top of page
  • Uitmelkbos

DOP EN ‘N SALUUT OP FLOSSIE


  Vir die “Flossie” – die Hercules C-130BZ – gee ek graag op sy goue halfeeu van diens ‘n eresaluut. Ek klink op hom ‘n glasie “hooligan juice”. Ek hang oor sy stomp neus ‘n OFD – die “Orde van Fort Doppies”.

In die Bosoorlog in die 80’s was die “Flossie” een van die groot karakters. Derduisende troepe en vragte- vragte voorrade is daarmee van Pretoria af na Oshakati verskuif. Grensbesoekers, soos die uwe by ‘n paar gedenkwaardige geleenthede, had ook die voorreg om met die “Flossie” karwei te word.

Moes selwers hoog bokant Afrika die dou van die lelie skud in daardie vreemde pypgedoente wat ingewydes “Lillies of the fields” noem. Lochner de Kock beskou die ontwerp as die oupa van all vuvuselas! “Net stiller…”.

In my dasversameling iewers in ‘n boks is verskeie soeweniers van sulke (onvergeetlike) uitstappies met die “Flossie” grens toe. Neffens my rekenaar hang my eie OFD. Iewers in ‘n kombuislaai is ‘n paar kriptiese notas oor “hooligan juice” – daardie verleidelike konkoksie met die ruwe naam, wat meer as een kameraadskaplike kuier onder die Namibiese sterre met die manne in uniform afgerond het.

Probeer dit gerus – vat eenvoudig ‘n homp roomys, en soveel melk, rum en coco-ricolikeur soos jy wil (na smaak, lui die resep); meng deeglik, koel af en geniet.

Die OFD is ‘n eenvoudige stukkie ronde hout met die agterkant van ‘n koeëldoppie daarin gemonteer. Simbolies is dit van groot betekenis. Myne gedenk ‘n geleentheid by Fort Doppies, iewers in die Okavango, waar ek vir my sonde die woord moes voer oor die pers se probleme met die weermag se snoepheid met oorlogsnuus.

Ná ‘n gesellige aandjie langs die kampvuur het die beswaarde Bloemfonteiner vermurwe. Ek het in die nagtelike ure ietwat aan my rede geskaaf ten einde nie te hard op die gashere se tone te trap nie. Vir my moeite is aan my n Órde van Fort Doppies oorhandig “vir die verdoeseling van (my) oorspronklike toespraak”

Of ek op my OFD-knopie trots kan wees, is seker debatteerbaar, maar een ding weet ek: Min ander dinge is so tekenend van destyds se ambivalente, amper bisarre, verhouding tussen pen en geweer. Om die beurt het spangees en spanning die botoon gevoer.

Ai, die herinneringe oor ligte oomblikke is talryk. Sal iemand die aand vergeet toe kollega Twakkies Laubscher opsluit ‘n bietjie Zambeziwater by sy Skotse watertjies wou voeg? Hy is in die stikdonker die onbetrede dieptes van daardie kwaai krokodilkontrei binne. Minute later het hy triomfantlik teruggekeer, glasie bruinerige rivierwater in die hand. ‘n Historiese dop.

‘n Keer was Jane Raphaely saam – die enigste vrou in die geselskap (op een foto is ek en sy in ‘n bunker). Die vraag het ontstaan by wie sy in ‘n tent sou intrek. Sy het Ebbe Dommisse en Fritz Joubert gekies. Seker vir haar die ordentlikste van ons klomp gelyk. Hoop dit was ‘n goeie keuse.

Die kampioen van media-snorkers was die SAUK se Roelf Jacobs, nie verniet nie ook as Otterjasie bekend. Weens sy balkesagery in die oortreffende trap het sy tentmaats een martelnag die een na die ander met hul kussings en kombersies na stiller oorde verkas.

In daardie groen weermagtente was teen slapenstyd soms ook ander waarnemings moontlik wat slegs in die oortreffende trap beskryf sou kon word. Maar wag, ek het reeds genoeg uitgelap … en eintlik wou ek net daardie werkesel sonder einde, die betroubare “Flossie”, salueer.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comentários


bottom of page