Weer ‘n skraal week vir Afrikaanse resensies. Genadiglik is die eensame resensie wat daar wel op Boeke24 is, deur Alexander Strachan van Grensoorlogstories (samesteller Jeanette Ferreira), darem een waarby mens ‘n ruk kan stilstaan. Strachan is waarskynlik die mees geskikte persoon om ‘n bundel van hierdie aard te resenseer.
Ek maak net enkele aantekeninge:
In die inleidende paragraaf word gepraat van ‘n “heerlik leesbare boek”, en ten slotte maak Strachan weer melding van ‘n “toeganklike boek wat maklik lees en sekerlik deur baie lesers geniet sal word”. Die vraag wat dit by my wek, is of mens boeke oor ‘n grensoorlog wat vir die Suid-Afrikaanse samelewing geweldig baie negatiewe gevolge en newe-effekte gehad het, moet benader met die verwagting dat hulle ‘n plesierige lees-ondervinding moet afgee?
Strachan verduidelik nie vir die oningeligte leser presies watter grensoorlog hier ter sprake is nie. Hoe baie hedendaagse lesers is bewus van Suid-Afrika se betrokkenheid in Namibië en Angola? Ek glo nie ‘n resensent moet sondermeer aanneem dat almal op hoogte is van sake nie.
Ons lees van ‘n inleiding deur die oudsoldaat en skrywer Louis Bothma. Behoort dit vir ons iets te sê? Was Bothma by daardie grensoorlog betrokke, en wat het hy geskryf? Strachan maak té veel aannames oor sy lesers se ingeligtheid.
Wanneer Strachan by sy eie reaksie op die bundel kom, verbeter sake. Hy vermeld feitlik onmiddelik dat die bydraers uiteenlopende houdings het oor die grensoorlog, dat baie van die verhale geskryf is deur vroue of deur mense wat nie self aan die oorlog deelgeneem het nie. Boonop vermeld hy dat hy nie die indruk gekry het enigiemand is polities aan bande gelê met hul vertellings nie.
Altesame ses verhale word uitgewys as synde meer krities oor die grensoorlog as wat die ander 25 is. Strachan wonder nie of dit ‘n aanduiding is van die samesteller se eie houding oor die grensoorlog nie.
Ek hou van die inligting wat Strachan gee oor sommige van die verhale. Dis jammer dat hy nie meer daaroor kon skryf nie. Veral bydraes soos Johan Bakkes se “Rondomfok” en Gerda Taljaard se “Kerkparade” klink na verhale waaroor hy kon uitgewei het, tot die leser se voordeel.
In die geheel is Strachan se resensie prikkelend genoeg om mens nuuskierig te maak. Ek sou egter baie graag meer wou gelees het oor hoe hy die verskille sien tussen die skryfwerk oor die grensoorlog van nou, en dié van die jare tagtig. Hy verwys na verskille, maar dit bly net by enkele opmerkings. Hopelik is dit iets wat hy in BY meer breedvoerig kan bespreek?
Skakel:
http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Toeganklike-bydrae-oor-die-Grensoorlog-20120527
Yorumlar