top of page
  • Uitmelkbos

15 MAART 1966


Ben van Rensburg se foto's van ons.

Die mooie, jong juffrou. Ben van Rensburg se foto.


Aan die nuusfront was 1966 ’n geweldige jaar. Van die grootste koerantstories was die eerste sagte landing op die maan; die val van Kwame Nkrumah van Ghana; die sluipmoord op dr. Hendrik Verwoerd; die stranding van die Seafarer by Seepunt, en die noodlottige modderstorting op die dorpie Aberfan, Wallis, wat ’n skool verswelg het.

Die Beatles het ophou toer. Hul laaste konsert in San Francisco was iets ysliks. Selfs groter opslae is gemaak deur John Lennon se onbeskeie aanspraak dat die vier bossiekoppe uit Liverpool met hul welluidende kitare gewilder as Jesus Christus is. Wêreldwyd het verontwaardiging gewoed.

Al hierdie stories is deur my soms bewende hande as Die Volksblad se hoofsubredakteur. Moet bely: met die Beatles het ek aanvanklik misgetas. Het dit op die pen geslaan (letterlik ‘n skerp draadpen) omdat dit in my oë godslasterlik was. Die redakteur was bra stuurs oor my oordrewe sensitiwiteit.

In my persoonlike lewe het ook ’n geweldige ding gebeur. Op 15 het ek en Tokkie Maart 1966 – net mooi 50 jaar (plus-minus 438,300 uur) gelede – van Wyk van Bultfontein, dogter van die weduwee Marietjie en suster van die kampioenatleet Fanie, op haar 20ste verjaardag verloof geraak. Sy het pas begin skoolhou vir ’n standerd-een-klas (nou graad drie) van die Laerskool Wilgehof, en die juffrou was ’n prentjie in haar vrolike somerrokkies.

Ek het die beminde Bultfonteinse Tannie Marietjie met die mank stappie weens polio kort tevore in Tokkie se kamer in die VSA-gebou (Vereniging van Staatsamptenare) om haar dogter se hand gevra – seker met die heimlike wens dat sy net sulke lekker frikadelle soos ma haar sou kon maak. Daardie wens is vervul. Van haar het kollega Johan van Wyk, darem ná jare se oefening, in sy rubriek Stop van Myne geskryf: “Net ’n Van Wyk kan sulke lekker kos maak vir ’n Van Wyk.”

Gelukkig was 15 Maart 1966 ’n stil nuusdag. Ek kon die aand vergeet van werk en ongesteurd die ring aan my geliefde se vinger gaan steek op ’n romantiese ete in die restaurant Franco’s in St. Andrewstraat. Ek vermoed dit was die enigste in Bloemfontein.

Wat ons geëet het, is vergete: waarskynlik ’n garnaalkelkie, ’n stukkie monkey gland steak (lekker sousie) en, vir nagereg, roomys met sjokoladesous. Die kombinasie was gewilde spyse. Die wyn onthou ek goed. Dit was die effens soeterige maar smaaklike Tassheimer Goldtröpfchen.

Die aandjie (wyn en nagereg inbegrepe) het my seker niks meer as R4 tot R5 armer gelaat nie.

Die min ander kere toe ek en Tokkie voor ons troue gaan “uiteet” het, was by die Griek Peter se kafee net oorkant die munisipale swembad in Unielaan – eersteklas – allegaartjies vir iets soos 60c elk.

As die pryse ongeloof klink, hou hiermee rekening:

In 1966 was my salaris R220 en Tokkie s’n R100; ’n Pakkie Rembrandt van Rijn het gelukkig net 20c gekos. ’n Koerant waarmee ek speel-speel kon kaarspeel –  was 5c, ’n haarsny 25c en ’n tenk petrol onder R10. Kreef thermidor was die duurste gereg op elke spyskaart teen R1,99 vir ’n boordensvol bord. Nederburg Cabernet en Zonnebloem Cabernet, uitsoek-wyn, was R1,50 per bottel. Vir nederiger Nederburg Stein het jy kleingeld gekry vir jou rand. In Durban kon jy in ’n redelike vakansiehotel oornag teen R3,00 vir bed en (’n allemintige) ontbyt.

