top of page
  • Uitmelkbos

KRATTE ROOI ROSE

IMG_0543-001

‘n Rooi roos vir Tokkie van die maitre ‘d.

 Ai, had ek maar die romantiese hart en skeppende woordkuns van ‘n A.G. Visser.  Sou graag Valentynsdag, Vrydag 14 Februarie, op die Queen Mary 2 in gloeiende A.G. Visser-taal wou beskryf.

 Kom na my tuin waar die donker rooi rose

Duist’re geheime vertrou aan die nag; 

Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.

Drome en liefde die lang somerdag ….

Rooi rose was op daardie Vrydag op die QM2 oorheersend.  Kratte vol is blykbaar die vorige dag in Fremantle opgelaai.  Jy kon rooi rose koop teen $65  (sowat R700) ‘n dosyn of $5,00 (sowat R55) vir ‘n enkelroos.

Iemand in ons gangetjie op dek ses is klaarblyklik met ‘n bos rose of dalk ‘n enkelroos in ‘n potjie teen $20,00 (sowat R220) bederf. ‘n Blaartjie het met die aflewering verloor.  Soos ‘n druppel bloed het dit daar op die roomkleurige mat met die ingeweefde Cunard-embleem gelê – ons eerste proeseltjie van Valentynsdag op die oseaan. Vele sou in die volgende ure volg.


IMG_0528

Die Queens Room in rooi getooi.

By die Mayfairwinkels gee die roostema in elke toonvenster … wel .. die toon aan. Groot plakkate van rose, rose in vase, rose op gedrukte liefdesgediggies en Valentynsdagkaartjies wat saam met hartjies van Swarovski-kristal en ander juwele op basaartafels te koop aangebied word – oral net rose. 

By die Empire Casino, die en ook die Clarendon-kunsgalery is spesiale Valentynsaanbiedinge aan die orde –  “Clebrate your love this Valentine’s Day with a beautiful piece of artwork from Clarendon Fine Art.”

Ek kry die ingewing om by die skip se blommewinkel te gaan foto’s neem.  Maar nee, se die vriendelike Filippyn Regina Mariles by die ontvangstoonbank; dit is in die bemanning se kwartiere wat vir gaste (hul naam vir passasiers) verboten is.  Sal sy dan maar vir my ‘n vaas met rose vashou vir ‘n foto?  Alte seker, meneer, en sy voeg die daad by die woord.

Middagete was ‘n hamburger vir my en pasta vir Tokkie in die “Chef’s Galley” op dek sewe. Tokkie vestig my aandag op ‘n buurman se nagereg. Dis ‘n bordjie met hartjiekoekies en iets moois in ‘n glas met ‘n rooi hartjie bo-op.


Nagereg in die Brittania-restaurant.

Tokkie gaan stel ondersoek in by die “King’s Court” se buffettafels en kom grootoog rapporteer: “Dis pragtig – bring jou kamera.” Waarheen sy my lei, is ‘n yslike tafel met ysbeelde, gekerfde waatlemoenrose en honderde stukkies nagereg in hartvorm: rooies, wittes met rooi randjies, sjokoladehartjies en wat nog.  ‘n Ware fees vir die oog.  ‘n Jong man en jong vrou in wit uniforms stap verby, en ek keer hulle vinnig aan.  Hulle poseer by die poedingtafel en ek neem net foto’s.  

Die middag het ons ‘n afspraak met ‘n Australiese egpaar by die middagtee in die “Queens Room”. Uit die dak wapper reusebaniere met rooi rose daarop.  Die skons en room wat bedien word, is die tradisionele, maar die koekies is almal in die vorm van hartjies.  Hannah Ruiters sorg vir romantiese musiek op haar harp – en sy dra, natuurlik, ‘n bloedrooi rok.    

Vir aandete volg die gaste haar voorbeeld. Ons het vooraf die wenk gekry om iets roois in te pak. Tokkie is van kop tot tone uitgevat in rooi en ek dra ‘n rooi strikdas wat ek by vriend Hennie Jonker van Melkbos geleen het, asook my rooi kruisbande waaraan ek nogal waarde heg. By die deur word elke vrou met ‘n rooi langsteelroos ingewag. Die maitre d’s dra elkeen ‘n rooi knoopsgatruikertjie. Die nagereg is …. rooi harte. 

Dankie, Hennie, vir die leen van jou dassie. ‘n Jong man van Centurion het die middag enetjie by Harrods se winkel gekoop. Hy moes $15 (sowat R165) daarvoor opdok.  ‘n Mooi dassie darem.

valentyn

Tafels kreun onder hartjies in King’s Court

 Die aand by die Valentynsbal wieg die mense in die “Queens Room” op die maat van Weense walsmusiek –  ‘n oorheersend rooi en swart tafereel.  Teen die dak hang ‘n reusekrans van honderde rooi ballonne.  Dié sou teen middernag losgelaat word. Toe was hierdie Vaaltyn al in droomland – met ‘n romerige slapenstyd-sjokoladehartjie op my kopkussing die laaste A.G. Visser-oomblik van die dag.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page