top of page
  • Crito

Numbers, getalle en emosies



1. Die boeiendste resensie vandeesweek is ongetwyfeld Leon Retief s’n oor “Galileo Goes To Jail And Other Myths About Science And Religion”. Ek sê dit brommend, want ek kon die boek gister in geen Kaapse boekwinkel opspoor nie. Alweer een van daardie resensies wat mens irriteer: Jy wil die boek nou hê, nie oor twee maande wanneer die winkel dit ingevoer kan kry nie. (Ek kon darem vasstel dat die boek in Maart uitgegee is deur die Harvard University Press, in Amerikaanse en Britse uitgawes.) Retief skryf ‘n pakkende resensie oor die verhouding tussen wetenskap en godsdiens deur die eeue. ‘n Onderwerp wat, kan ek my voorstel, weer George Claassen na die rekenaar sal laat gryp om die groot Suid-Afrikaanse leespubliek in te lig dat helfte wat in die boek staan, gewoon liegstories is. Julle kan self raai watter helfte, laat ek nie nou al Claassen se pret bederf nie. Intussen wag ek vir die boek, ‘n knipsel van Retief se resensie byderhand. Ronald L. Numbers, die samesteller van die boek, klink volgens HUP se webwerf na iemand wat wel met gesag oor die onderwerp kan skryf. Veral vir mense soos ek, wat na godsdiens se kant oorhel.

2. Twee resensies oor rubriek-bundels: Martie Retief skryf in Rapport oor Rhoda Kadalie se “In Your Face” en Joan Hambidge in Die Burger oor André le Roux se “Op die vrou af 2”. Hambidge sê op ‘n plek: “Ons sit met ’n tweede versameling, dus is daar ’n aanvraag.” Wat ek graag sou wou sien, is dat ‘n ondernemende joernalis wat by verkoopstatistiek kan uitkom, vir ons vertel of Hambidge se aanname korrek is. Verkoop hierdie soort bundels dermate dat mens op Le Roux se boek ‘n dingetjie sou kon plak wat sê “Back by popular demand”? Ek glo nie so nie – vir my is koerante en tydskrifte se web-argiewe die finale rusplek van rubrieke. (As ek ‘n rubriekskrywer was, sou ek seker anders gevoel het.)

3. Ek hou van die Deborah Steinmar se aanpak van haar resensie van Danie Marais se “Al is die maan ‘n misverstand”. Sy begin: "Gedigte kan ek om die dood nie intellektueel ontleed nie. Hiermee ’n emosionele analise van Danie Marais se tweede bundel.” So eenvoudig soos dít, en sy het ‘n skoon lei waarmee sy kan maak wat sy wil. En sy doen dit, baie goed. Dit gaan daaroor dat die resensent haar raamwerk self bepaal het. As sy 'n "intellektuele" resensie wou skryf, sou sy dit anders aangepak het. Maar omdat sy inlei met die opmerking dat dit oor haar emosionele reaksie op die gedigte gaan, kan sy doen wat sy wil. Die vraag is uiteraard of die Boekeredakteur een week moet toelaat dat Johann de Lange se digbundel vernietig word deur 'n baie kritiese resensent, en die volgende week laat hy toe dat 'n ander bundel baie, baie sagkens behandel word. Ek glo nie daar is hier sprake van "the luck of the draw" nie. Die Boekeredakteur weet wat hy van 'n spesifieke resensent te wagte kan wees. (Vir wat dit werd is, ek het De Lange se bundel onder oë gehad, en het weer Ampie Coetzee se resensie gelees. Enigiemand wat die bundel in die hand neem sal gou agterkom dat Coetzee die stoel heeltemal misgesit het met hierdie resensie. Maar, en dit is die punt, hoeveel van die lesers van daardie resensie gaan dieselfde moeite doen?)

0 views

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangali

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

Comments


bottom of page