top of page
  • Crito

'n Kwessie van ruimte

Vroeg Maandagoggend het die Suid-Afrikaanse agent vir Salman Rushdie se boeke opgewonde ‘n sms geflits na Rushdie se literêre agent oorsee.

“Fantastiese resensie deur Marina le Roux oor ‘The Enchantress of Florence’ in vanoggend se uitgawe van Die Burger.”

“Wat?” kom die antwoord. “Het André Brink nie kans gesien nie? Of John Coetzee?”

“Hoekom moes hulle?”

“Rushdie is ‘n internasionale fenomeen! Jy laat hom deur sy portuur resenseer!”

“Nee man. Jy weet mos die mense hier kla oor Joan Hambidge haar portuur so resenseer. “

“Pret a portier?”

“Die resensie is baie goed. Ons soek mos positiewe resensies wat insiggewend is sonder om banaal te wees. Ek sal dit vertaal en deurstuur. Dit sal Salman opbeur en verkope van die boek aanhelp sodra die wêreld daarvan hoor.”

Waarop die literêre agent ten slotte laat weet het: “Ek kan nie wag nie. Sal ons solank advertensieruimte in die TLS bespreek? Bid jou aan!”

Wys jou net, nè.

Daarom dat Pieter Mulder so bly kan wees dat Die Burger uiteindelik tussen al die resensies van Engelse, Amerikaanse en Nederlandse boeke die ruimte gevind het om sy “Kan Afrikaners toyi-toyi?” te laat bespreek.

En dan nog deur ‘n ou ondersteuner van die DA, Martie Retief Meiring. Gelukkig ken Meiring haar storie. Die Australiese insident wat Mulder belewe het saam met sy mede-parlementariërs verdien oorvertelling, maar ek het gedink dat sy dalk nog heelwat meer van die tekstuur van die boek kon oorgedra het. Miskien te min ruimte gehad?

Nie dat Annemarie van Niekerk haar aan ruimte-probleme gesteur het nie. Sy neem 478 woorde om Suzanne le Roux se bakenverskuiwende “Momente en Mirakels” te bespreek, waar een sin sou gedoen het: “Wisselvallige, voorstedelike ego-trip net vir vriende bedoel.” Maar nouja, miskien wou die taalversorger nie die integriteit van Van Niekerk se woordkeuses aantas nie. Dit is belangrik dat Die Burger se lesers behoorlik ingelig word oor die vervlakking van ons kultuurgoed.

En dan is daar ook Willem Pretorius se bespreking van Hans du Plessis se nuwe roman, “Verbrande paradys”. Ek en Pretorius het in dieselfde koor gesing oor Neil Cochrane, maar ek glo nie hierdie keer nie. Mens kry die idee dat Pretorius nie eintlik geweet het hoe om te reageer nie. Marina le Roux sou geweet het hoe om hierdie roman te takseer, maar sy was besig met hogere dinge.

Suzanne Harper hou haar in Beeld besig met ander hogere dinge in die vorm van Chris Barnard se “Oulap se blou” – ‘n hier-kiep-kiep resensie van die voortreflikste aard. Sy noem letterlik alles op wat op te noem is van hierdie bundel. Ek het dit reeds gelees, en daarom dat hierdie lang, oninteressante resensie my so na my asem laat snak het: Hoe kan sulke wonderlike vertellinge só ‘n styllose aftellery afgee? Seker maar die nuwe paradigma.

Maar daar is hoop. Jaybee Roux maak sy welkome terugkeer tot die boekeblad van Beeld met ‘n mesmeriserende bespreking van “Riven”, ‘n boek deur Jerry B. Jenkins wat by ‘n uitgewer van Vereeniging verskyn het. Dit is ‘n resensie wat mens laat regop sit. Veral wanneer Roux beken dat hierdie boek hom tot besinning geroep het na ‘n lang soektog en dat hy hom nou by impliksie self werklik leer ken het.

Beeld se lesers is sekerlik saam met hom baie, baie bly daaroor.

(Daniel Hugo, hierdie een is vir jou.)

1 view

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangali

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page