Al wat dit verg om op peil te kom met die hoogste verstandelike prestasie van die mensdom is om op ’n Maandag wakker te word en Beeld saam met jou koffie en beskuit in die bed bedien te word. As dit ’n goeie oggend is, is daar ure se gesels oor vanoggend se krant moontlik. Ek het vandeesweek gedink dis ’n saai koerant, ’n tipiese vreugdefest vir begrafnisondernemers. Totdat ek die Boekeblad oopslaan.
Dit was ’n meta-traumatiese oomblik. Ek het gelees en gelees en met alles tot my intellektuele beskikking (van Pythagoras tot by Talbot Brewer) dit probeer meet, en laat ek reguit wees: Ek kon nie.
Dié Boekeblad, as ’n ding an sich, was eenvoudig bokant my vuurherd. Ek het gewonder of ek soos ’n drollige Donald Trump net moet sê dis fake news en hoop my lesers dink ek beweeg op ’n niveau van insig wat die gewone mens nie beskore is nie, maar selfs Crito kan nie só laag daal soos die groot frikkadel nie.
Om my aansien te behou, sou dit nodig wees om meer beterweterig te wees as ’n afgetrede ketelmaker op Facebook, of ’n wysneus in die kommentaar-kolomme onderaan Netwerk24-berigte. Geluld, geleuterd en straks ook gezeverd, julle weet mos.
Daar is ook geen rede hoekom my man die enigste moet wees wat verryk word deur my analise nie, dus gee ek dit vir julle deur soos ek dit vir hom verduidelik het:
Alle eer gaan vir eers aan Jo Prins, die boekeredakteur, wat hierdie blad beplan en saamgestel het binne vyf dae van harde werk en, volgens my skinderbronne, die akkomodering van sy daaglikse fietsrit na Oliver Tambo-aerieport waar hy voor ’n plakkaat van ’n mooi vrou sit en mediteer.
Sommge van die besluite wat hy geneem het, getuig van die soort strategiese denke wat Sun Tzu en Carl von Clausewitz na die Bulle se waterdraers laat lyk.
Om mee te begin het hy die lys van ingesonde resensies op sy rekenaar deurgescroll (straks op ’n groot Excel worksheet), en net daai woord, deurgescroll, het hom laat besluit dat hy ’n Boekevat deur Charl Pierre Naudé onderaan die blad gaan gebruik, want dit gaan oor lewende taal en Afrikaans wat nate het met ander tale. Naudé is ’n terdeë bekroonde denker, derhalwe sal sy Boekevat onmddellik dit hele blad next level maak.
Die volgende besluit was ’n bietjie moeiliker. Wat is die sekondêre resensies wat hy regs in ’n lang, breë kollom vir die volle diepte van die blad gaan plaas? Drie korteriges, twee middelslag?
Nee! Mens kan jou die oomblik van illuminasie indink, die ingewing wat hom tref in ’n onbewaakte oomblik. Hoekom nie ’n klomp nuwe of ophande boeke “aankondig” nie? Almal sal dink dat hulle wel later geresenseer sal word, niemand hoef nou al te weet van watter hy ongelukkig gaan vergeet nie. En die uitgewers was so gaaf om goeie reklamepamflette saam te stuur, al wat mens te doen staan is om die ergste purple prose uit te sny. Dan is dit soos mini-resensies sonder vratte.
So, die blad begin vorm aanneem.
Wat gaan die hoof-resensie wees? Wel, eintlik die enigste resensie, nè? Al daardie plegtige beloftes wat Media24 se koerantbase destyds gemaak het toe hulle drie boekeblaaie in een versmelt het, who cares? Een sal dit wees.
En om te besluit, is maklik. Kyk, ons leef in ’n era waar almal frons, selfs trane in die oë kry, soms albei tegelyk, nes Gentleman Jack wat ’n kaal vroueskouer raaksien, wanneer hulle praat oor RSG en die verdomming van Afrikaners. As daar nou een plek is waar verdomming nie ’n issue is nie, is dit Beeld se Boekeblad.
Die keuse sal eenvoudig moet val op ’n boek wat deur sy omslag waarde toevoeg tot die Beeld-leser se estetiese ervaring van die krant. Daarom is daar vir die Boekeredakteur geen ander boek wat sal deug as Lina Spies se Aarde na firmament nie. Só heerlik retro.
Dit bevat boonop só ’n pragtige skakerig van blou dat hy dit so groot as moontlik gaan afdruk. Miskien ’n bietjie aan Charl-Pierre Naudé se stukkie sny, maar Naudé sal nie kla nie.
En kyk na die kunstige omslag! Vreemde perspektief, asof Lina Spies by die voordeur uitgetrippel het, vroegoggend, gestruikel het en op die grasperk te lande gekom het. Nou staar sy tussen die grasspriete deur na die lug doer agter.
G’n twyfel nie, mense. Ons het hier met ’n ekodigter te doen, nie ’n ego-digter nie. Sy drink nie meer in Pretoria tee saam met P kwadraat nie, sy lê op die gras en kyk na bowe. (Ek het gewonder of die resensent, Marius Crous, verward geraak het toe hy Lina Spies as ’n “beleë” digter beskryf het.)
Maar daar het julle dit. My beterweterigheid oor Beeld se jongste Boekeblad. Hoe kan ’n mens op so-iets verbeter? Ons weet nou hoekom die hoofresensie altyd oordonder word deur die afdruk van die boek se omslag. Dit is die verbete estetisering van Beeld en as daar enige geregtigheid in die wêreld oor is, sal Jo Prins volgende jaar deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon word met die Frans du Toit-medalje.
Dis moeilik om te sê hoe daar überhaupt verbeter kan word op die Boekeblad soos dit nou is. Ek kan nou heel voorspelbaar en afgesaagd wees en sê dat meer resensies en piepklein afdrukke van die omslae die pad vorentoe is, maar nou weet ek ook dat as Jo Prins nog tien jaar lank op hierdie patroon voortgaan, almal mettertyd sal glo dat die Afrikaanse leser nie intellektueel in staat is om meer as een boekresensie op ’n Maandag te lees nie. Die res van die week speel die koerant arglistig veilig met geen boekbesprekings nie, terwille van sy reeds verdomde lesers se geestesheil.
Dit laat jou dink, nè?
Ek wonder of Jo Prins nie moet kyk of dit moontlik is om die illustrasie van die hoofboek onder bespreking as ’n soort plakkertjie op die blad te plak nie. Dan peul ’n mens dit net af, monteer dit op iets en laat dit raam.
En sodra jy dit afgetrek het, kan jy die volledige resensie lees. Ek sou so graag alles wat Marius Crous oor Lina Spies se tiende digbundel gesê het wou lees. Ek glo vir geen oomblik dat dit wat ons te lese gekry het, ’n volledige vorm van die resensie is nie.
En is dit nie verskriklik nie, om daar langs die eerste newelsliert van Marius Crous se resensie, te voel hoe jou oog wegdwaal na die aanhaling in Blouwillemaandag nie: “Sy het eenkeer gesê sy kla nie, maar dit nie maklik om ’n ma te wees nie.”
Comments