Maar voordat ek oor Die Burger se blad mor, eers hierdie wonderlike stukkie insig wat 'n onderwyseres op Volksblad se Boekeblad gepleeg het: "Hoewel dialoog 'n karakterbeeldende rol in die boek speel, mag die meer konserwatiewe leser dit vreemd vind om in jou moedertaal vroue se intieme liefdestaal vir mekaar te lees en dronk vroue se tonge te hoor sleep."
So wragtag! In watter ander taal moet hulle dan vir mekaar sê hulle is lief vir mekaar? Watse belaglike benepenheid is dit dié?
Terug by Die Burger: Gerrit Brand sit sy kultureel-pedagogiese kruisvaart voort met die plasing van nog 'n Nederlandse boek wat Die Burger se lesers nie in die algemene boekhandel in Kaapstad en omgewing sal kry nie, en waarskynlik ook nie by die spesialiste nie. Dus weer oor die internet bestel, en maar lees wanneer jy al vergeet het hoekom jy die boek wou hê ...
Die boek is "Heerengracht Zuid-Afrika - Nederlandse Literatuur van Zuid-Afrika", saamgestel deur Eep Francken en Olf Praamstra, in Nederland gepubliseer, en hier bespreek deur Chris van der Merwe.
Van der Merwe is 'n ou hand, sekerlik een van die min akademici wat in staat is om hom weg te wend van 'n swaartillende diskoers en die algemene koerantleser aan te spreek. Danksy Van der Merwe het die uwe heelwat simpatie met hierdie boek, ofskoon die onderwerp vir my effe bekook is. Wat volgende? Zuid-Afrikaanse vroue wat hul naam gemaak het op die Walletjies?
Dan tree Brand ook twee nuwe resensente aan (vir my altans - kan nie onthou dat ek hulle al voorheen sien resenseer het nie). Hulle is Mariana Loots en Lenelle Foster. Albei is nog in die voetganger-stadium van resensies skryf. Jy weet mos: Vertel die storie in jou eie woorde, sê wat jou gehinder het, en sluit af met 'n bemoedigende woordjie.
Dit sou miskien meer regverdig gewees het teenoor die twee getroffe outeurs, Michael Rands en Sindiwe Magona, as Brand die twee resensies vir sy laai gehou het, en resensente met meer ondervinding gekry het. Veral Rands (outeur van "Praise Routine Number 4") het rede om moerig te wees.
Ondanks 'n baie gawe opskrif ("Indrukwekkende debuutroman") dink ek betaam dit 'n koerant van Die Burger se statuur om resensente te gebruik wat werklik met 'n boek slaags raak, veral waar die outeur voorheen van Kaapstad was en die milieu Kaapstad is. Iemand wat die storie oorvertel, 'n magdom temas identifiseer sonder om die werklike sentrale tema, dié van kulturele swendelary, aan te dui, deug eenvoudig nie. Hoe goed het die resensent "Praise Routine Number 4" werklik gelees?
Ek is gelukkig, ek het "Praise Routine Number 4" in die vakansie gelees en weet hoe deksels goed hierdie debuutroman werklik is. Dis net jammer dat Die Burger se lesers vir lief moet neem met 'n lam resensie deur iemand wat skyn te dink debuutromans kan nie indrukwekkend wees nie.
Comments