Noem dit wetsgehoorsaamheid. Noem dit ‘n kniebuiging voor intimidasie en viktimisering. Noem dit wat jy wil. Feit is my Honda CR-V het, na 18 maande se senutergende konfrontasies met die gereg, nou nuwe, kleiner nommerplate.
Die sage het begin toe ek in November 2007 buite Laingsburg met R300 beboet is oor my nommerplate wat TE GROOT is – TE SIGBAAR dus. Danksy die doeltreffende argiefstelsel van Yahoo kon ek sonder veel moete opspoor dat ek op 23 November 2007 my lot in hierdie ruimte daaroor bekla het.
Die maatband is daarna uitgehaal en noukeurige metings het aan die lig gebring my plate is 520 mm diep teenoor die voorgeskrewe 515 mm en die letters .052 lank terwyl dit net .028 moet wees.
Vertoë is gerig (ook met beredenering van die rotsvaste funksionele beweegrede vir die effens groter plaat) en op langelaas is die saak op die vooraand van die verhoordatum teruggetrek. Maar dit was nie die einde van die storie nie.
Eers is ek op die N7 deur ‘n verkeersman met flitsende noodligte en ‘n skellende sirene ingejaag om my te waarsku my nommerplate is “onwettig”. Gelukkig het ek na die Laingsburg-insident die oorspronklike “regte” plate vir die wis en die onwis in die bagasieruimte saamgery. Ek kon die omgekrapte verkeersman oortuig ek is as’ t ware op pad om hulle op te sit.
Toe kry ek twee keer binne vyf dae op die N2 soortgelyke teenspoed. Onthutste verkeersmanne jaag my in, trek my van die pad af, weer met loeiende sirenes en flitsende ligte, en dreig met yslike boetes wat klaarblyklik vinniger as die inflasiekoers styg. Elke keer red die “spaar”-plate in die kattebak en die vrome belofte dat ek hulle onverwyld en dringend sal opsit gelukkig my bas.
Wat ek, tussen ons, nie werklik van plan was om te doen nie. My Tokkie-vrou bly egter neul dat ek maar moet toegee. Toe vertel ek haar die storie van Spioenkop.
Dit gaan oor ‘n opruiende Geloftedagspreker wat telkens sy diskoers onderbreek met die uitroep: “Hulde aan die helde van Spioenkop”. ‘n Omie in die voorste ry raak vreeslik opgewonde, vlieg orent en klap hande vir ‘n vale.
Na die tyd gaan vra die nuuskierige spreker vir hom hoekom die helde van Spioenkop so ‘n entoesiastiese reaksie by hom uitgelok het. Die omie reageer teleurgesteld. “Helde van Spioenkop? Ek dag jy seg: ‘Te hel met die spietkops!’”
Maar so ‘n te-hel-met-die-spietkops-gesindheid takseer sy as uitdagend. Ten einde laaste kom sy met ‘n dodelike argument: ek gaan my boete gaan kry wanneer die motor geparkeer staan en ek nie teenwoordig is om die bak met my “bewysstukke” triomfantlik oop te maak nie. Da-da-da-da….
Daardie scenario wek twyfel in my gemoed. Toe boor sy in met ‘n deurslaggewende voorbode. “Jy sal van vooraf moet begin vertoë rig. Jy sal weer briewe skryf waarop jy geen antwoord gaan kry nie. Jy gaan bel, bel en weer bel om jou storie te verduidelik aan mense wat nie die vaagste begrip of belangstelling het in wat jy hulle probeer wysmaak nie. Jy gaan gedagvaar word. Jy sal dalk honderde kilometer moet ry om op een of ander Godverlate plekkie in die beskuldigdebank te gaan staan.”
Nadat ek daaroor geslaap het – drie, vier, vyf rustelose nagte – besluit ek sy is nie altyd verkeerd nie. Die pyn van die “te groot” nommerplate kan geweldig word. Die status van “voortvlugtige misdadiger” is aan die einde van die dag (soos Naas sê) eenvoudig ‘n te swaar las om te dra.
Een oggend toe ek wakker word, is my eerste woorde: “Het jy plakgoed?”
Sy bied aan om dadelik na brekfis te gaan koop. Kort daarna word my TY 24 WP vervang met die kleiner weergawe. Dié spog ewe breed met die amptelike stempel van daardie Wes-Kaapse magte en owerhede wat so toegewyd oor so ‘n lewensbelangrike saak soos die grootte van nommerplate bly waak.
Op die foto is die vervanging vir die nageslag digitaal verewig.
Hulde aan die helde van Spioenkop? Hel, mens, toe wen die spietkops!
Comments