top of page
Uitmelkbos

KAALVOET DIE BERG OOR


koeala

As die son in Loempoer oor die vliegtuie loer …

Ons moes kaalvoet deur sekuriteit, mor twee susters van Worcester toe ons op pad terug van Sydney notas vergelyk oor ons onderskeie beproewings aan die hand van lughawens se sekuriteitsmense.

 My voormoedere is kaalvoet oor die Drakensberg, troef ek hulle. Die twee moet toegee dat kaalvoet oor die klippe, gedryf deur ‘n sterk vryheisdrang, veel veeleisender moet gewees as kaalvoet op die lughaweteëls weens die vermeende veiligheidsgevaar wat die gespes aan jou skoene verteenwoordig.  Maar lughawesekuriteit is darem deesdae self  ‘n berg voor ‘n mens.  

 Meen, ek was self in daardie stadium gestroop van gordel, horlosie en wat nog. In die boks van vir altyd verlore goedere was my snorskêrtjie wat in my toiletsakkie was (skoon vergeet uit agtelosigheid), my skeerskuim en ‘n waterbottel half gevul met uitstekende Calitzdorpse port. Daarvan is van tyd tot tyd in kajuit 6005 op die Queen Mary2 ‘n doppie geskink. Dit was ‘n geskenk van my vriend Toy Vermeulen van Melkbos.

 Nou is my waterbottel met sy waardevolle inhoud verbeurd verklaar sonder ‘n gewilligheid om te verduidelik – ‘n lot wat my soutwaterspuitjie vir sinus ook net-net vryspring. ‘n Streng Australiese “sheila” met ‘n ligte snorretjie op die bolip was uiters ongelukkig oor so ‘n potensiële wapen van massaverdelging in die bagasie van ‘n hardekwas gryskop uit Suid-Afrika. ‘n Simpatieker manlike kollega moes uiteindelik ingryp (Gelukkig had ek ‘n “paspoort”vir my bioniese heup!)  

 Om vlieg ‘n nog pynliker ervaring te maak vir iemand wat pas op ‘n weeldskip tot in die aarde bederf is, skeduleer die lugrederye deesdae mos hul vlugte op die onmoontlikste tye.  Op Kuala Lumpur het Maleysia Airways sy vrag vaak pasassiers in die Boeing 777 (presies dieselfde as die vermiste een) om 03:50 afgelaai. Ondanks waarskuwings tot die teendeel was elke stoel in die lughawesitkamer in daardie stadium deur die prostate liggaam van ‘n slapende passasier beset – ‘n aansienlike logistieke uitdaging vir ‘n nuwe aankomeling wat ambisie het om ook te dut.

 Toe die rooidag breek (foto hierby) was die uwe bra uitgemergel.  Die volgende versie (parodie op ‘n versie) het ek agterop my instapkaartjie vir vlug  MH 0448 in my persoonlike soort snelskrif neergepen: As die son in Loempoer, oor die vliegtuie loer, begin slapende lywe in al wat stoel is, te roer ….

 Uit Dubai het ons Emiratesvlug net omgekeerd verloop. Dit het om presies 03:50 opgestyg. Vir wat?  Moet sê hierdie ou was nogal verbysterd oor die bedrywigheid op daardie enorme lughawe daardie onheilige tyd.  Slaap die Dubaiers dan nooit?

Onheilige tyd.

Operasie Omdraai het eintlik in Sydney al begin skeefloop toe die sogenaamde Air Bus ‘n kwartier laat by die Mercure Hotel langs Central Station opdaag.  Om 17:00 in spitsverkeer voeter die bestuurder toe die malhuis binne waarin die besige George Street met die aanbreek van die naweek ontaard. Dit toet, swets, trommel met die vingers op die stuurwiel en druk paniekerig die knoppies op die selfoon, maar daar sit ons, vasgekeer agter ‘n ry busse wat nie ‘n duim roer nie.

 Mettertyd blyk dit die stomme man agter die stuur moet nog by drie ander hotels passasiers oplaai. En die tyd stap aan.  Die ou begin senuweetrekkings kry.  Van die vroue op die bus kry op hul beurt senuweegiggels.  Die Van Deventers wat net agter die bestuurder sit, word gevoer met ononderbroke kommentaar wat deur dun lippe uitgesis word, ryklik gespesery met die f-woord.

 Uit selfoongesprekke lei ek af die bestuurder se naam is Nic. Hy kon waaragtig die ware ou Niek gewees het waarteen ons ouers ons jare her deurgaans gewaarsku het!

 Toe ons uiteindelik aan die gang kom, swaai hy, in ‘n poging om te ontsnap, die bus en sleepwa by ‘n wandellaan in ChinaTown in. Hy lê op die toeter.  Ingehaakte Chinese paartjies los mekaar en skarrel in alle rigtings.  Maar hy ry hom weer vas. En ons sit opnuut. Magteloos. Beweginkies wat daar is, is kort en rukkerig.

 ‘n Uur (eintlik darem net 55 minute) nadat ons by die Mercure weg is, doem die naam van ons hotel weer voor ons op. “Nou moet jy gat skoonmaak, vriend,” eis gespanne passasiers.  Nic luister. Hy ry ‘n roete wat niemand seker nog ooit gery het nie, skuur rakelings verby ander voertuie en jaag een keer tot teenaan ‘n bus. Maar hy ry.  

 Net 17 minute ná die herbesoek aan die Mercure spoed hy die lughaweterrein binne.  Seker ‘n rekord tot op dese, maar ‘n nagmerrierit as daar ooit een was.  Toe’s daar ‘n ander neukery.  ‘n Bagasietrollie kos vier dollars. Tokkie wat ons geldsake hanteer, moet eers die koffers los en ‘n trollie gaan aanskaf.  Koffers word deur die gespanne Nic minagtend op die sypaadjie neergesmyt.

 Toe die man wil ry – daar’s nog pasassiers wat vir ‘n ander terminaal bestem is – is ons koffer nommer vier nêrens. In hierdie oomblik van nood lyk al die koffers in die sleepwaentjie boonop vir my presies eenders.  Die naam “Tokkie” is ongetwyfeld nog nooit met soveel dringendheid en rou emosie op Sydney se lughawe uitgekreet nie.  Sy hanteer immers nie net die geldsake nie – ook die koffersake.

 Gelukkig hoor sy in my stem dis ‘n krisis. Sy los eers die trollie en kom pluk die regte koffer uit die sleepwa. Dankie tog vir so ‘n staatmakervrou. 

 Maar vlieg? Daar is regtig aangenamer maniere om van punt A tot by punt B te kom.  Soos om daarheen te vaar. Veral op die QM2 … (Slot).

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page