ongelukkig nie die ondersteuning van ’n boeiende skrywerstem of bekwame redakteurshand kry nie.”

Mens hoef nie ‘n stipleser te wees nie om te besef hy sê: Vervelig, onprofessioneel gepubliseer, vermy.

Verderaan is hy minder subtiel, en sê hy meer direk wat hom pla. Eienaardig genoeg is dit die subtiele houe wat die meeste krag het.

Cloete se bespreking het ook ‘n stertjie of nagedagte. Vermoedelik het Cloete of die blad se redakteur, Elmari Rautenbach, raakgesien dat From Groot Constantia to Google ‘n onwaarheid die wêreld instuur oor juis Groot Constantia. Die wynskrywer Tim James word dan aangehaal om hierdie dwaling te weerlê.

Baie interessant. Ek wonder hoe die uitgewer, Ken Wilshere-Preston na dese voel.

***

Joan Hambidge se resensie van Grilbrigade (Fanie Viljoen) op Boeke24 is groot pret. Kundig oor die boek, maar ook met ‘n sardoniese humor oor haarself en haar agtergrond geskryf.

Net een vraag, aan die redakteur van die blad: Wat het die opskrif by die resensie, “Viljoen slaag waar vele ander misluk” met die resensie te doen? Hambidge sê niks van die aard nie. Waarin slaag Viljoen? Om Joan Hambidge se guns te wen? Of om ‘n boek te skryf wat jong lesers se aandag sal boei?

***

Iemand vra my onlangs wat die ideale soort resensie is. Dis ‘n vraag met baie antwoorde, maar as ek prakties moet wees, sou ek sê dat Leon de Kock op Boeke24 baie naby daaraan gekom het met sy bespreking van In die withaak se skadu en ander Schalk Lourens-stories.

Bygesê, dit help dat hy die samesteller was van die enigste vorige bloemlesing van Afrikaanse vertalings van Herman Charles Bosman se werk.

In die withaak se skadu het verlede jaar al aandag op hierdie blad en elders gekry, maar De Kock doen eintlik wat nie een van die vorige resensente van die boek gedoen het nie. Hy sê dadelik dat hy nie fout daarmee kan vind nie, en dan identifiseer hy die vraagstuk wat deur die bundel opgewerp word, naamlik in watter mate Suid-Afrikaanse en spesifiek Afrikaanse lesers van Bosman verkies om die verhale in Engels eerder as Afrikaans te lees.

Dít is mos die kern van die saak, die enkele gedagte wat die uitgewer ‘n besluit in een rigting laat maak het en wat vir die boek se bestaan verantwoordelik is.

Wat De Kock dan doen, is om die onderwerp vir bespreking oop te stel. Sy resensie eindig dan ook nie met ‘n opsommende oordeel nie, maar met ‘n aanduiding van die besprekingsveld.

***

Ek skud my kop, kan dit nie verstaan nie. In Sondag se Rapport is daar een groot boeke-resensie, ‘n goedige skryfsel deur ‘n goeie omie. En op hul webwerf is daar drie verdere nuwe resensies oor boeke wat al vyf maande gelede verskyn het wat interessanter is en in een geval baie lewendiger geskryf.

Die papier-uitgawe kry Leon Rousseau se oorsig oor ‘n klompie nuwe publikasies wat die jong leser se verbeelding prikkel. Rousseau skryf altyd met gesag, maar ek dink dit is ‘n artikel dié wat net gelees sal word deur mense wat nog kleuters en peuters het. Dis ‘n bietjie tam, in elk geval, vir iemand wat sy Rapport-leessessie begin het met die onthulling oor Eugéne Terre’Blanche se ander vrou.

Maar hoekom, wonder ek steeds, is Celeste Fritze se uiters prikkelende resensie (vir diegene wat in taalgebruik belang stel) van Bloedwater(Douwleen Bredenhann) slegs op die webwerf gepubliseer? En boonop tweede, ná ‘n redelik formulistiese resensie van dieselfde boek deur Elzette Steenkamp?

Die enigste opmerking in Fritze se betoog wat my totaal dronkslaan, is haar slotopmerking: “Die roman word plek-plek ontsier deur tipografiese foute.” Omdat ek die boek verlede jaar al gelees het, het ek dit nou weer goed bekyk, en ek kan nie begryp hoekom Fritze so iets sê nie. Bloedwater is ‘n boek sonder tipografiese foute.

Dis werklik jammer dat Fritze haar goeie werk met sulke nonsens afsluit.

Nini Bennett se bespreking van Kronkelpad (Irma Joubert) kry ook slegs die internet-behandeling. Maande nadat die boek verskyn het. Die teleurstelling van die laat-resensie word alleen versag deur die feit dat Bennett die boek na behore positief beoordeel.

Wanneer gaan iemand Irma Joubert na waarde skat en iets behoorliks skryf oor haar? Tel die feit dat sy nou een van die gewildste trilogië geskryf het wat nog in Afrikaans verskyn het, dan vir niks?

0 views

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangali

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

Comments


bottom of page