top of page
  • Uitmelkbos

DIT SAL JOU NIE VERVEEL


IMG_0207-001

IMG_0027-001

BO: Die koepeldak van die planetarium in die Illuminationsteater.

ONDER: HvD in die pragbiblioteek

Vandag se terugblik op die Van Deventers se lewensverrykende QM2-ervaring – blog nommer agt in die reeks – sou ek graag as verpligte leesstof klassifiseer vir amal wat besorg wil weet:  Maar het julle dan nie verveeld geraak nie?

 Verveeld geraak? As jy kan eet, stap, swem, sauna, speel (sport, brug, dek- en bordspeletjies), oefen, TV kyk en fliek na hartelus, in die deftige Mayfairwinkels soos Harrods en Swarovski kan boer, of die spa en rekenaarsentrum se drumpels deurtrap? 

IMG_0561-001

LINKS: Wil jy dans, Katrina? Laataand in die Queens Ballroom.

Of as jy boonop kan kies en keur uit 80 georganiseerde aanbiedinge elke dag – drie A4-bladsye vol dinge om te doen in die keurige skeepskoerantjie (volkleur!) wat voor slaaptyd op jou kopkussing kom, en ook op ‘n spesiale TV-kanaal toegelig word?

 Nee, as jy verveeld sou raak op hierdie skip wat nooit gaan slaap nie (darem wel van 02:00 tot 04:00 in die nagtelike ure), is jy verveeld met die lewe, soos iemand van Londen gesê het. Eerder kan ons ná 22 dae se geluksaligheid kla:  Die tyd vir niksdoen was te min!

 Ons eie skedule is voor slaaptyd versigtig saamgestel. Ons dag is, tussen al die groot etery deur, vol gepak met sogenaamde “Cunard insights presentations”, musiekuitvoerings (o.m. klassieke kitaar en fluit), planetarium-aanbiedings, son soek by ‘n swembad (daar is vier en ‘n klomp borrelbaddens), die tradisionele middagtee, skemerkelkies in een van die 11 sitkamers en kroegies saam met mooi musiek (harp, strykkwartet of klavier), biblioteekbesoeke (10 000 wonderlike boeke en wonderlike uitsigte), aandvermaak in Westend-styl in die reusagtige “Royal Court”-teater (dansers, sangers, akrobate, towenaars, sakkerollers, komediante en wat nog), en, natuurlik,  ‘n bietjie niksdoen op die dek.  

 Die “Cunard Insights Presentations” was buitengewoon verfrissend met stimulerende sprekers soos sir Max Hastings, voorste Britse historikus, joernalis en skrywer, en sir Jackie Stewart, spitsvondige Skotse Formule 1-kampioen.   Onderwerpe het ingesluit die Anglo-Boereoorlog, Winston Churchill en Frank Sinatra.  

LINKS: Niksdoen op die dek.

Ons het uitstallings bygewoon in die sonnige Clarendon-galery (die grootste kunsgalery ter see). Ons was teenwoordig by elke “destination”-aanbieding oor elke hawe op ons roete. Ons het gaan fliek.   Sondae was ons in die kerk.

In los tye het ons die skip verken. Oral is foto’s geneem – tot in die eksklusiewe sigaarkamer, “Churchill’s Cigar Lounge”, met sy swaar leermeubels, duur sigare en spesiale reeks cognacs, ports en armagnacs. Ons het elkeen van die tien vleuelklaviere nagespeur, en amper elkeen van die 565 oorspronklike kunswerke deur 16 internasionale kunstenaars. Ons het die geskiedenis van die skip opgeslurp soos dit boeiend in woord en beeld teen gangmure uitgebeeld word. 

 Die ontsagwekkende brug kan jy net deur ‘n glasafskorting bewonder.  Ons het graag die observasiedek besoek en (deur die glas) by die brug ingeloer. Tokkie is op ‘n toer deur die skip se geweldige kombuise van vlekvrye staal.  

Saans het ons in die “Brittania”-eetsaal met sy gourmet-spyskaarte gaan aansit. Met ander etes was ons uitgangspunt: Ondersoek alle dinge en behou die goeie.  Die tradisionele “Lion’s Pub” se vis en skyfies was eersteklas. Ook sy herderspastei. Vir hamburgers en pizza kon jy nie beter vaar nie as die “Chef’s Galley” op die altyd bedrywige dek 7 en die “Boardwalk Café, ‘n informele kitskosrestaurant onder sambrele op dek 12. By die informele buffet in die “King’s Court” was garnale en sushi in oorvloed. 

As energie oor was, het ons ná “showtime” gaan inloer by die ornate  “Queens Room”-balsaal. Tussen die sambas en rumbas deur het ‘n internasionale danspaartjie mense met hul vurige passies betower. My eie ambisies om, ten minste darem op Valentynsdag, ‘n Weense walsie in te kry, het om die een of ander rede ongelukkig nie gerealiseer nie. 


Verveel-003

Spogvertonings in die Royal Court Theatre.

Wat nie op ons program was nie, was onder meer gimnasium- en spa-besoeke, dans- en waterverfklasse, die veerpyltjie- en ander sportkompetisies, blommerangskikking-demonstrasies, i-pad-werkwinkels, kunsseminare, brugtoernooie, bingosessies, kooroefeninge (vir die skip se eie passasierskoor), disko, karaoke, die casino, wynproeë of die daaglikse brei- en naaldwerkklasse (ja werklik!), nogal in die Verve Cliquot-sjampanjekamer.

 Ja, goed en wel, hoor ek skeptici opmerk. Maar is ‘n mens darem nie verskriklik afgesny van die buitewêreld nie?  Laat ek so antwoord: 

Onder die sowat 30 kanale op die TV-skerm in jou kajuit is o.m. ook BBC News, Sky News, Sky Sports News en Fox News. Elke aand is ‘n koerantjie afgelewer met die naam “Britain Today”.  My buurman het ‘n “Australia Today” gekry.   Maar met Suid-Afrikaanse nuus is ons tog ietwat afgeskeep. Met al die Suid-Afrikaners aan boord, sou ‘n “SA Today” nie ‘n sleg idee gewees het nie.  Mnre. Cunard, ek sit dié voorstel graag op die tafel.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page