top of page
  • Uitmelkbos

WYSE MANNE, MAAGDE EN PIEPIEBREEK

Net maagde sal weet hoe waar dit is. Ek het nogal geglimlag toe ek ‘n keer in ‘n gemeentekoerantjie lees van die klein meisietjie, moeg gerepeteer aan ‘n Kersspel. Sy kla toe by haar ma: “Mamma, dis harde werk om ‘n maagd te wees.”

Ons leef in die seisoen van Kersspelle – ook die ou heel kleintjies neem ywerig deel.

Uit George rapporteer ons skoondogter, Mariza, van die meisietjie wat in een so ‘n spel die rol van herbergier vertolk het.

In ‘n stadium verloor sy volledig belangstelling in die doen en late op die verhoog, storm eenkanttoe, sprei haar hande wanhopig omhoog en roep pleitend: “Mamma, ek wil piepie.”

Die juffrou probeer paai, maar die kind bly haar behoefte uitkreet.

Mamma het amper agter in die saaltjie gesit. Sy storm vorentoe, gryp die knypende “herbergier” en verdwyn met haar in die arms by ‘n sydeur uit.

Na ‘n paar minute keer hulle terug, glimlag van verligting op die “herbergier” se gesiggie.

Die Kersspel het intussen tot stilstand gekom vir die piepie- breek. Sy val egter dadelik weer in, en alles gaan voort asof daar geen onderbreking was nie.

Maar as n mens wil piepie wil jy piepie – herbergier of wie ookal!

Naskrif: Vaagweg onthou ek iets van ‘n ander Kersspelstorie waar die geografiese verskil tussen die Bybelse Betlehem en die Vrystaatse Bethlehem (met ‘n h) ter sprake gekom het. Kom ons maak dit ‘n sproetgesig-seuntjie hierdie keer, wat toe vol selfvertroue verklaar: die Kersgebeurde het hulle in die ander Betlehem afgespeel omdat hulle in die Vrystaatse Bethlehem nie drie wyse manne kon kry nie!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page