top of page
  • Crito

Ja maar nee maar

As mens vir moeilikheid soek, koop net ‘n tweedehandse Alfa. Só het ek nog altyd geglo. Nie meer nie. Deborah Steinmair het ‘n nuwe manier gevind.

Dit werk só: Sy is ‘n uitgewer, ‘n goeie een. Flavour of the month in Pretoria, al vir 48 maande in ‘n ry. Ek ken haar goed, daar is al foto’s van ons twee geneem.

Ek is nie skaam om te sê nie dat sy as uitgewer en redakteur sulke merkwaardige resultate het dat skrywers om haar saamdrom, en ek is een van hulle.

En nou het sy moeilikheid vir haarself gaan maak in Vrye Weekblad deur ‘n boek wat uitgegee is deur Protea, haar werkgewer, te resenseer. Die liewe Hans Pienaar se Kaap

Sy begin deur te sê “Openbaarmaking: Ek werk vir die uitgewer van die boek” en normaalweg is dit ‘n goeie idee om so iets te doen. Maar … Ander uitgewers is merkwaardig kleinserig oor sulke betreding deur iemand wat die openbare mening oor boeke help vorm.

Wat sy versuim om te doen, is om die lesers se aandag daarop te vestig dat sy eintlik Kaap se redakteur ook is. Ek suig dit nie uit my duim nie, dit staan in die boek self.

Sy hemel Kaap op, en ek sou elke woord daarvan onvoorwaardelik geglo het as dit nie was vir die feit dat ek weet sy is die redakteur van die publikasie nie. As sy nie gejuig het daaroor nie, sou dit ‘n mosie van wantroue in haarself wees.

Wat moet ek egter maak van haar negatiewe taksering van ‘n publikasie deur ‘n mededingende uitgewery in dieselfde uitgawe van die Vrye Weekdier? Ruan Kemp se Wit leuen, gepubliseer deur Tafelberg. 

Sien watter probleem ons hier het?

Jy sien, suster, ek is nie bereid om te sê mens kan ook niks glo wat Deborah Steinmair oor ander uitgewers se publikasies sê nie. Ek weet hoe skerp sy is, hoeveel insig sy in die binnewerking van romans het. Maar sy laat my eintlik met geen ander uitweg nie.

Net omdat sy nie die volle waarheid gepraat het oor haar verbindtenis met Kaap nie.

Maak dit eintlik saak? Wel ja sekerlik. Is dit nie ook sy wat in Vrye Weekblad geweier het om die seën uit te spreek oor die jongelied Kemp se Gedeeltelik bewolk nie? Daai ou gekorswil oor Kemp se skatpligtigheid aan wyle Dave Bishop, jarre gelede lid van dieselfde ou Kaapse sosiale gekoeksel as Max du Preez en Marita van der Vyver.

Daar sal gemeentelede wees wat die dotjies wil konnekteer, maar jy weet mos, hulle konnekteer nie altyd hoe mens dink nie.

Ek wens, ek wens Deborah wil besluit wat sy wil wees - joernalis of uitgewer. As ek die resultate van haar aktiwiteite opweeg, dink ek sy moet haar by die uitgewerswese bepaal. Sy is die natuurlike opvolger van Nicol Stassen. Sy gaan nog dieper spore trap as wat sy reeds gedoen het.

11 views

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangali

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page