top of page
  • Uitmelkbos

WYSE MAN MET `N SNOR


“Jingle Bells”  en  “White Christmas” klink weer op in elke winkelsentrum. Dit gebeur elke jaar hierdie tyd van taamlik lank voor Kersfees af.

Op die patroon van herhalings in die Kerstyd (deesdae blykbaar, volgens die kaartjies wat ons ontvang, al hoe meer net bekend as die “Holiday Season”)   herhaal ek graag my storie van twee jaar gelede waarin die geografiese verskil tussen die Bybelse Betlehem en die Vrystaatse Bethlehem (met ‘n h) ter sprake kom.

’n Sproetgesig-haasbekkie, self  ‘n wyse man in ‘n Kersspel, verklaar vol selfvertroue: die Kersgebeurde het hulle in die ander Betlehem (sonder ‘n h) afgespeel omdat hulle in die Vrystaatse Bethlehem nie drie wyse manne kon kry nie!

Vanjaar het daardie storie vir die uwe meer relevansie. Eie kleinseun, Christopher Claassens (3),  was by sy speelskooltjie  ‘n trotse wyse man. Kompleet met mantel, Russiese hoed en ‘n potloodsnor “soos Oupa”. Daarin het ek ‘n verskuilde pluimpie gelees: Oupa/snor/wyse man – verstaan jy?  

Duideliker kan ek tog nie die konnotasie uitspel nie (‘n mens is darem nie so verwaand nie!).

Wyse manne is nie werklik tot die Ooste beperk nie. Seuntjies van Amazimtoti tot Zastron draf  in Kersspelle  as wyse manne op.  Plek-plek is selfs ‘n Herodessie.  Meisietjies staan tou vir die rol van Maria. Nie my skuld dat daar nie wyse vroue in die Bybelstorie is nie.    

Moes glimlag toe ek ‘n keer in ‘n gemeentekoerantjie lees van die klein Mariatjie, moeg gerepeteer aan ‘n Kersspel. Sy kla toe by haar ma: “Mamma, dis harde werk om ‘n maagd te wees.”

Net maagde sal werklik weet hoe swaar dit is om teen alle aanslae in hul status te handhaaf.

 Uit George rapporteer ons skoondogter, Mariza, van die meisietjie  wat in een so ‘n spel die rol van herbergier vertolk het. In ‘n stadium verloor sy volledig belangstelling in die doen en late op die verhoog, storm eenkant toe, sprei haar hande wanhopig omhoog  en roep pleitend: “Mamma, ek wil piepie.”

Die juffrou probeer paai, maar die kind bly haar behoefte uitkreet. Mamma het amper agter in die saaltjie gesit. Sy storm vorentoe, gryp die knypende  “herbergier” en verdwyn met haar in die arms  by ‘n sydeur uit.

Na ‘n paar minute keer hulle terug, glimlag van verligting op die “herbergier” se gesiggie. Die Kersspel het tot stilstand gekom vir die piepie- breek. Sy val egter dadelik weer in, en alles gaan voort asof daar geen onderbreking was nie.

 Maar as n mens wil piepie wil jy piepie – herbergier of wie ookal!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comentarios


bottom of page