top of page
  • Uitmelkbos

LEES-FEES


My beskeie bydrae tot die lees-fees: ‘n herbesoek aan Blandings Castle van P.G. Wodehouse.

Boeklees, leesfees, woordfees – vir die liefhebber van boeke en die gedrukte woord was die vaart op die QM2 ook in daardie opsig ‘n fles nardus-salf vir die siel.

 Soos op daardie skip gelees word, is ‘n openbaring.  In die teaters voor vertonings begin, in dekstoele, langs swembaddens, in sitkamers …. natuurlik, in die wonderlike biblioteek …  oral sien jy mense verdiep in hul boeke.  Ry op ry. In die gange sien jy oral boeke onder die arm – dikwels allemintige dik boeke.  

 Die waarde van ‘n boek word in die huidige tydvak, helaas,  nie meer deur almal ewe hoog aangeslaan nie.   Honderde – dalk duisende aanhalings – kan nietemin opgediep word wat die boek in gloeiende terme besing. Ek hou van dié woorde van Carlos Ruiz Zafon in “The Shadow of the Wind“, wat ds. Carl Louwrens van Skukuza, ‘n bibliofiel by uitnemendheid,  ‘n keer met my gedeel het : 


bbb-001

Grootste biblioteek ter see.

  “Every book has a soul. The soul of the person who wrote it and of those who read it and lived and dreamt with it. Every time a book changes hands, every time someone runs his eyes down its pages, its spirit grows and strengthens. In a shop we buy and sell books, but in truth books have no owner. Every book has been somebody’s best friend.”

 Die boek – ‘n vriend, ‘n sielsgenoot. Iemand anders,  naam ongelukkig vergeet, het ook ‘n goeie boek as ‘n goeie vriend beskryf. Hy/sy het iets in hierdie trant bygevoeg: Dit praat met jou wanneer jy lus is vir gesels, dit bly stil as jy stilte wil hê – en daar is nie baie vriende wat hierdie geheim ken nie.

 Weet nie op ander vaarte nie, maar op hierdie een van die Kaap na Sydney het dié warme gevoel oor boeke klaarblyklik oorheers.  Kyk gerus na die foto’s wat ek sommer rond en bont gemik en-druk het.  Dit vertel die storie, maar ook nie heeltemal nie. Trouens, die paar foto’tjies bied eintlik maar ‘n effentjiese beeld van die omvattende leeskultuur op die skip.

IMG_0184-001

Ontspanning op die dek – jy spel dit l..e..e..s.

 Miskien het hierdie leeslus iets te make met die spyse wat Cunard bied.  Op sy skepe is dit immers nie net baldadigheid, bingo, black jack en bordspeletjies nie.  Op die program is ‘n stewige intellektuele komponent, met voorlesings deur kenners, seminare, werkwinkels en nog wat.  Die kroon is die QM2 se biblioteek op dek 8 – ‘n ware skatkamer. 

 Rye blink gepoleerde okkerneuthoutkaste staan in rye in die smaakvolle ruimte van 65 vk. m.  Agter die glasdeure is iets soos 10 000 boeke – die grootste versameling ter see.  By die groot, diep vensters is heerlike diep leunstoele.  Salig om genoeglik daarin weg te sak met jou boek. Telkens as jy opkyk, sien jy hoe die boeg die blou dam se waters klief. Ai, daardie mooi biblioteek. Dis ‘n plek wat ek en Tokkie graag opgesoek het vir ‘n paar rustige oomblikke. Ons was nie altyd gelukkig nie. Soms is ons deur te veel ander boekliefhebbers voorgespring.

 Ek het met ‘n lys boeke by die skip opgedaag.  Maar “so many books, so little time”, soos Frank Zappa homself bejammer het. Uiteindelik had ek te min tyd. Ek was tog lus vir P.G. Wodehouse en Agatha Christie, twee staatmakers uit vergange jare.  Wodehouse het ek vergeefs in die humor-rakke gesoek. Sy boeke oor Jeeves, die hoëlui van BlandingsCastle en so is, tereg, as “classics” gesorteer.   (Van “My Lady” Agatha – mag haar seker maar so noem? – het ek haar antieke moordstorie uit Egipte gelees: “Death come as the end” – boeiend.) 

 In die biblioteek was verskeie boekteken-okkasies. Die hoog gestapelde boeke van sir Max Hastings, Britse oud-redakteur en geskiedskrywer, in die winkel langsaan het veral groot aftrek gekry.  Die joernalis Peter Hawthorne, ook bekend in Suid-Afrika, het munt geslaan uit Nelson Mandela.  Hastings, Hawthorne en andere het met hul bekendstellings vol sale getrek. Vir my Sabieparkvriend Tony Park van Sydney  – so plus-minus die Australiese eweknie van Deon Meyer – het ek laat weet: “Jy moet op die QM2 kom boeke verkoop. Dit sal vlieg!” (Deon Meyer se “Kobra” is, terloops onder party arms gewaar. Engelse vertalings van sy boeke figureer in die skeepsbiblioteek.)  


Leesopskip1-001

Met die loerkamera betrap: besig om te lees.

 Waarop stuur ek af?  Vir eers dat uitgewers en allerlei anderlike boekemense in die algemeen maar mismoedig is oor die toekoms. Daarby  dat doemprofete oor, selfs grafgrawers vir die gedrukte woord deesdae agter elke tolbos uitgeskop kan word.

 Vir die mismoediges én die premature roubeklaers is hierdie ervaring hopelik nuus. Ek nooi hulle vrymoediglik: Kom, vriende, Romeine en landgenote, kom kyk hoe die boek op die QM2 gedy.

 “Die kind is nie dood nie…. ” (met verskoning aan Ingrid Jonker.)

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page