In lugballonne en helikopters, op plesierbote en seiljagte, te voet langs die kaai, oral drom toeskouers saam. Hulle waai en wuif hul harte uit. Die Queen Mary 2 word met entoesiasme en verskuldigde eerbied gegroet as sy vroegoggend stadig en statig die hawe binnevaar.
Baniere wapper in die wind met die woorde: “Welcome QM2”. Orkesklanke klink op. Dansers in tradisionele drag tree na vore, bv. Kreole in mooi, heldergeel rokkies in Mauritius (en Zoeloedansers in Durban!). Kameras klik. Die flitse blits soos klein weerligstraaltjies in ‘n donderstorm in die Laeveld.
Vaar die QM2 laatmiddag voort, is dit nog ‘n amper groter okkasie. Toeskouers dam kilometers ver langs op hawemure op om foto’s te neem en te wuif. Op dek 11 speel die Karibbiese orkes, Vibz, “On the Role Again”. Mense vertrap mekaar by die dekrelings om die land stadig al hoe verder die verte in te sien skuif. Hulle swaai opgewonde die lywe op die polsende ritme van die musiek. Kelners dra net vonkelwyn aan.
Die Queen fluit drie keer, grommend uit ‘n diep keel. (Die skip het vier fluite, twee aan die skoorsteen, een op die mas en een op die boeg. Een van die twee op die tonnel is die oorspronklike van die QM en een ‘n replika. As hy werklik die krane oopdraai, bv. in digte mis, trek die klank 15 km ver.)
LINKS: Welkom in Melbourne!
Die skielike vogtigheid wat in jou oë opstu, is nie seesproei nie. Jy moet ongevoelig, sinies, meerderwaardig en totaal onromanties wees as die verhewe tonele van aankom en vertrek nie jou hart aanraak nie. Verwondering pak jou beet oor die groot voorreg om sulke oomblikke ook te mag belewe – jy, die ou seuntjie van Babanango met die kroepborsie, en aan jou sy die weesdogtertjie van Hertzogstraat, Bultfontein, wat nou hier, sakdoek in die hand, ewe breed op die dek van dié Queen Mary staan.
Ons het Durban, Mauritius, Fremantle/Perth en Melbourne (Melburn) aangedoen voordat ons ná 22 ter see ons bestemming, die wonderskone Sydney, bereik het. By elke hawe het die VanD’s vroeg geroer en in die halfdonkerte op die observasiedek op dek 11 strategiese staanplekkie oopgeskrop. Elke stad bied sy eie bekoring. Maar Melbourne – dié was spesiaal. Daardie pragtige stad aan die Jarrarivier word nie ten onregte nie deur baie as die Parys van Australië bestempel. Hy’t styl. Sy styl slaan deur in die gulle ontvangs.
Die intog by Melbourne is buitengewoon uitdagend, het kaptein Kevin Oprey ons vooraf meegedeel. Die kwartiermeester aan die stuur (‘n konvensionele wiel!) skuur versigtig verby die duisternis boeie wat soos hindernisse op ‘n baan rondom die Queen dobber. Die wolkekrabbers doem al hoe groter op in die sagte oggendlig. Die lugballonne en die helikopter bo die skip skep ‘n feestelike atmosfeer; op die bootjies wat avontuurlik tot amper teenaan die skip kom, sien jy net wuiwende arms en flitsende kameras. Die Queen is hier! Die Queen is hier!
Ons daag in Fremantle ‘n dag vroeg op weens noodsaaklike instandhoudingswerk. Die Queen se aankoms is hoofnuus op Perth se radiostasies. Kevin Fitzgerald, ons gasheer vir die volgende dag, hoor die nuus in sy motor, maar luister met ‘n halwe oor, en skrik hom oor ‘n mik. Hy bel sy vrou, Marlien, ons skoondogter, Mariza, se suster, en vra benoud: “Het ons die dag verkeerd?” Ongelukkig kon ons nie laat weet nie. Die selfoon was so dood soos ‘n mossie – dankie, Vodacom!
Sydney se hawe is volgens dié wat weet die mooiste op die ganse aardbol. Die dramatiese brug (wat die plaaslike mense die “coathanger” noem) en die treffende operahuis is twee ikone. Die toringgeboue en die veerbootverkeer in die hawe dra kleur by tot die skilderagtige prentjie. Ons vaar Sydney ongelukkig binne terwyl die stad nog slaap. Ons hoor net die skuurgeluide van die ankers in ons kajuit, nommer 6005, in die voorstewe. Vir ‘n oomblik is ons teleurgesteld. Maar toe ons op dek sewe uitstap, sien ons selwers ‘n eiesoortige sprokiesland – “Sydney by night”. Die stad se liggies blink soos juwele teen die swart fluweel van die lug. Eers ontdek die uwe die brug aan bakboordkant. Toe die operahuis aan stuurboord. Die Canon klik.
Sonder ‘n driepoot is ‘n nagfoto altyd ‘n uitdaging. Myne bied ek hier maar kleinerig aan om die beweging te verdoesel. Tog is elkeen vir my ‘n skat!
FOTO’s 3 en 4: “On the roll again”
Comments