Maar moenie dink “uiteet” was eens naastenby so ’n kultuur soos vandag nie. In Bloemfontein het ek en Willie Kühn, slim Nataller en latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, woonstelmaats geword, eers in La Gratitude (ook saam met Ben van Rensburg tot sy troue) en later in Giel Conradiehof. In Giel Conradiehof het Tokkie ná ons verlowing dikwels saans kom kuier en kosmaak. Ek onthou huisbesoeke deur ou-dominee McDonald van die Klipkerk wat nie kon kleinkry waar pas die mooi, jong vroumensie in nie. Dan bid hy sommer vir “die twee broers en hul vriendinnetjie”!


Ewenwel, ná die verlowingsete is die stralende paartjie na kollega Ben van Rensburg en sy vrou, Tina, se woonstel in Unielaan om met die ring te gaan spog. Ben, nou saliger, het ’n foto van Tokkie in haar blink aandrokkie geneem en ook een waar ek met ’n kus die verlowing verseël. Vanselfsprekend was ek uitgevat in ’n donker pak; my paisleydas swierig geknoop. Ons het ewe deftig aangetrek as ons gaan fliek. Mans het ook altyd pakke kerk toe gedra, en vroue sykouse en hoede. Langbroeke was vir hulle taboe. Ek het met ’n das gaan werk.

(Terloops: flieks van die jaar was A Man For All Seasons en The Good, The Bad and the Ugly. In Amerika het almal The Ballad of the Green Berets geneurie. In Engeland was ’n populêre liedjie The Sun Ain’t Gonna Shine Anymore.)

’n Glasie van Stukvat in die Paarl se verruklike port is vinnig saam met die Van Rensburgs gesluk. Ben had altyd ’n voorraad. Toe moes ons spore maak – Tokkie natuurlik na haar eie kamertjie in die VSA-gebou. Die hoofsub moes vroeg uit die vere. Elke oggend om 05:00 moes ek in Voortrekkerstraat op my pos wees. Die Volksblad was nog ’n middagkoerant.

Daardie tyd was “sosiale bladsye” ’n groot ding. By elke okkasie is foto’s geneem vir die prestigeblad waarop BBP’s graag wou pryk – veral sommige. Party oorgretiges het ons altyd aan die kant laat staan sodat ons hulle gerieflik kan afsny. Weekliks was daar ook ’n blad met trou- en verlowingsfoto’s. Natuurlik wou die verliefde Hennie met Tokkie op die “verloof-en- getroud”-blad spog. Sy is op my aandrang na die fotograaf Christo’s vir ’n ateljeefoto. Oom Christo Groenewald het later burgemeester geword – nie sleg vir ’n ou wat feitlik sy lewe in ’n donkerkamer geslyt het nie.


1-1-1-2016_03_03

Toe daardie foto gepubliseer word, het die nuusredakteur, Oom Gert Terblanche (nou 92), op ’n skeurblad vir my die volgende boodskap skuins bo-oor geskryf: “Veels geluk. Goeie smaak.” Ek was dit hartroerend met hom eens. Ek is dit vandag, 50 jaar later, steeds – ek bêre ook nog die vergeelde skeurblad.

Om die kroon op 1966 te span, is ek en Tokkie op Oujaarsdag op Bultfontein getroud. Ek was toe 25 en Tokkie 20, wat beteken dat ons vanjaar my 75ste, haar 70ste en die goue bruilof so saam-saam kan vier. My hart het gesing – en die sonbesies beslis ook – op daardie snikhete Saterdag-agtermiddag in die Vrystaat.

(Hierdie stuk was ook in BY en Die Volksblad.)

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Commenti


bottom of page