Die kwynende stroompie van Afrikaanse boekbesprekings het die afgelope weke weer iets opgelewer wat mens laat besef hoe belangrik dit is dat daar meer as een resensie van ‘n boekverskyn. Die eerste was Thys Human se resensie van Louis Krüger se “Wederkoms” verlede week in Beeld, en die plasing van Willie Burger se bespreking van dieselfde boek op LitNet.
Human se betoog gaan in ‘n baie positiewe rigting, met inagneming van leemtes en tematiese herhalings uit Krüger se vorige werk, terwyl Burger weer na ‘n lang en begrypende resensie voel dat die boek “ouderwets” is, nie vernuwend is nie, al ontroer sommige tonele mens.
Wie glo jy?
Albei, uiteraard, totdat jy die boek self gelees het. Die waarde van hierdie twee resensies lê daarin dat hulle ‘n gesprek oor ‘n literêre werk open. Dis ‘n gesprek wat in koerante, LitNet en lesingsale voortgesit kan word. Dis ‘n gesprek wat nuuskierige lesers, hoop ‘n mens saam met die skrywer, boekwinkels toe lei.
Vir albei resensente het ek baie respek, en omdat hulle boonop in die akademiese wêreld staan en kollegas is, kan ‘n mens net hoop dat hul gesprek wyer sal uitkring.
Hopelik tot in daardie wonderlike kring van literêre bespreking – die beoordelaarspaneel van die M-Net-prys. Diegene wat al in die verlede lede was van dié groepie, sal kan beaam dat dit ongelooflik interessante gesprekke afgee. Maar dis in kleiner kring, en mens is altyd bly as resensies soos dié van Human en Burger ‘n vuurtjie vir ‘n boekgesprek aan die brand sit.
Ek vermoed dat die laaste woord oor hierdie roman nog nie geskryf is nie. Die aansluiting daarvan by die huidige teologiese debat sal na alle waarskynlikheid ook nog onder die loep kom.
Ek moet bieg dat ek op die oomblik ‘n bietjie meer as gewoonlik sensitief is oor die wye gesprek oor boeke. Ek het die afgelope week Peter D. McDonald se “The Literature Police” gelees (onlangs deur André P. Brink geresenseer).
Dit is ‘n boek wat vir liefhebbers van die Afrikaanse letterkunde as ‘n groot skok kom. Ek het self my sosiale, literêre en politieke bewussyn gekry in die jare toe eers Gerrit Dekker en toe Jannie Krige die sweepklappers was in die apartheidsregime se sensuurstelsels. Die waarde van MacDonald se boek (behalwe dat dit aantoon welke waansin vaardig raak wanneer verstandige letterkundiges probeer help om politieke bobbejane se wankelende strukture staande te hou) is dat dit wys hoe laag sommige Afrikaanse letterkundiges gedaal het in hul pogings om te verhinder dat genoemde politieke bobbejane hul magswellus omsit in totalitêre magsmisbruik.
Die effek hiervan was dat al die rasionalisering baie mense verkeerdelik onder die indruk gebring het dat die sensuurstelsel ‘n voorbeeld was van hoe beskaafd die apartheidsregime was. Terwyl letterkundiges hul taal se letterkunde, asook hul skrywersvriende en –vyande op gereelde basis moes verraai om die magshebbers en hul gepeupel tevrede te hou.
En wat was aan die kern van die stelsel? Verslae wat in effek resensies was van die boeke. Resensies. Presies hoe sulke resensies gebruik is om boeke te kelder, word dwarsdeur MacDonald se boek met aanhalings geïllustreer. Die een wat dit die sterkste wys, is die afdruk van die “lesersverslag” wat prof. Merwe Scholtz geskryf het oor Nadine Gordimer se “The Late Bourgeois World”. Dis met beklemming dat mens ‘n sin lees soos “Hierdie passasies is ‘dinamiet’ “, want jy weet dit is die sin wat veroorsaak het dat die boek verbied word.
Een “resensie” wat die wye gesprek beëindig het. Hoe kosbaar is ‘n gesprek soos dié van Human en Burger oor die Krüger-boek dan nie vandag nie!
Dit bring my terug by Brink se bespreking van hierdie boek. Ek dink hy verdien lof vir die manier waarop hy homself in toom gehou het in sy resensie.
Comments