top of page
  • Uitmelkbos

IN ONS GEDAGTES

Met die komplimente  van Vodacom was ons vir die duur van die vaart van Kaapstad na Sydney as ‘t ware incommunicado. Van die beloofde “roaming” was g’n sprake nie. ‘n Agent in Table View het ons verkeerde aanwysings gegee. Jammer meneer, en dis dit.

 Totale isolasie is vermy deur teensinnig ‘n internetpakket op die QM2 te koop: Amper R500 vir 120 minute. Die pakket kom met die waarskuwing dat die satelliet ietwat stadiger inskop as konneksies tuis.  Dis sweerlik die “understatement” van die dekade. 

 Toegang tot Mweb was ‘n marteling. Soos aanbeveel, het ek in die adresveld getik:  “Mweb webmail login”.  Maar die wieletjie het net bly draai en draai, terwyl die hol kol op my maag groter word en ‘n onsigbare digitale monster my kosbare randjies verteer.  Wanneer “login” dan ná ‘n ewigheid skielik slaag, skrik ‘n mens jou so boeglam dat jou vingers dom raak. Net enkele boodskappies heen en weer, buitengewoon kort en kragtig, het ek vir my R500 gekry – helaas.

 Maar liewe vriende, al het julle dan niks (of byna niks) van die VanD’s  gehoor nie, was julle tog gereeld in ons gedagtes.  Met goeie rede ook. 

 Aan die kleinkinders, Jacob, Thomas, Migael en Christopher, het ons  gedurig gedink; die uwe nooit intenser nie as met die Insident by die Hysbak.  Ons en ‘n seuntjie van so vier, raai ek, daag gelyk op. Ek druk die knoppie en hy druk die knoppie. Die volgende oomblik gly die deur oop, en ek gee hom ‘n speelse oupa- vegie oor die vingers: “Here it is”.    Die dak wou lig. “He whacked me, he whacked me!” Gelukkig was die jong vader ‘n verstandige man. 

 Aan Cas Jacobs van Centurion het ons gedink die aand toe ons kelner, Michael Vitug, in die Brittania-restaurant wil weet hoe ons ons filet verkies.  “Madame” hou van hare ietwat rouer.  Waaragtig, Cas, toe Michael die borde bring is daardie filet presies soos versoek, so perfek in voorkoms en in smaak soos jy kan droom om dit in Balule op die kole gaar te maak.   En onthou, ons is 1 200 wat by ‘n etesessie aansit!

 Aan Sarel Venter, Volksbladkollega van Bloemfontein, en sy vrou, Liesbeth, het ons gedink die aand toe ons op die blou kaart op die TV-skerm in ons kajuit sien hoe naby Adelaide ons daardie nag van Perth af op pad na Melbourne verby sou vaar. Die Venters se seun, Gerhard, en akademikus-skoondogter, Rietie, woon nou daar –  en, natuurlik die kleinkinders, waarna in De Jagerstraat, Fichardtpark, met seer harte verlang word.

 Aan George Louw, digtersvriend van Panorama, het ons gedink toe die ou aan die tafel langs ons s’n by die eerste formele ete in sy Skotse rokkie opdaag. Die nimlike George was in ‘n Skotse rokkie getooi by sy seun Marck se troue met Samantha onder die klanke van ‘n doedelsakorkes iewers op die Skotse Hooglande.

Aan dr. Marius Falck, een van ons Melkbos-dominees, het ons gedink toe ons by die interdenominasionale Sondag-erediens ná ‘n kort, kragtige diens die tradisionele seemanslied, lied 25, aanhef: ”Eternal Father, strong to save/Whose arm has bound the restless wave/Who bidd’t the mighty ocean deep/Its own appointed limits keep/O hear us when we cry to thee/For those in peril on the sea…” Met Marius se kragtige voorsang sou die Royal Court-teater darem gebewe het met die aangrypende lied hoor.   

Aan Marius se vrou, Wilna, het ons – veral Tokkie – gedink toe die jong man John Courtenay, ‘n kêrel wat weet hoe om, nes sy, ‘n klavier energiek te takel,  die aand in die Royal Court die klawers ‘n slag sommer met sy voet bydam – skoen en al.

 Aan swaer Fanie van Wyk van Klaradyn, Brackenfell, het ons gedink wanneer ons by die King’s Court se buffetafels hande in die hare staan watter van die berge heerlike geregte om uit te los. Fanie vertel graag (en ek glo hom) hoe hy telkens by ‘n buffet in sy kop ‘n verbeelde sakrekenaartjie uithaal.  Dan word sommetjies gemaak en word terstond besluit te min is te min. Sonder aarseling laai Fanie dadelik van voor af sy bord om waarde vir sy geld te kry. 

 Aan Lourette Ellis van Melkbosstrand het ons gedink – ekskuus Lourette – toe die sogenaamde “Professor in Pickpocketry” Bob Arno ons oor persoonlike veiligheid toespreek. Die volgende harde uitspraak het oor hierdie beroeps-sakkeroller en kulkunstenaar se lippe gekom: Om jou handsak aan jou stoel se leuning op te hang, is omtrent die domste ding wat jy kan doen.  Soos daardie keer ….. Toemaar, Lourette, die VanD’s  was ook al minder waaksaam as nodig. 

 Aan vriend Ben van Rensburg, in sy fleur Motorskrywer van die Jaar, het ek met begrip gedink toe ek na sir Jackie Stewart, spitsvondige Skotse oud-Formule I-kampioen sit en luister. In die  Royal Court met sy 1 000 of wat sitplekke kant en wal, het die klein kampioen ons almal met sy anekdotes meegevoer.    Ben – ook bekend as Ben Wieletjies – het my waarskynlik nooit verdink dat Formule I my sou boei nie. Maar dit het Ben, dit het.  Sir Jackie, wat disleksie en taai kinderjare moes oorwin,  is eenvoudig ‘n ster. 

 Aan wyle kollega Fred Schnetler het ek gedink toe die Span Van Deventer (my spanmaat Willie Schouwter van Brisbane het my met die naamregte vereer) in ‘n Trivia-kragmeting in die Lion’s Pub nogal sukkel.  Gee my een Fred Schnetler, en ek vou hierdie klomp sommer met die linkerhand op, het ek Willie verseker. Fred was ‘n Flinkdink-kampioen as iemand al vergeet het.

 Aan matriekmaat Willem Hartzenberg het ek gedink elke keer as in die skraal man met die bril vasloop wat aan my as Britse regter uitgewys is.  Regter Willem dra sy bril op dieselfde hoek, en gee ook gedurig die indruk dat hy met diep en belangrike kwessies stoei agter ‘n eenderse breë voorkop wat ‘n fris klomp grysstof verberg. Naaldwerk


IMG_0052

“VLV” op die QM2

 Op die skip was, ten slotte, gereelde naaldwerk- , brei- en blommerangskikking-klasse. Ek het die kring vroue met hul naaldwerk in die sjampanjesitkamer, die Veuve Clicqout, stilletjies afgeneem terwyl hulle in diepe konsentrasie met die goeters op hul skote werskaf.  Aan wie dit ons laat dink het?  Vir my aan die VLV.  Vir Tokkie aan Hilda van 7de Laan, wie anders?

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page