top of page
  • Uitmelkbos

A LA FRANK SINATRA

Frank Sinatra: “Vive la difference!”

Frank Sinatra se bekende My Way, deesdae nogal gewild as ‘n huldigingslied by begrafnisse, bevind hom in interessante Afrikaanse geselskap. Soos Sarie Marais en Ou Ryperd (en verskeie ander ingevoerde Afrikaanse liedjies) het My Way ‘n ietwat verrassende oorsprong.

Sarie Marais, deur baie geag as so tradisioneel Suid-Afrikaans soos die koeksister, dra natuurlik die stempel “Made in USA”. In Amerika was dit in die jare her bekend as Elly Rhee.  Ditto Ou Ryperd.  Chris Blignaut se immergroen liedjie (deur Dozi nuwe lewe ingeblaas) het onlangs sy plek tot in die 25 boonstes van die “Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye” oopgalop. Dit is, helaas, niks anders nie as ’n vrye vertaling/interpretasie van Old Faithful.

Gene Autrey, daardie gawe cowboy van die jare 40 – toe ek self nog ’n aspirant-cowboytjie in Kimberley was – het sy getroue ryperd so besing as hy by sy vuurtjie in die Amerikaanse Wilde Weste kitaar sit en tokkel. “Old Faithful, we roam the range together . . .”

My Way is op sy beurt g’n niks Amerikaans nie.  Die Kanadese sanger/komponis Paul Anka het die melodie in Frankryk gaan “gaps” en die lirieke vir Frank Sinatra herskryf.  Ole Blue Eyes het daarvan ‘n internasionale treffer gemaak. Maar wie het al ooit van Comme D’habitude gehoor wat in 1967 deur Claude François and Jacques Revaux gekomponeer is?

Die lirieke van My Way vertel die storie van ‘n man wat op gevorderde jare terugkyk op sy lewe terwyl die dood nader kom. Hy is gemaklik met sy sterflikheid en aanvaar verantwoordelikheid vir hoe hy al die uitdagings van die lewe gehanteer het. Vir baie mense slaan ‘n taamlik klankie van eiewaan en arrogansie in die woorde deur:   

And now, the end is near And so I face the final curtain My friend, I’ll say it clear I’ll state my case, of which I’m certain

I’ve lived a life that’s full

I traveled each and ev’ry highway

And more, much more than this, I did it my way

Paul Anka, by my generasie bekend as die sanger van die trefferliedjie Diana, is klaarblyklik ook iemand wat dinge op sy eie manier gedoen het.   Luister mooi as jy weer Diana hoor:

I’m so young and you’re so old This, my darling, I’ve been told I don’t care just what they say ‘Cause forever I will pray

You and I will be as free

As the birds up in the trees Oh, please stay by me, Diana. 

Klaarblyklik geen konvensionele verhouding hierdie nie. G’n wonder dat die mense geskinder het nie.   

Frank Sinatra is nie juis een van my gunstelinge nie.  Het geen diepgaande studie oor hom gedoen nie.  Waar ek dan aan my slimmigheid  oor hom kom?  Het graag by die Illuminations-teater op die QM2 na die program “Cunard insights” gaan luister. Een van die boeiende sprekers was die musiek-historikus Chris Walker, wat lekker oor grotes soos Irving Berlin, Gershwin en Sinatra se lewe en werk vertel het.  Die onthullinkie oor My Way kom van hom.   Vir vele in die gehoor was dit ietwat van ‘n ontnugtering.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page