Tennis in ‘n ou kerkrokkie en uitgevat vi tiekiedraai.
Laat ek maar die sluier oor my vrou, Tokkie, more, 15 Maart, ‘n rype 70, se “donker verlede” lig. Tot September van haar matriekjaar, 1963, was my liewe vrou as ‘t ware ‘n skadufiguur – ‘n kol teen die muur in die flikkerende liggie van ‘n lamp of ‘n kers in ‘n enemmelblaker.
Toe eers het elektrisiteit Bultfontein bereik. “Hondebakkies” – so het die benieude Bultfonteiners die skermpies genoem – het oornag aan geboue se plafonne begin pryk. Die bakkies het op ‘n haar soos omgekeerde hondebakkies gelyk wat die gloeilampie met ‘n kappie oordek.
Bultfontein in die jare 60 was nie vir sissies nie. Dis nie net elektrisiteit wat Tokkie en haar generasie moes ontbeer nie. Ook spoeltoilette. Sy is ná matriek B.O.K. toe met die nagkar op Bulfontein steeds op sy rondes, en met hul eie “gemakkie” by Hertzogstraat 5 steeds ‘n buitehuisie met ‘n nagemmer onder ‘n seringboom.
Glo die nuwe generasie sal hieroor gril – maar hopelik ook perspektief kry in ‘n era van net alles “demand” en “demand”.
Die gebrek aan elektriteit is deur die Bultfonteiners, soos so baie ander “deep plattelanders” van daardie era, gelate aanvaar. Hulle was gewoond daaraan. Hul Dovertjies (koolstowe), primusstofies, lampe en kerse was voldoende vir hul behoeftes. Mense wat dit minder gelukkig getref het, was “inkommers” van elders waar elektrisiteit reeds net ‘n knoppie ver was.
Tokkie en Hannatjie, beste maats.
Een so ‘n gesin was die Groenewalds wie se dogter, Hannatjie, van standard drie (nou graad vyf) af ‘n beste maatjie van Tokkie was. Eerwaarde Groenewald het ‘n beroep na Bultfontein se sendingkerk aangeneem. Die gesin daag toe op met ketel, strykyster, broodrooster en wat nog. Ontnugtering! Die geriefies het alles mooitjies sewe jaar lank in die bokse moes bly.
Dit was natuurlik nie toevallig nie dat die eerste straatligte hul buiging gemaak het in die straat waar Ou One Light, gewoon het. Hy is so genoem weens sy glasoog, en was die “misipaal” se elektrisiën-cum-honde-inspekteur. Ouma Marietjie, Tokkie se gedugte weduweema, het op ‘n dag van Ou One Light korte mette gemaak toe hy kom hondelisensie soek. “Hier blaf ek sommer self,” het sy hom in sy peetjie gestuur. Dis ‘n ander storie.
Ewenwel, feit is dat Tokkie tot laat in matriek haar tuiswerk by lamplig gedoen en ook vir eksamens so geleer nie. As sy ná donker voor haar klavier gaan sit om die skone klanke van Chopin of Liszt in die klein voorhuisie te laat opklink, moes die getroue lamp ook aangesteek word.
Laat my nou nie onbehoorlik spog nie, maar sy was ‘n formidabele pianissie, die klein meisietjie wat weens haar kort lyfie deur haar vroeg gestorwe pa, Kotie, Tokkelossie gedoop is. In daardie jare was oor en weer kuier nog die in-ding. Op een so ‘n kuier by ‘n buurvou, Tant Ellie van Wyk (nie familie), in standard een (graad drie) het sy ongenooid voor dié se ouderwetse klavier ingeskuif.
Hertzogstraat 5- herbesoek in 2003.
Dadelik was die talent onmiskenbaar. Gou het sy lesse geneem en is ‘n splinternuwe klavier by R. Müller in Bloemfontein aangeskaf, wat in ‘n krat Bultfontein toe geskarwei is. Op daardie klavier het klein Tokkie haar pad oopgespeel Unisa-eksamens en Bloemfonteinse kunswedstryde toe, waar sy goue diplomas links en regs ingeoes het. In matriek het sy met eervolle vermelding Unisa se Finale Eksamen (Klavier, Graad V111) kafgedraf. Sy was ook Sondae agter die kerk se orrel wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Die klavier staan nou by ons dogter, Marisa, in Hilton, Natal.
Op die sportveld was tennis na aan Tokkie se hart. In haar wit rokkie (‘n ou kerkrok wat vir die doel korter gemaak is) en met tekkies wat – lank voor die Nike-era – van ‘n hoop af by die O.K. Bazaars gekoop is, was sy en Mrad Shahia (later prof. Mrad Shahia) veral in die dubbels ‘n gedugte kombinasie. Die tekkies, terloops, was net ‘n stuk wit seil en ‘n sool wat kwalik die kous werd was. Die seil is met Shushine skoongemaak. Haar raket was ‘n oue van haar Tant Siena, wat ‘n rooilissie was in die Tweede Wêreldoorlog – ook ‘n tronkbewaarder wat o.a. die gifmoordenares Daisy de Melcker in haar sorg gehad het.
Elke kind het die een of ander tyd ‘n fiets gehad? Verkeerd. Tokkie het nooit in haar lewe ‘n fiets besit nie. Die enigste wiele in hul huis was ouer broer, Fanie, se tweedehandse dikwiel. Sy kleinsus het altyd op die handvatsels, die dwarspyp voor die saal of op die drarak agter gesit na gelang van omstandighede. Kinderkrans toe, was daar vier kinders op Fanie se fiets. Dan was Tokkie voor op die handvatsels, gevoude voetjies op die modderskerm.
Soos Tokkie in musiek uitgeblink het, het Fanie sy naam as kranige atleet in Bultfontein se rekordboeke ingehardloop en gewerp. Hy was in matriek SA se onder 19-kampioen in die 440. Glo die duwweltjies op die atletiekbeen wat hom geleer het om sy knieë te dra. ‘n Keer het hy die spies so ver geslinger dat die gewigstoot aan die oorkant van die veld eers gestaak moes word.
My vrou was, by alles, ‘n entoesiastiese volkspeler. Sy was in die demonstrasiegroep wat ook kunswedstryd in Bloemfontein toe is om daar passies te gaan maak. ‘n Foto van Bultfontein se groep van 1961 het op Die Volksblad se voorblad verskyn. Daardie foto het ‘n buitengewone geskiedenis.
Tokkie, die swartkoppie in die middel, maak in haar klassieke wit Voortrekkerok ‘n treffende prentjie – een wat dadelik die oog vang van ‘n jong koerantleser, Johan de Necker. Hy was in matriek aan die Grey-kollege. Hy was halsoorkop verlief. Hy wóú eenvoudig die meisie op die koerantfoto ontmoet.
Ten einde raad skryf die beenaf skoolseun (later ‘n mediese dokter of tandarts) aan die geamuseerde skoolhoof hy moet asseblief help: Wie is hierdie meisie op die foto, waar kan hy met haar in aanraking kom? “U daadwerklike optrede sal waardeer word.”
Ongelukkig vir hom, was die skoolhoof ‘n verstandige man. Vir vreemde wolwe was hy uiters bedug!
Die skoolhoof se beskermende optrede word op prys gestel. Daardie De Neckertjie verdien nietemin volpunte vir ondernemingsgees.
留言