‘n Nuwe lente, nè.
Sprei wyd die arms, gryp 2012 met geesdrif aan. Mag vanjaar se resensies die boeke waardig wees.
Voorspoed! Vreugde! Venyn! Wat ookal toepaslik is.
***
Vir wat is Suzette Kotzé-Myburgh so oordentlik? Pleks dat sy in haar resensie van Marinda van Zyl se Wilhelmina Radebe kom tuis (Boeke24) sommer dadelik inklim, laat sy ons eers deur ‘n fraaie samevatting van die inhoud worstel voordat sy kortliks by die implikasies van die roman verpoos, en dan kom sy by die kritiek.
Wat sy in watte verpak.
Maar gelukkig is sy ook ‘n ou kalant. As jy mooi lees, is daar baie te lees wat nie daar staat nie.
Wat sê sy? Sy wys daarop dat Lapa nie die naaswenner van sy romankompetisie van 2011 gepubliseer het nie, maar wel Protea. Wat dadelik vrae wek: Bang vir die politiek? Of: Is Lapa teleurgesteld met hul oes naaswenners?
Sy sê ook: As ‘n mens ‘n naaswenner van ‘n literêre kompetisie publiseer, beduiwel jy dit nie met vrot redigering nie. Jy sorg dat elke komma en punt verantwoord is, en jy beskerm die skrywer deur te let op die interne werking van haar roman (deur in hierdie geval ernstig te werk aan die rol van die fokalisator).
Maar nie almal lees resensies só stip nie. Kotzé-Myburgh moes liewers met “guns a-blazin’” begin het, en minder doekies omgedraai het. Haar versigtige, oordentlike benadering veroorsaak dat sy net halfpad vir Marinda van Zyl in die bres tree.
***
Frans Rautenbach ly aan dieselfde probleem. Sy ouers het hom te goed grootgemaak. In sy bespreking van Stryd in die bos van Johan Fourie (Boeke24) noem hy eers die paar positiewe dinge omtrent die boek op wat hy uit sy lees daarvan kom aanstip, en daarna vertel hy vir ons, ook baie saggies en soetjies gestel, dat die boek nie net swak geskryf is nie, maar nog vrotter geredigeer is.
Wat help dit ‘n gedeelte van die boek se inkomste gaan aan renosterbewaring? Oordeelkundige uitgewers en goeie teksversorgers is duidelik ‘n meer bedreigde spesie.
***
Moira Richards val met haar bespreking van Donker plekke (saamgestel deur Francois Bloemhof) in Rapport baie sleg in die deur. ‘n Klomp woer-woer veralgemenings, en dan ‘n paragraaf waar sy die woord “kompleet” gebruik en al my goedgesindheid verloor. Daarna bly dit bolangs, tot by die einde, waar sy in die slotparagraaf die volgende sê:
“As jy die versameling Donker veld: Afsprake op spanningsterrein gelees het wat in 2003 verskyn het en nou uit druk is, sal jy die 11 verhale in daardie boek in Donker plekke vind.”
Hoekom nie net sê Donker plekke is ‘n bygewerkte heruitgawe van Donker veld (2003) nie?
***
Hans du Plessis maak korte mette van Margaret Bakkes se Fado vir ‘n vreemdeling (nog ‘n naaswenner van Lapa se romankompetisie) op Boeke24 se blad. ‘n Lekker leesbare prikkel, maar helaas geen kritiese bespreking nie.
Comments