top of page
  • Crito

'n Bietjie baie geskiedenis

Afrikaanse koerante staan in die brandpunt van taalontwikkeling. By dié koerante kry die samestellers van WAT hul meeste voorbeelde van vernuwing. Ek wonder dikwels hoe  die leksikograwe se gemoedere daagliks fluktueer, veral wanneer hulle die swak  taalversorging in Beeld en Die Burger besigtig.

Verlede week het ek die redigering van Jaybee Roux se jongste resensie in Beeld bespreek. Ek wil nie vandeesweek dieselfde gekweel aan die gang sit nie, maar ek dink tog dat Christi van der Westhuizen se amper goeie Afrikaans op Die Burger se boekebladligweg aandag verdien.

Van der Westhuizen is self taalgevoelig. Dít lei mens af uit die slotopmerkings in haar resensie van Martin Meredith se “Diamons Gold and War; The Making of South Africa”. Sy wys op twee afskuwelike vertalings waarvan Meredith hom bedien het. Daarvoor is ons haar dankbaar.

Ongelukkig het sy self‘n wasige taalgebruik wat nie getuig van semantiese noukeurigheid nie.

Neem byvoorbeeld hierdie sin: “Aangesien dié geskiedenis al oor en oor gepubliseer is in soortgelyktoeganklike boeke, wonder ’n mens dadelik wat die boek nuut byvoeg tot dié uitgebreide volume skryfsels.”

Die twee woorde wat dadelik hinder, is “gepubliseer” en “skryfsels”. Jy vra jou af of ‘n stuk geskiedenis (synde ‘n ketting van gebeure met ‘n aantoonbare begin-en eindpunt) gepubliseer kan word. Ek dink ek weet wat sy bedoel, en kan vir haar ‘n paar woorde aan die hand doen wat in die plek van “gepubliseer” sou kon diens doen: “bespreek”, “ontleed” of selfs “analiseer”. “Skryfsels” is op sy beurt ‘n woord met ‘n negatiewe lading, gebruik in teenstelling met “skryfwerk”, “ontledings”, “besprekings”, “navorsing”.  Van der Westhuizen gebruik dit om uit die staanspoor aan te dui dat sy meen Meredith se werk is van mindere statuur, behorend tot die kategorie van “toeganklike” boeke oor die onderwerp. Hoe opreg kan haar verwondering dan wees oor die nuwe insigte watdie boek bring tot hierdie genre?

Mens kan haar die gevoel van meerderwaardigheid verskoon, maar slegs as jy dink dis in orde dat ‘n resensent sy vooroordeel met die intrapslag uitbasuin en dan vir die res van die resensie bestendig.

Die slordigheid slaan daarna plek-plek uit. Een van die juwele: “Die gebeure verloop vloeiend sonder te veel aanhalings en met geen regstreekse verwysings nie.” Sy gebruik “gebeure” korrek (in die sin van ‘n ketting van gebeurtenisse), maar ‘n goeie redigeerder sou “vloeiend” na “vlot” verander het, en dan dadelik gewonder het hoe op aarde aanhalings ‘n ketting van gebeurtenisse kan onderbreek. In hierdie geval sou die sin dus liefs as volg moes lui: “Meredith se vlot beskrywing van die gebeure word nie te veel deur aanhalings onderbreek nie.” Met “geen regstreekse verwysings” het ek egter nie raad nie. Ek weet gewoon nie wat sy daarmee bedoel nie. Maar dit klink na ‘n slim opmerking wat sy maak, nè?

Van der Westhuizen se sensitiwiteit vir die narratief en die ketting van gebeure laat haar in die steek wanneer sy die volgende kwytraak: “Maar in die poging om die netjies afgebakende geskiedenis soos ’n storie te vertel konsentreer Meredith noodwendig op daardie feite wat mooi by mekaar aanhaak.” As sy aanvaar dat Meredith ‘n stuk geskiedenis as verhaal wil vertel, kan sy mos nie kapsie maak daarteen dat Meredith konsentreer op feite wat netjies skakel nie. Sou sy haar nie dalk beter uitgedruk het nie as sy aangedui het Meredith se vertelling feite ignoreer wat nie netjies by sy vertelling inskakel nie, en dan aandui watter feite dit is?

Dit mag miskien klink asof ek Christi van der Westhuizen se resensie wil afskiet. Allermins. Ek hou van die feit dat sy so uitvaar, dat sy met passie skryf. ‘n Mens hoef dit alleen te vergelyk met die hardlywige intellektualisme van Neil Cochrane se bespreking van Etienne van Heerden se “30 nagte in Amsterdam” of die lusteloosheid van Stoffel Cilliers se bespreking van Hans du Plessis se “Verbrande paradys”, en jy sal weet watter soort resensie gaan iets beteken vir iemand wat ‘n boek soek om te lees.

Ten slotte wonder ek of daar ‘n sin weggeval het in Cochrane se eerste paragraaf?Ek het gedog dié paragraaf behoort só te lees: “Skaars ’n jaar ná die publikasie van Asbesmiddag(2007) verskyn Etienne van Heerden se agtste roman, 30 nagte in Amsterdam. Ses maande later eers verskyn ‘n bespreking daarvan in Beeld.”

1 view

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangali

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

Commentaires


bottom of page