My boekie “Byl in my bos”, oor die uitdunning van my generasie deur die dood, is net ‘n jaar oud. Nou kap die Byl éérs! Die splinters spat en die vars hopies kom in ‘n ontstellende tempo by.
Gelukkig is ‘n boek nie soos ‘n koerant nie. Wat jy geskryf het, het jy geskryf. Kant en klaar. As dit wel soos ‘n koerant was, sou ek al hoeveel “ads” moes bysit – en vandag weer.
‘n “Ad” is in koerant-vaktaal nuwe inligting wat agteraan of iewers in die lyf van ‘n berig gelas word. Vandag se “ad” sou wees om die naam van oud-kollega Naas du Preez by te voeg.
Naas was politieke beriggewer en nuusredakteur van Die Volksblad, maar het later na die
advertensiekant omgeswaai as eerste bestuurder van ‘n nasionale advertensiekantoor vir die koerante in Johannesburg. Hy het sy loopbaan voltooi as hoofbestuurder van Volksblad en die koerante en die sentrale streek.
Vir hom koppel ek veral aan ‘n storie uit sy nuusredakteursdae – die storie van die “scoop” wat uiteindelik nie ‘n “scoop” was nie.
Die storie het sy oorsprong by daardie skraal, kaalvoet-Vrystatertjie Zola Budd. Sy het op ‘n kol eksklusief, en in haar eie handskrif, Die Volksblad (toe nog met die “Die”) meegedeel dat sy in Suid-Afrika gaan bly.
Ek (redakteur) en Naas (nuusredakteur) is heel ingenome by die rolpers afgeneem met ons
“eksklusiewe” Zolakoerant (foto bo).
Nie lank daarna nie, was Zola weer as aangenome Brit in Brittanje op die baan.
Wat maak dit tog saak, Die Volksblad is die dag ná haar oorhaastige aankondiging in The
Citizen se hoofberig iets soos tien keer genoem — ‘n joernalistieke rariteit.
Sou graag nog vir oulaas met Naas n grappie oor ons twee se Zola-“scoop” wou deel.
Comments