Mooi mense maak mooi musiek
Wanneer die jong strykkwartet uit Kiëf saans vir ons musiek maak saam met ons skemerkelkies in die QM2 se elegante Chart Room of elders – Mozart, Lizt, Rachamaninoff, De Bussy, Lehar en andere – wonder ek of die mooi kinders hartseer is oor die bloedvergieting in hul geteisterde stad in die Oekraïne aan die oewer van die Dnieperrivier, tussen die steppe en die woudsteppe. Kiëf is in vlamme en hoeveel mense op die stadspleine sterf in die opstande daar, oorheers die daaglikse nuusbulletins.
Hulle toon nie emosie nie terwyl hulle glimlaggend hul strelende musiek optower. Een aand, toe hulle oppak, stap ek nader, stel myself bekend en vertel van ‘n besoek aan Kiëf in die jare 80. Oekraine was toe nog deel van die Groter Rusland, onder Gorbatsjof. Die Britse toergroepie waarvan ek deel was, was tuis in die erg middelmatige Hotel Bratislava. Ek onthou die hotel of ek gister daar was weens die swak matras en die besnorde generaal-majoor wat my een oggend uit die eetsaal geboender het omdat ek vyf minute te vroeg wou kom aansit. Dit vertel ek nie vir hulle nie.
Waar ons elke aand skemermusiek gaan geniet, vorm deel van die gereelde laataand-besluitneming ons oor program vir die volgende dag. Die keuse val meermale op die jong strykers. Hannah Ruiters, die treffende blondine uit Amerika met haar singende harp is ook ‘n gunsteling. Die stylvolle harpspeler met die soepel vingers dra lang tabberds met ‘n strategiese spleet – ‘n mooi prentjie.
Die kwartet en die harp-meisie maak beurte op die balkon op die boonste vlak van die Brittaniarestaurant. Dra by tot die atmosfeer van deftigheid, swier en elegansie wat restuarantgangers saans eenvoudig laat voel dit is die regte ding om vir ete aan te trek. Vir dié wat informaliteit verkies, word ‘n gawe buffet tot laataand in die Kings Court opgedis.
Drie pianiste met verskillende style tokkel om die beurt die klawers o.m. in die uiters deftige Commodoreklub in die voorstewe van die skip, en die jolige, informele Lion’s Pub wat maklik by Covent Garden in Londen sou kon staan. Goue ou treffers is meesal aan die orde.
In die Roya l Court Theatre is elke aand twee topklas-vertonings, gewoonlik met ‘n sterk musiek-element. ‘n Klassieke kitaarspeler, Sam Piha, en sy vrou, Louise Garner, op die fluit het vir verskeie middagkonserte gesorg met oospronklike verwerkings van uiteenlopende werke: Van John Denver tot Vivaldi.
Die Queens Ballroom en die Roya l Court Theatre het elk sy eie orkes. Saam vorm hulle ‘n “big band” van 14 lede. Op die skip is voorts ‘n Karibbiese orkes Vibz wat by die Pavillion-swembad op dek 12 of op die ruim oop dek 11 by vonkelwyn musiek maak wanneer die QM2 met die “diep grom van sy sterk skeepshoring” sy vertrek uit ‘n hawe aankondig. (Ek leen die mooi uitdrukking by my vriend Sarel Venter van Bloemfontein se seun, Gerhard, wat in Adelaide die Queen gaan groet het.)
Dansers met passie.
Een aand was 22 musikante op die verhoog van die Royal Court vir ‘n kleurryke sang- en dansprogram met die naam Appasianata. Dit was inderdaad passievol. Die Queen se vermaaklikheidsdirekteur Paul O’Loughlin het gespog dit oortref enigiets op Broadway of in die West End.
In ‘n vertoning met die naam Viva Italia het die meevoerende Napolitaanse liedere selfs hierdie ou stoïsyn se voete saam laat tyd hou.
Die reuseteater met sy amper 1 000 sitplekke begin vroeg-vroeg vol loop. Die beste sitplekke is gou opgeraap. Nie elke aand se kunstenaar het die vroeg opdaag en lang wag in die Royal Court vir hierdie tradisionele vroegslaper eweredig die moeite werd gemaak nie. Maar die Drie Keltiese Tenore – vir hulle sal ek altyd uit my pad gaan, selfs toustaan.
Musiek en die Queen Mary 2 is sinoniem. In die Illuminationsteater kon ons voorts gaan luister na ‘n musiekhistorikus se oudo-visuele aanbiedings oor ikone soos Gershwin, Irving Berlin en Frank Sinatra. Ek is nie juis ‘n Sinatraman nie, maar tog lekker gewees om ‘n toer deur sy lewe te onderneem en weer treffers van my generasie soos “My Way” en “Chicago” uit “Ole Blue Eyes” se eie mond te hoor.
Oor “My Way” het ‘n ietwat ontnugterende onthulling op die stampvol teater gewag. Ek vertel later daarvan.
Commentaires