top of page
  • Crito

Dinamiese insigte en die laaste woord

Anastasia de Vries se benadering tot Rapport Boeke het nog nie ‘n vaste patroon nie, ofskoon sy enkele dinge nou ‘n paar keer herhaal het. Dit is goed so – sy het Rachelle Greeff se patroon baie beslis verbreek. Die Augustus-uitgawe van hierdie bylaag het ‘n paar bydraes wat mens baie positief stem – almal bydraes wat, al is hulle van wisselende gehalte, tog ‘n aanduiding gee dat De Vries kliphard probeer om geesdrif te wek vir boeke.

Ek het my al voorheen uitgelaat oor De Vries se pogings met vox populi. Hierdie keer val dit Riana Mouton en haar roman Spoorloos te beurt. Daar is ‘n resensie, ‘n onderhoud, en drie “gewone” lesers wat elk ‘n mening lug, plus ‘n inleidende paragraaf waarin kennis gegee word dat Mouton stywe kompetisie gaan bied vir Deon Meyer.

Ilse Salzwedel, wat die boek resenseer, doen dit oortuigend genoeg, sonder om mens argumenterend te oortuig dat Deon Meyer nou tweede gaan kom. (Die resensie open met ‘n opmerking oor wedywering met Deon Meyer, en sluit met ‘n goedkeurende vergelyking met Patricia Cornwell en Nancy Taylor Rosenberg. Tussen-in gaan die net oor die inhoud van Mouton se boek en dit is duidelik dat Mouton nie ‘n soort gemene deler is, vergelykenderwys, tussen Meyer en Cornwell nie. Dit klink vir my eerder of Mouton dalk ‘n nuwe soort procedural in Afrikaans aanpak, iets wat op sigself meer belangrik is as wedywering teen Meyer om lesers.)

Die vraag wat wel ontstaan, is: Was die drie vox pops werklik nodig? Ek is glad nie daarvan oortuig nie. Salzwedel se resensie, plus onderhoud met Mouton, sê reeds genoeg. Die drie lesers se menings is nie van só ‘n aard, of interessant genoeg geformuleer, dat dit nuwe insigte bring nie.

Trouens, dit het my net laat wonder hoekom De Vries skielik so baie ruimte aan ‘n boek van hierdie aard afstaan. Die antwoord, uiteraard, is dat mens dan ‘n kans kry om te sien dat die boek onder bespreking nie net op intellektuele of gereelde lesers van speurverhale gemik is nie.

Maar as dít die kroon is van hierdie uitgawe van Rapport Boeke, dan is ek bevrees De Vries mik nie hoog genoeg nie. Ek het ‘n vermoede dat sy hard duime vashou dat haar volgende vox pops nie net leesgeesdrif sal reflekteer nie, maar ook dinamiese insigte.

***

Saam met die resensie deur Ronel Nel van Melt Myburgh se bundel Oewerbestaan in dieselfde bylaag maak die redaksie ‘n interessante punt: “Ronel Nel is ‘n digter en hoewel sy glo digters moenie hul mede-digters se werk resenseer nie, het sy op versoek ingestem.”

Ek moet beken dis iets wat my al dikwels gekwel het. Lesers met ‘n lang geheue sal hulle die onenigheid tussen Charl-Pierre Naudé en Joan Hambidge in einste Rapport herinner. Aan die kern van die saak was juis die idee dat digters wat mekaar se werk resenseer, ongelukkig té dikwels die geleentheid gebruik om eie agendas, positief of negatief, te promoveer.

Wat sou Nel laat afsien het van haar beginsels hieroor? Waarskynlik die feit dat sy besonder positief voel oor die bundel van Myburgh. Het sy nie, meen ek, sou sy waarskynlik die beker aan haar laat verbygaan het.

Sy reageer op die resensie-versoek deur ‘n soort mengsel van resensie en artikel te skep. Sy haal aan uit ‘n onderhoud wat op LitNet met die digter gevoer is. Sy haal die digter aan oor ander dinge wat hy “per geleentheid” gesê het. Die resensie is uiteindelik ‘n opname van die vernaamste kenmerke van die bundel, en staan alles in diens van die vereiste wat Nel in die begin van die artikel/resensie oor gedigte sê: “Gedigte moet sing”. Haar slotsom is positief, maar dit is tog duidelik dat Nel geen sinnigheid had aan ‘n indringende analise van Myburgh se verskuns nie.

In sy geheel dus ‘n nuwe soort aanpak, teen die patrone van die sogenaamde akademiese resensies in. As ‘n mens jouself ten besluite afvra of jy dink dit werk, dan tel die oorbekende cliché waarmee Nel haar artikel/resensie afsluit werklik swaar teen haar en hierdie poging: “Hierdie bundel gaan ‘n besondere plek op my boekrak inneem.”

***

Louise Viljoen het al in die verlede die dorheid van die akademiese literêre analise ten prooi geval – of liewer, dit het al in haar resensies ingesluip.

Maar sy bly een van die beste ontleders van literêre werke, en haar bespreking vandeesweek in Die Burger van Myburgh se bundel wys net weer hoe skitterend sy kan wees.

En vir ‘n debutant soos Myburgh is hierdie waarskynlik die een resensie wat die meeste saak maak. Hier kan hy nou gaan lees presies hoe hoog sy digkuns aangeslaan word. Ek is seker hy het Maandagaand Viljoen se resensie ‘n paar keer gelees net om seker te maak sy oë speel hom nie parte nie.

Let gerus ook op na die afsluiting van hierdie besonderse resensie: “Dit was in alle opsigte die moeite werd om vir hierdie sterk debuut te wag.”

Dís hoe dit gedoen word!

***

Neil Cochrane skryf in Beeld oor Die grysland-verblyf van Jaco Fouché. Met Cochrane se resensies hinder die formulistiese aanpak mens soms, ander kere nie. Hierdie keer wel. Vertel langsamerhand die storie. Fel die oordeel. Noem die voorgangers. Handel af.

Hoekom nie kort gaan nie? Soms die storie op in een of twee sinne, sê dis ou nuus, voorspelbaar geskryf, klaargepraat.

Cecile Cilliers het my enkele weke gelede verlei om Die grysland-verblyf aan te skaf. Haar deernis het my getref - mens kan sekerlik nie fout vind daarmee nie.

Ná die lees is ek dit wel eens met Cochrane. Enigiemand wat ‘n literêre werk wil skep oor ‘n skisofreen se ervarings, moet iets nuuts toevoeg tot die reeds bestaande korpus werke oor skisofrenie.

Cochrane het moontlik ‘n kanon gebruik om ‘n parkiet te skiet, maar sy oordeel is wat my betref absoluut in die kol.

2 views

Recent Posts

See All

Swaai sterk

Soveel as wat ek saamstem met die toekenning van KykNet en Rapport se pryse vir die beste boekresensente van 2021 aan Jean Meiring, Charl-Pierre Naudé en Izak de Vries, dink ek dis tyd vir ’n radikale

Irritasie

Ja, die kat kom terug. Lekker lang vakansie. Rustige dae met die Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel terwyl ek probeer om my lewe weer agtermekaar te kry nadat ’n tweevoetige eweknie van harige Mangali

El anciano gooi mielies

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong - wel, soo

コメント


bottom of page