Aan jou jongste resensie word jou waarde geskat – gelukkig miskien ook só.
‘n Week gelede kon ek kwalik glo hoe slordig ‘n resensie deur Joan Hambidge kon wees (n.a.v. haar bespreking van Wynand Coetzer se Skerpioen). Vandeesweek moet ek haar gelukwens met haar bespreking in Volksblad van Hennie Aucamp se Die huis van die digter en ander liefdesverhale.
Dit is wel vreemd dat sy vir Aucamp die moeite gedoen het om in detail in te gaan op die gebrek aan voortreflikheid en varsheid, terwyl sy met die Coetzer-resensie gewys het dat mens ‘n boek kan veroordeel met ‘n paar dwarsklappe na ander resensente en geen indringende bespreking nie.
Met Aucamp se werk het sy nie gehuiwer om aan te toon presies waar die insinkings is nie. Sy waag dit ook om die grootste negatiewe element uit te lig: baie klink só bekend.
En tog het sy Aucamp ook vriendelik behandel. Sy kom ‘n slag of wat baie naby daaraan om te sê dat die jonger Aucamp nooit sulke skryfwerk sou gepubliseer het nie. Sy kon dit in baie sterker taal geformuleer het.
***
Thys Human se bespreking in Beeld van In oneer, Fanie Olivier se vertaling van J.M. Coetzee se Disgrace, is baie pertinent. Dit skakel netjies aan by ‘n gesprek oor aspekte van die vertaling van literêre werke elders op LitNet, en dit is waarskynlik die laaste resensie oor hierdie werk wat nog in die Afrikaanse dagblaaie sal verskyn (Die Burger, Volksblad en Rapport het die werk reeds bespreek, as ek dit nie mis het nie) – en waarskynlik die oordeel daaroor wat die langste in die geheue sal vassteek.
Ek het al dikwels geskryf oor die wenslikheid daarvan om in koerante wat die massamark bedien resensies te plaas wat nie net ‘n klein kringetjie intellektuele of akademici aanspreek nie.
Human se resensie het wel ‘n streng akademiese benadering, maar hierdie keer vind ek dit volkome geregverdig – ek weet nie hoe hy só ‘n resensie sou kon skryf in gemoedlike allemanstaal nie. Human het ‘n argument wat hy voer om uit te kom by sy uiteindelike samevatting: “In In oneer word die taal dikwels eerder ’n leeshindernis, ’n versperring, ’n belemmering. Nie net Coetzee nie, ook Afrikaanse lesers verdien beter as dit.”
Om by só ‘n punt uit te kom, is dit nodig om jou premise deeglik te stel, en jou argument deeglik te bou. Dit doen Human besonder goed. Werklik ‘n knap resensie.
***
Wat die res betref, eintlik ‘n vaal resensie-week in die Afrikaanse koerante. Desember is hier, ons kan seker heelwat verwag in die komende weke.
Kommentarer