top of page
  • Uitmelkbos

BAKBOORD EN STUURBOORD


IMG_0084-002
IMG_0092-002

HEELBO: Die Illuminationsteater – een van twee identiese ingange.

LINKS:  Die gangetjie waarin ek (of Tokkie) so lank gewag het – een van twee identiese gangetjies.

Die verdwaalpotensiaal is legio op ‘n skip so lank as 41 dubbeldekker-busse snoet aan snoet en met 16 kilometer (10 myl) onder mat, van Melkbos verby Blouberg op pad Kaap toe.

 Die afstande het soms by my die gevoel laat ontstaan dat ek elke liewe een van daardie 16 km met my ietwat knap “Grashoppers” of verslete “Green Cross”-sandale in ‘n dag bewandel het. Maar dit net terloops. My storie handel oor iets anders – noem dit die Van D’s se Groot Verdwaal. Minstens hul  Groot Geografiese Misverstand.

 Die drama speel hom af op dag sewe toe ons die ou skippie se vele hoekies en draaitjies darem al redelik onder die knie behoort te gehad het. Ons sou in die planetaraium – die enigste ter see – in die imposante “Illuminations”-teater (sitplek vir 483) na die ruimteskouspel “Cosmic Collisions” op die reuse-koepelskerm in die dak gaan kyk.

 Tokkie gaan luister eers na ‘n aanbieding oor die komponis Gershwin, en ek na raad vir voete wat jou opkeil. Ons spreek af om mekaar in die gangetjie voor “Illuminations” te ontmoet.  Maar ek sit en ek sit. Later, toe dit te laat vir die vertoning is, stap ek kajuit toe.  Geen teken van mev. Van D. nie.  Ek gaan vra vir die “Purser”: “Enige vars mediese opnames?”  Sy bel kajuit 6005 en ek hoor die bekende Tokkiestem aan die ander kant.

 Ek stoom terug, pluk die deur oop en begin raas. “Waar was jy?” “Waar was jy?” dring sy ewe onbehaag aan.  Dis die een woord op die ander.  Sy besluit om te gaan wys. “Kyk, op hierdie stoel het ek gesit.”       

 Ek: “Onmoontlik. Hier was ek ‘n hele halfuur en daar was geen teken van jou nie.”

 Sulke oversoenbaarhede is klaarblyklik geen resep vir boetvaardigheid  en vrede nie.  Steeds bewend oor die wederkerige onbetroubaarheid keer ons in ons kajuit terug.  Die gesprek woed voort.  Uiteindelik besluit ons huweliksharmonie is belangrik. Laat ons nie verder die onverklaarbaarheid probeer verklaar nie. Party dinge gaan immers die menslike verstand te bowe.  Dit weet ons tog almal. Kom ons lag liewer, waag ek floutjies.

 Ons besluit om as vredesgebaar by die middagvertoning te probeer inkom. “Waar sal ons mekaar kry?”  Logiese antwoord:  “In die gangetjie. Daar waar ons nou was.”

 Niemand sal die verdere verloop glo nie. Dis egter evangelie. Glo dit gerus maar ongekwalifiseerd.  Ek sit weer in die gangtjie en rondkyk. Geen teken van Tokkie. Sy sit in die gangetjie en rondkyk. Geen teken van Hennie.

 “Cosmic Collisions” begin weer draai met die Van D’s se sitplekke leeg.  Albei keer onverrigter sake terug na die kajuit. Die herontmoeting is nie jubelend nie. Trouens, die situasie raak lelik.  Die desibels styg tot gevaarlike vlakke.

 Al opsie is om weer terug te keer na die toneel van die misverstand om mekaar van elk se onskuld te probeer oortuig.  Maar dit sukkel maar  Die een prober die ander doodpraat.

 Uit ‘n half-oop deur kom skielik ‘n vrolike stem: “Lekker om Afrikaans op die skip te hoor!”

 Se voet, antwoord ek. “Druk jou ore toe. Hierdie gesprek is privaat.”

 Die vrolike stem behoort aan ‘n Joubert van Pretoria, blyk dit.  Hy is ‘n lid van die bemanning. En hy, die liewe jong Bloubul met die kuiltjie in die wang, ontrafel daar en dan ons probleem.

 “Elementary, Mr. Watson.”  Die teater staan oor die breedte van die skip. Links, aan die stuurboord, is ‘n gang. Regs, aan die bakboord, is ‘n identiese een. Ingang van die teater lyk uit albei gange eenders. Selle beelde. Selle stoele. Selle als.  Hang net af van watter kant jy af kom. 

 ‘n Onmiddellike ondersoek ter plaatse bevestig die jonge heer se mededeling.

  Dis inderdaad hierdie spieëlbeeld wat ons verwar het. Soos die duiwel dit wou hê, het die Van D’s nie net een keer nie, maar twee, verskillende roetes na die teater gevolg en gevolglik by verskillende bestemmings opgedaag – elkeen salig onder die indruk dis die regte plek.

 “Cosmic Collisions” het ons toe nooit gesien nie.  Het sommer ons eie, persoonlike “cosmic collision” beleef … en genadiglik oorleef. Die huwelik van 46 jaar gaan voort.   

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

コメント


bottom of page