Ons het probleme gehad met die oplaai. Hier is vir eers die blog wat ek verlede week wou oplaai. Vandeesweek s'n kom later.
***
Mens moet aanneem, om gewoon praktiese redes, dat die nuwe redakteur van Die Burger se Boekeblad, Willem de Vries, besig is om die agtergeblewe resensies uit Gerrit Brand se termyn weg te werk. Dit verklaar die groot getal resensies van Engelse boeke, asook van boeke wat vermoedelik by Brand se belangstellingsveld gepas het, wat mens steeds op die blad sien.
De Vries moet nog self toon hoe hy voel oor die behoefte wat lesers van ‘n Afrikaanse dagblad het om ‘n bespreking te lees van Sue Townsend se The Lost Diaries of Adrian Mole of van Violence – Six Sideways Glances van die filosoof Slavoj Zizek, wat by ‘n klein Britse uitgewery verskyn het.
Trouens, ek brand om te sien of De Vries soos sy voorganger resensies gaan plaas van Nederlandse boeke wat nie geredelik in Suid-Afrikaanse boekwinkels beskikbaar is nie. De Vries kom uit ‘n goeie bloedlyn, en ek hoop van harte dat met hom aan die stuur die Afrikaanse boek weer die aandag gaan kry wat mens verwag ‘n Afrikaanse dagblad daaraan sal gee.
Die eerste tekens is reeds daar. Wium van Zyl, wat nie die afgelope jaar eintlik ‘n groot profiel gehad het onder Die Burger se resensentekorps nie, maak ‘n welkome terugkeer. Van Zyl se skryfstyl was nog altyd een wat ek bewonder het. Jy kry nie by hom die akademiese bedompigheid wat soos ‘n winterse mistigheid om sommige van sy kollegas se resensies bly hang nie. (Jy het warm oë nodig om hulle helder gelees te kry.)
Sy bespreking van Danie Schreuder se ‘n Beter hemel is eksie perfeksie – en boonop gee hy vir diegene wat Schreuder wil plaas binne die groter konteks van Afrikaanse lektuur die belangrike sleutel na die skryf-aanpak van dr. Con de Villiers.
Indien mens hoegenamd belang stel in die verskil tussen goeie en swak geskrewe resensies, moet jy Van Zyl s’n vergelyk met dié deur Stoffel Cilliers verlede week in Beeld. (As jy dit kan vind – maar meer later daaroor.)
***
Uit die pen van Joan Hambidge kom die hoofresensie op vandeesweek se Burger-boekeblad. Dit is van Riana Scheepers se kortverhaalbundel Katvoet. Dit is een van Hambidge se uithaal-en-wys-resensies. Knap, op die punt af, ewewigtig. In dít wat sy verswyg, of by implikasie byhaal, lê dikwels die skerper kritiek verskuil. Kyk gerus na die manier waarop sy sê dat die bundel nie haar insiens ‘n verbetering is op Scheepers se eerste twee kortverhaal-bundels nie.
Hambidge as resensent is ‘n interessante fenomeen, as sy my dié beskrywing sal verskoon. Sy het ‘n wye register van styl en aanpak. Die losser styl (wat mens miskien haar vliegtuiggesprek-styl moet noem) is miskien vir haar lekkerder om te skryf omdat dit makliker is om daardeur retoriese vuurwapens te gebruik. Dit is vandag - noudat skoliere nie meer behoorlik sensitief gemaak word nie vir dinge soos ironie, sarkasme, humor en so meer, en waar diegene wat dit nog ken weens politieke korrektheid nie weet of dit nog behoorlik is om dit te geniet nie – moeiliker om daardie wapens te gebruik in ‘n resensie met ‘n meer formele styl, soos die een oor Katvoet.
Die enigste gevaar wat daar vir haar as resensent ontstaan, is dat lesers wat nie die stylspronge saam met haar kan of wil maak nie, soms mag dink dat haar skryfwerk besig is om uit te rafel, of gewoon slordig is. (En wanneer sy die dag werklik slordig skryf, vermoed mens ongelukkig net selfparodie.)
Die Katvoet-resensie het, uit ‘n retoriese oogpunt, besonder baie om die lyf. Analiseer gerus hierdie twee sinne: “Dikwels lewer die verhale politieke kommentaar op die samelewing van ongelykheid. Veral die werkersbestaan kom aan bod in vele verhale en daar is vertellinge oor die rol van die vrou as beskermer en raadgewer.” Ah, die onvernietigbare hiërargie - dit is mos ‘n taai klap in enige taal.
Ek glo nie Hambidge gaan gou ‘n skryfskool in Frankryk nodig hê nie.
***
By Beeld het die berg vandeesweek ‘n muis gebaar. Dié koerant het verlede week met groot gejuig en trompetgeskal sy nuwe webwerf aangekondig. Kom Maandag, geen Boekeblad op die webwerf. Dit is onmoontlik om agter te kom waar dit binne die netjiese, skoon argitektuur van die werf geplaas is, en of dit dalk na ‘n ander dag geskuif het - of dit hoegenaamd nog bestaan.
Praat van ‘n kultuurdiens, praat van ‘n liefde vir Afrikaans!
コメント